Foto’s: Die reis van Racheltjie de Beer

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober 2019 in teaters begin draai.

Deur Matthys Boshoff (regisseur van Racheltjie de Beer)

Die Suid-Afrikaanse wildernis gedurende die 1800’s. Vyf jaar na hulle ma se dood reis Racheltjie ‒ wat op die drumpel van jeugjare staan ‒ en haar vyfjarige boetie, Jamie, saam met hulle pa na die Goudveld van die Hoëveld om ’n nuwe lewe te begin. Toe Jamie in ’n frats sneeustorm wegraak, durf Racheltjie die storm aan om haar broertjie te gaan soek.

Dit was vir my ’n groot verantwoordelikheid en eer om hierdie geliefde volksvertelling van Racheltjie de Beer vir die rolprentskerm aan te pas. Hierdie storie lê baie Suid-Afrikaners oor verskillende kulture heen na aan die hart en het as kind ’n groot indruk op my gemaak. Die treffende beeld van ’n jong meisie wat in ’n sneeustorm gedurende die nag verdwaal met ’n hulpelose kind in haar arms en wat dan die hoogste offer uit liefde bring, het my verbeelding aangegryp, maar my ook met vrees en bewondering gevul.

Hierdie persoonlike verbintenis met die storie was my vertrekpunt toe ek die rolprent begin maak het, ’n prent wat wissel van dreigende gevaar na dapperheid en liefde. Daar is al baie gedebatteer oor hoe waar die storie van Racheltjie de Beer is. Het Eugène Marais in die vroeë 1920’s die waarheid of fiksie neergepen? As ’n narratiewe rolprentmaker wat veral belangstel in die dramatiese kunsvorm, bly ek onpartydig in hierdie debat en verkies ek om op die waarheid in die storie te fokus en ondersoek in te stel na dit wat die storie vir ons oor die menslike natuur, spiritualiteit, gesinsdinamika, verlies, vergifnis en ’n nuwe begin leer.

Bo en behalwe die temas van mens versus die natuur en opoffering en liefde wat hierdie volksverhaal deurspek, ondersoek die rolprentverwerking die grootwordjare van ’n meisie wat op die drumpel van adolessensie staan en sonder ’n ma grootword, hoe sy vasgevang is tussen kindwees maar tog ’n volwassene vir haar broertjie moet wees. Haar eie oorgang na vrouwees vind plaas tydens ’n storm omdat die pa van die gebroke huishouding nie in staat is om vrede te maak met die dood van sy vrou nie. Ek hoop dat hierdie avontuur-drama wat die skoonheid en krag van die natuur ontgin, die gehore se asems sal wegslaan en dat die vasberadenheid van ’n jong meisie wat die dood in die gesig staar, hulle hartsnare sal roer.

Kom saam bioskoop toe!

Maroela Media bied jou die geleentheid om saam met ons die Pretoriase première van die langverwagte Racheltjie de Beer te kom kyk. Jou kaartjie na die eksklusiewe Maroela-première bied jou die geleentheid om saam met Maroela Media oor ʼn glasie wyn te kuier, saam peuselhappies te geniet voor die fliek begin, sowel as die geleentheid om op die rooi tapyt ʼn foto saam met die akteurs te neem.

Prys: R130 pp
Waar: Nu Metro VIP Parkview (Garsfonteinweg)
Wanneer: Donderdag 10 Oktober 2019
Tyd: 19:00 vir 19:45
Kry jou kaartjies nou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LHS ·

Ek dink min mense is bewus van die feit dat navorsing wat gedoen is uitgewys het dat n sodanige insident wel plaasgevind en wyd oor berig in die Amerikaanse koerante van daardie tyd en dat die verhaal n paar maande daarna in SA na vore gekom het as die verhaaltjie soos wat ons dit ken. Marais het verseker met n aangepaste weergawe na vore gekom.

In my hart sal ek dra ·

Of dit ‘n ware verhaal is of ‘n sprokie maak nie saak nie. Die belangrikste is dat veral ons jeug hulle moet kan identifiseer met die dieper boodskap van opofferende liefde en dapperheid – iets wat ons Volk baie nodig het.
Ander Volke vereer hul helde – sommige seker ook Volkslegendes. Gun die Afrikaner ook sy Helde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.