Foto’s: Leerders se matriekafskeiddrome bewaarheid

Van links na regs: Jan-Hendrik Fourie, Rachel Marcus, Rouchelle Liedemann, Chandré Munnik van Hoërskool Tygerberg, Jo-Marie Schoeman en Anton Brink. (Foto: Jahk van Heerden/Verskaf)

Die Kaapse gemeenskapsradiostasie, Radio Tygerberg, het ter viering van sy 30ste bestaansjaar ses behoeftige matrikulante met ʼn matriekafskeid van hulle drome verras.

Luisteraars kon vooraf benoemings instuur van matriekleerlinge vir wie ʼn uitrusting vir die matriekafskeid ʼn onbekombare luukse is.

ʼn Paneel, wat bestaan uit die gebedsvriende van Radio Tygerberg, het deur sowat 200 inskrywings geswoeg om uiteindelik ses matrikulante te identifiseer wat elkeen met onder meer ʼn rok of pak, skoene, hare, grimering en ook die kaartjie na die matriekafskeid bederf is.

Die stasie het met die oog op sy 30ste bestaansjaar besluit om 30 verskillende liefdadigheidsprojekte aan te pak, sê Jan-Hendrik Fourie, bemarkings- en projekbestuurder by Radio Tygerberg.

“Ons het met hierdie projek spesifiek gefokus op hoërskoolleerders. Iets wat mense nie altyd as ʼn noodsaaklikheid sien nie, maar wat vir die leerders self uiters belangrik is, is die matriekafskeid.

“Ons het regtig gefokus op uitblinkers wat ongelooflik goed vaar op skool, maar wat werklik nie die finansiële vermoë het om ʼn luuksheid soos ʼn matriekafskeid by te woon nie.”

Van die skole waar Radio Tygerberg se span ʼn draai gemaak het, sluit in die Hoërskool John Ramsay, Bernadino Heights Sekondêr, Kleinvlei Sekondêr en die Hoërskool Tygerberg.

Vir die wenners het die vreugdevure hoog gebrand.

Van links na regs: Siwaphiwe Kweyama-Mdodana, Rouchelle Liedemann, Keagan Klaase van Kleinvallei Secondary, Brandon van der Vyver en Theresa Jones. (Foto: Jan-Hendrik Fourie/Verskaf)

“Ek kan dit nie glo nie. Ek het regtig nie gedink ek sou ooit my matriekafskeid kon bywoon nie,” het Chandré Munnik van Hoërskool Tygerberg gesê ná sy as ʼn wenner aangewys is.

Ook Bongiwe Sophie, een van Bernadino Heights se topleerders, sou haar matriekafskeid moes misloop voordat Radio Tygerberg ingegryp het.

“Ons is dankbaar vir ons borge en ook luisteraars wat bydraes gelewer het,” sê Rouchelle Liedemann, omroeper en projekkoördineerder by Radio Tygerberg, wat aan die stuur van die Matriekafskeid-projek gestaan het.

“Ons hoop die herinneringe wat die matrieks gaan bou, sal veroorsaak dat hulle ook vorentoe na geleenthede sal soek om uit te reik en goed vir ander te wees.”

Liedemann bedank borge insluitend Just dress it up, Make up by Jasmine, B Styled SA en skoene deur The World Focus Group.

“Dit raak ʼn mens se hart as jy sien hoe baie die matrieks dit waardeer. Ons besef ouers kry swaar en moet sente omdraai. Met dié projek wou ons die las verlig en wys dat ons regtig omgee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.