Eeufeesviering van Voortrekkers in die Vrystaat

Die Saaimonument.

’n Eeu van Voortrekkerwees in die Vrystaat is Saterdag met die onthulling van ’n splinternuwe vrouebeeld by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein gevier.

Die Saai-monument, wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aan die Voortrekkers geskenk is om hierdie groot mylpaal te vier, stel ’n Afrikanervrou voor met ’n emmer in haar hand gevul met saad. Met haar ander hand saai sy die saad. Haar bolyf van brons is in graniet geset. Jacques Müller is die beeldhouer.

Die Saaimonument.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê sonder die kulturele dienswerk van ontelbare volwassenes en jeuglede oor dekades heen is die Voortrekkers niks nie.

“Die kultuurstorie van die Voortrekkers wat nou reeds vir 100 jaar in die Vrystaat geskryf word, is ’n verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf. Geboue, spankamers en kampterreine het deur harde werk en innoverende denke tot spogprodukte ontwikkel.

“Dit is ’n storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk. Dit is ’n storie van betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike gemeenskappe. Dit is ’n storie van deursettingsvermoë, toewyding en opoffering. Dit is ’n storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar. Die Voortrekkerstorie vertel ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en hoëfunksieprestasies.”

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, en Coba Schabort (103).

Die 103-jarige Coba Schabort, wat die onthullingseremonie bygewoon het, is in 1931 as Voortrekker ingelyf. Sy het die Vader Visser-toekenning vir Diensbaarheid ontvang en ook die 100-jaar-feesfakkel aangesteek.

Langner het die Hoofleierstoekenning aan die Werk-en-Wen-kommando vir sy 100ste bestaansjaar en ’n eeu van kulturele dienswerk oorhandig. Josias Swanepoel is vir 75 jaar getroue diens vereer en toekennings is ook aan vyf Presidentsverkenners oorhandig.

Die monument gaan gepaard met ’n bord waarop staan:

“Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Almal van ons het ons wapens afgegee. Ons moes ’n briefie onderteken waarin ons koning Edward as ons wettige Soewerein erken. Maar ons moenie treur soos een wat geen hoop het nie. Ons moet glo en hoop en vertrou. Ons besit tans vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.” Brief geskryf op 4 Augustus 1902.

Die Voortrekkers is gebore uit die geloof, hoop en liefde van kinders wat die konsentrasiekampe oorleef het. Hulle het wilskrag, kultuurtrots en die reg op voortbestaan in die karakter van hulle nageslag gesaai.

Die Saaimonument is op 10 Oktober by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein onthul. Die nuwe monument, gemaak deur die beeldhouer Jacques Müller, is deur die FAK aan die Voortrekkers Vrystaat geskenk ter viering van hulle 100 jarige bestaansjaar.

Saai vir ons liefde,
saai vir ons geloof,
saai vir ons uitnemendheid en hoop.

Saai vir ons woorde,
saai vir ons taal,
saai Afrikaans telkemaal.

Regterarm uitgestrek,
stort sy die taal,
stort sy die drome
in die toekoms van môre.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaana ·

Iets positiefs en mooi vir n slag.. Lekker om te sien daar is nog mooi in ons land

Jaco ·

Saai nou en wanneer oestyd aanbreek, word jou gesaaide grond sonder vergoeding onteien.
Ons moet nou eerder vir 2 goed met die ANC beding en hoop ons kry 1 daarvan:
1. ‘n wit tuisland in die Wes-Kaap waarheen alle wit mense gedwing word om te verhuis. Basies dus gedwonge verskuiwings soos in die apartheidsjare. Straf die wit mense vir apartheid met apartheid. Dit sal net die 1ste 5 jaar swaar gaan. Daarna sal die Wes-Kaap floreer soos wat Macao en Hong Kong in China floreer. Dié 2 stede is mos maar basies selfregerende “tuislande”
2. Deporteer al die wit mense na Europa, Amerika, Kanada en Australië. Stempel in elke wit mens se paspoort “return to South Africa prohibited for this passport holder”. Dan is daardie lande gedwing om ons in te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.