[Foto’s] Agtjarige red hond uit puttoilet

Die hond, Sue, soos die skuiling haar gedoop het, kort nog ʼn huis. Haar babatjie, Nitro, is reeds aangeneem. Foto: Verskaf

Die hond, Sue, soos die skuiling haar gedoop het, kort nog ʼn huis. Haar babatjie, Nitro, is reeds aangeneem. Foto: Verskaf

Jamie Faul, ʼn agtjarige seun van Komatipoort in Mpumalanga, het vroeg vanjaar ʼn hond uit ʼn puttoilet in Tonga, ʼn informele nedersetting naby Komatipoort gered.

Jamie se ma, Irene, sê hulle help gereeld diere in die omgewing aangesien Komatipoort nie ʼn DBV het nie. “Barberton se DBV help met sommige van ons klagtes, maar daar is soveel diere in nood, hulle kom nie altyd by ons uit nie.”

Irene het eers ander organisasies probeer bel vir hulp toe hulle van die hond in Tonga hoor, maar kon niemand in die hande kry nie. Sy sê die hond was in ʼn sementkamer onder die grond wat mense in Tonga as ʼn toilet gebruik. “Blykbaar het die hond daar ingehardloop nadat sy met ander honde in die area baklei het. Die hond het ook ʼn kleintjie gehad wat by die gat sit en tjank het.”

Volgens Irene kon hulle nie by die hond uitkom nie omdat die hond vreeslik bang was. Hulle het ʼn stuk hoender in die gat gegooi om die hond nader te lok, maar sy wou nie beweeg nie. Hulle moes naderhand een van die toilette uitbreek, maar hulle kon steeds nie deur die gat kom nie.

“Ons het vir Jamie met ʼn klomp sakke toegebind, handskoene aangetrek en hom met ʼn tou vasgebind en vir hom ʼn lig gegee. Hy het eers gesukkel om die tou om die hond vas te kry omdat die hond nat en glad was – sy was reeds vir twee dae in die gat, maar Jamie het dit toe reggekry.”

Jamie sê hy was nie eintlik bang gewees nie, maar hy het lig geloop vir al die spinnekoppe. “Ek wou net die hond kry en seker maak sy is oukei.”

Irene sê hulle het vir Jamie en die hond probeer skoon skrop nadat hulle uit die gat gekom het, maar dat hulle dae later steeds bly stink het. “Die hond en haar kleintjie het die aand by ons gebly, maar die volgende dag het ons haar na ʼn skuiling in Nelspruit geneem.”

Dis blykbaar nie die eerste keer wat Jamie ʼn dier red nie en Irene sê hulle help gereeld diere, veral honde en katte wat in nood is. “Daar is nie ander mense om te help nie – dis hoekom ons dit doen. Jamie is mal daaroor, hy is vreeslik lief vir diere en die natuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m ·

ek wens regtig hierdie mense in die informele nedersettings wil ophou diere aanhou want hulle hierdie diere se ellende is iets vreesliks.

Janine ·

Jy skeer almal onder dieselfde kam. Baie van die mense in die plakkerskampe loop kilometers om hul diere by die veaarts te kry (sien gerus fotos op fb van die uitreike). Van kinders tot grootmense loop bitter ver om hul diere te laat kom inent ens. Jy sal geskok wees om te sien wat ander in gegoede areas met hul diere doen!

Antoinette ·

Baie dankie Irene en Jamie vir julle onbaatsugtige diens. Dis wonderlik om te hoor daar is nog sulke mense wat omgee.

Ben ·

Pragtig gedaan Jamie! Jy is ‘n absolute ster en ‘n regte agbare persoon. Nie veel “mense” sal deurmaak wat jy gedoen het nie. Jesus is lief vir jou en vreeslik trots ook en sal jou mildelik seën! Dankie vir wat jy gedoen het!

Gesiggie ·

Jy is voorwaar n held Jamie… well Done seun… dit moes baie verg om te doen wat jy het, om in n toilet gat in te gaan…. dit bewys net jou Liefde aan diere… jy gee nie om hoe gevaarlik, jy sal dit waag… jou dade sal raak gesien word… Irene jy en jou seun doen goeie werk… die mense van die omgewing kan Trots wees op mense soos jul… Dankie vir jul omgee..

Karma ·

JAMIE FOR PRESIDENT!!! Seunskind, baie dankie vir jou omgee en dan jy bereid was om in ‘n vuil, stinkende toiletgat vol ………. in te kruip om ‘n hond te red. Jy het meer waagmoed (en is baie kleiner) as ek!

Nou die kritiese vraag: 62% van diegene wat in die laaste nasionale verkiesings gestem het, het vir die ANC gestem. Om in SULKE omstandighede te leef??? Met net ‘n stinkende, verrottende gat in die grond om hul sanitêre (as mens dit so kan noem) besigheid af te handel? En Zuma sit (nie) in sy huis van R246 000 000.00 en sy cronies ook in huise van der-miljoene rande en julle sal WEER ANC gaan stem?

vera swart ·

Ek voorspel n blink toekoms vir die dapper en “caring” Jamie Faul.

Gert ·

Ou seun jy was baie dapper om dit te doen . en het n hart vir diere , mag GOD jou ryklik seen in jou lewe vorentoe .

Eliza-beth ·

Wat ‘n mooi “goed-voel” storie! Ek het baie respek vir heirdie mense wat hul deel vir weerlose doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.