Entrepreneur van die Jaar-kompetisie: Hier is die wenners

Entrepreneurs, organiseerders en beoordelaars in 2021 se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Elzabeth van der Bijl en Alita du Plessis is onderskeidelik as wenners van AfriForum Sakenetwerk en Akademia se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangewys.

Van der Bijl, die eienaar van Fynbos, is die wenner in die kategorie vir entrepreneurs wat tussen een en sewe jaar handeldryf. Fynbos is ʼn unieke boetiek met takke in George en Durbanville en danksy Van der Bijl se dryfkrag en vermoë om geleenthede raak te sien, het sy in ʼn kort tydperk reeds baie vermag.

“My ouma is die groot inspirasie agter Fynbos,” vertel Van der Bijl. “Sy het my altyd geleer dat mode nie altyd mooi is nie, maar mooi is altyd mode.”

Du Plessis van Purple Carrot, ʼn juwelereeks van vlekvryestaal, het in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf, gewen.

“Ek het my onderneming begin omdat ek vir alle ander metale allergies was en na ander opsies begin kyk het,” sê Du Plessis. Sy het agente landwyd en haar mededingende voordeel is ook dat haar produk bekostigbaar is.

Die finaliste en beoordelaars is tydens die eindronde ook gevra om ʼn wenner in die kategorie vir netwerker van formaat te kies. Michelle Britz van Michelle se Kombuis in Ficksburg het dié eer te beurt geval. Sy vertel dat sy tydens die droogte begin kook het vir ʼn bykomende inkomste en kort voor lank was haar produk al hoe meer in aanvraag.

Voor is Alita du Plessis (eienaar van Purple Carrot), Michelle Britz (Michelle se Kombuis; netwerker van formaat-toekenning), en Elzabeth van der Bijl (eienaar van Fynbos). Agter is Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, en Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum. (Foto: Verskaf)

Die wenners van die kompetisie is op 26 en 27 Oktober by Mongena-wildsplaas buite Pretoria bekendgemaak. Die geleentheid is in samewerking met Pretoria FM, Steyn IP en Bok Radio aangebied.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is die kompetisie uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. Wenners se produk of diens kry blootstelling op verskillende sosialemediaplatforms, asook op nuusplatforms soos Pretoria FM, Nuuspod, Forum Nuus en in Forum Tydskrif.

“Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees.” Sy voeg by dat die finaliste in vanjaar se kompetisie bewys het dat hulle ondanks Covid-19-uitdagings en danksy hul harde werk steeds die vrugte van hulle arbeid kon pluk.

Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ʼn trotse vennoot is van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar groei en verbeter.

“Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ʼn publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang. Ons sien uit om die kompetisie volgende jaar verder uit te bou en kennis te maak met nog entrepreneurs wat ʼn verskil in hulle gemeenskappe maak.”

Voor van links is Sanderien van der Walt, dr. Rachel Maritz, Marita Bezuidenhout, Minette van der Walt, en Alana Bailey. Agter van links is Jaco Gerrits, Henk Schalekamp, Chris du Plessis, Nilo Thiart en Divan Botha. (Foto: Verskaf)

Jaco Gerrits, internasionaal bekroonde tegnologiese entrepreneur; Divan Botha, mede-eienaar van The Wippet in Linden en aanbieder van Winslyn op kykNET; Minette van der Walt, inhoudsregisseur van onder meer Winslyn; Nilo Thiart, uitvoerende direkteur by onder meer Kwikstert, en Marita Bezuidenhout, eienaar van Magies vol Liefde en Entrepreneur van die Jaar-wenner in 2019, het die kategorie beoordeel vir entrepreneurs wat tussen een en sewe jaar handeldryf.

Beoordelaars in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf was dr. Rachel Maritz, dekaan by die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe by Akademia; Henk Schalekamp, gemeenskapsentrepreneur en uitvoerende hoof van Kanton, en Chris du Plessis, konsultant, finansiële adviseur, boer en sakeman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakes ·

Baie geluk aan almal. Nogal merkwaardig om te sien wie hierdie pragtige mense is en dat hulle ons ekonomie se toekoms is.

Johanna ·

Baie geluk dames, n Wenner sien geleenthede raak en vat die kans. Sterkte vir julle toekoms. .
Gaan vir Goud maar bly altyd nederig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.