Foto’s: Kleurryke kunswerke lig kindergemoedere tydens koronakrisis

Kinders wêreldwyd hou hulself besig met kunswerke om die tyd en vrese te verdryf tydens sosiale distansiëring. (Foto: Facebook/Easter Egg Hunt 2020 with Social Distancing)

Wêreldwyd word ouers genoop om met nuwe kreatiewe idees vorendag te kom om woelwaters besig te hou en hulle vrese tydens die Covid-19-krisis te verdryf.

Char Baumann Pardely, ʼn ma van Alberta, Kanada, het ook ʼn plan beraam om haar kinders se verveling hok te slaan gedurende die sosiale distansiëringstydperk wat onlangs deur die eerste minister, Justin Trudeau, in dié land ingestel is, deur ʼn Facebook-blad getiteld Easter Egg Hunt 2020 with Social Distancing te skep.

Dié blad nooi mense wêreldwyd uit om kunswerke met ʼn Paasfees-tema te maak en teen hul voordeure te hang sodat ander kinders in die buurt daarna kan soek en foto’s daarvan kan neem tydens uitstappies vir vars lug. Sodoende kan hulle steeds deel in die pret van ʼn Paaseier-resies (Easter egg hunt) sonder om met ander mense in aanraking te kom.

Die blad het tans sowat 101 000 volgelinge wat daagliks kreatiewe idees en wenke vir kunsprojekte vir kinders uitruil. Die administrateurs van die blad heg ook aflaaibare lêers aan met idees en patrone vir kunsprojekte.

Mense vanuit onder meer Kanada, die VSA, Brittanje, Australië, Skotland, Suid-Afrika, Ierland, Duitsland, Italië, Nieu-Seeland, Meksiko en selfs tot by die koue deelstaat Alaska het sedert 17 Maart by dié blad aangesluit.

En daar word behoorlik gespog met hul kinders se kreatiwiteit: Van vensters wat sorgvuldig met maskeerband uitgelê en geverf word met kruise in kleurryke patrone en eiers wat met allerlei kleure en prentjies versier word tot baniere met woorde van bemoediging vir bure tydens die krisistydperk en selfs Disney-prentjies wat ingekleur is.

‘n Italiaanse dogtertjie spog met haar kunswerk tydens die algehele afsonderingstydperk in dié land. (Foto: Facebook/Tutto ándra bene)

In Italië, waar bykans 7 000 mense reeds gesterf het aan die koronavirus en derduisende nog siek is, staan dié beweging bekend as “andra tutto bene”, wat beteken “alles gaan reg wees” (“everything will be okay”).

Dié Europese land is ook al ʼn geruime tyd in afsondering geplaas en kinders en hulle ouers maak ook kunswerke en baniere met bemoedigende frases om solidariteit te toon, die moreel te lig en ʼn boodskap van hoop te versprei.

ʼn Reënboog word ook as simbool van hoop op elke banier geverf saam met die hutsmerk #lorestoacasa (“ek bly tuis”). Video’s van bure in Italië wat uit hul huise se vensters saamsing, is ook baie gewild op sosiale media.

Intussen word daar op eie bodem soortgelyke inisiatiewe van stapel gestuur om mense se moreel tydens die korona-krisistyd te lig. Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag algehele afsondering van 21 dae vir Suid-Afrikaners aangekondig, wat op 26 Maart om 23:59 in werking tree.

Odette Miller, inwoner van Midstream Estate in Midrand, vertel sy het genoop gevoel om self dié inisiatief in hul landgoed van stapel te stuur nadat sy die Easter Egg Hunt 2020 with Social Distancing-blad op Facebook gesien het.

“My agtjarige seuntjie, Daniel, het kort ná die skole gesluit het weens die Covid-19-uitbreking, een aand vreeslik by my gehuil oor die virus. Hy het vir my gesê hy is bang en dat hy nie die virus wil opdoen nie,” vertel Miller emosioneel.

Dis toe dat sy besef het sy moet iets doen om haar kinders se vrese hok te slaan. “Ek het vir hom gesê hy hoef nie bekommerd te wees nie, mamma en pappa sal hulle beskerm. ʼn Dag of twee daarna het ek die blad gesien op Facebook en gedink dit is oulik.”

Sy het op elke Facebook-groep denkbaar mense aangemoedig om saam met haar gesin reënboë te verf en teen die mure of vensters van hul huise uit te stal vir die bure om te sien.

Odette Miller van Midstream Estate se seun, Daniel, spog met sy reënboogkunswerk. (Foto: Verskaf)

“Ek het gedink dit is so ʼn mooi inisiatief, veral vir kinders. As volwassenes is ons so gefokus op die paniek en die negatiewe dat ons nie besef hoe ons kinders die stres en emosies waarneem en beleef nie. Ek het gevoel dié inisiatief sal die kinders troos; ek moet sê, dit werk!”

Miller vertel sy kry elke dag boodskappe van ander mammas wat ook die projek saam met hul kinders aangepak het. “Die hele wêreld gaan saam tans deur ʼn storm. Maar ons sal daardeur kom. En aan die einde daarvan sal daar ʼn reënboog wees, net soos met elke ander storm,” sê Miller.

Volgens dr. Jerrie Bezuidenhout, sielkundige van die Vista-kliniek, is dit belangrik om mense se moreel te lig tydens ʼn krisistydperk en om kreatiwiteit vir hierdie doel in te span hou voordele vir kinders in op twee verskillende vlakke.

“Eerstens, deur kreatief te wees, bring ons speelelemente terug in die alledaagse lewe. Wanneer kinders speel, voel hulle dat hulle in voeling bly met ander mense, al maak hulle nie direk kontak nie,” verduidelik hy.

Kreatiwiteit laat kinders ook toe om te ontvlug uit die volwasse wêreld, terug na die onskuld van kindwees. “Kinders hoef nie bekommerd te wees oor die goed wat hulle op die radio hoor of op die televisie sien wanneer hulle kreatief is of speel nie.”

Dieselfde geld vir volwassenes, sê hy. “Wanneer jy kreatief is of speelaktiwiteite doen, maak jy gebruik van jou regterbrein. Dit is die deel van ons brein wat gebruik word vir probleemoplossing. Speel en lag laat ons ook voel asof ons ʼn verbintenis met mense het en sodoende verbreek dit die gevoel van isolasie,” sê Bezuidenhout.

  • As jy ʼn soortgelyke inisiatief in jou buurt opmerk, laat weet ons gerus! Stuur jou foto’s na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.