Egpaar neem 80 kinders onder hul vlerk

Foto bloot ter illustrasie (Foto: Irina Murza/Unsplash)

Eintlik is die Wagner-egpaar “sommer net ʼn ma en pa met baie kinders”, vertel Gertruida in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Werner en Gertruida Wagner het sowat tien jaar gelede ʼn veilige hawe vir hulpbehoewende kinders begin, en deur die jare is sowat 80 kinders al by hulle huis, in die Brits-gemeenskap as Cornerstone bekend, ingeneem en versorg.

“Ons albei se harte is baie sag, en wanneer ons iemand sien wat swaarkry of seer het, wil ons gewoonlik dadelik uitreik en hulp aanbied,” vertel Gertruida.

Mettertyd het Werner en Gertruida egter besef dat hulle nog hande benodig, en vandag is Sewes Engelbrecht en Anton en Anoesjka Jansen ook deel van die span by Cornerstone.

Werner en Gertruida het een dogter, en twee aangenome kinders, maar hulle 13 slaapkamerhuis is ʼn veilige hawe vir tientalle ander kinders, tussen twee en 18 jaar.

Johan Scholtz by Cornerstone se Valentynsbal. (Foto: Verskaf)

Wanneer die donderweer swaar is, of die huis in donker gehul is, skroom die Wagners nie om hulle bed te verlaat en saam met die kroos in die sitkamer te gaan slaap waar almal veilig voel nie.

“Ons wil nooit ophou om ʼn verskil in kinders se lewens te maak nie. Dit is ongelooflik om elke dag te ervaar hoe jy deur jou versorging en omgee ʼn bydrae lewer.

“Ja, nie almal van hulle kom dalk waar jy graag sou wou hê hulle moet nie, maar elke keer wat een van hulle ons huis verlaat, moet ons dit in God se hande laat en vertrou dat Hy in beheer is. Net soos wat hy hulle na ons toe gelei het, moet ons vertrou dat God ook verder saam met hulle stap,” vertel Gertruida.

Volgens Gertruida streef hulle daarna om kinders met ʼn Bybels-georiënteerde ingesteldheid groot te maak, sodat hulle met ʼn sterk morele kompas ook ʼn positiewe bydrae tot die gemeenskap kan lewer.

Cornerstone vier vanjaar ʼn dekade van omgee, en dit sou nie sonder ondersteuning van die gemeenskap kon voortgaan nie.

Adam Tas het gaste by Cornerstone se Valentynsbal vermaak. (Foto: Verskaf)

“Die mense in die omgewing is geweldig goed vir ons. Van die boer wat vleis, melk of groente skenk, tot die inwoner wat aan die begin van die jaar kom skoolboeke oplaai om te help oortrek,” vertel Gertruida.

Toe Cornerstone besluit het om hulle tiende bestaansjaar met ʼn glansgeleentheid in die vorm van ʼn Valentynsbal te vier, het die gemeenskap ook nie gehuiwer om hulp aan te bied en daarvan ʼn reusesukses te maak nie.

Elize Kotze het as seremoniemeester vir die program opgetree, Adam Tas het die gaste vermaak, en items soos Erik Holm-kunswerke, skilderye, lugballonritte en wegbreeknaweke is opgeveil met die doel om geld in te samel.

“My hart loop oor van dankbaarheid. Ek was weereens verstom oor hoe mense steeds te midde van moeilike tye bereid is om ons te ondersteun.

“Ons is verheug oor elke lid uit die gemeenskap wat kom help het, en almal wat kos voorsien het. Ons is natuurlik ook onsettend dankbaar vir elke persoon wat ʼn kaartjie gekoop en saam kom kuier het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Julle is besonderse mense en ek glo dat elke kind wat in en uit by julle huis beweeg gelukkig is. Daar is min mense wat soveel omgee in hulle harte het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.