Foto’s: Nostalgie, trane en hupse gryses by Buitebioskoop

Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)

Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)

Met bykans 1 500 Afrikaanssprekendes wat die afgelope Saterdag hul piekniekkomberse oopgegooi en mandjies uitgepak het om onder die volmaan by die Pretoria Botaniese Tuin te fliek, was Maroela Media en attooh! se tweede Buitebioskoop, die boetie van die destydse inryteater, weer vanjaar ʼn dawerende sukses. Besoekers het reeds vanaf 14:00 by die hekke van dié fliekpiekniek ingestroom om met musiek, bekendes uit die filmbedryf en drie topgehalte Afrikaanse films in die buitelug te kom saamkuier.

Piekniekgangers was dit eens dat die reuse skerm, 14 m wyd en drie verdiepings hoog, saam met die lekker Afrikaanse karakter van die geleentheid meer as genoeg rede was om hulle te oortuig om die na-winterse koeligheid aan te durf.

Die musiekgroepe Meantime en 1925Band het besoekers met musiek vermaak voordat die Afrikaanse oorgeklankte weergawe van die film Heidi om 18:00 afgeskop het. Sy klink soos lente, wat Saterdag vir die eerste keer aan die publiek vertoon is, en Roepman is ook deur die loop van die aand vertoon.

Corlize Luttig, Amalia Uys en Henrietta Gryffenberg (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

Corlize Luttig, Amalia Uys en Henrietta Gryffenberg (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

Oor die omgewing was daar net een kwelpunt, het ʼn 80-jarige paartjie skertsend opgemerk: vanmeleë se motors in die inry het darem baie meer privaatheid gegee – “jy weet, vir die oomblikke wanneer ʼn ou se aandag van die skerm afdwaal.”

Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, sê die sukses van die Buitebioskoop word toegeskryf aan elkeen wat Afrikaans ondersteun. “Ons is in ons noppies en dankbaar vir die Maroela Media-gemeenskap wat saam kom kuier het en die geleentheid ondersteun het,” het sy gesê.

Lombaard meen funksies soos dié is eie aan die Afrikaanse kultuur. “Weens omstandighede buite mense se beheer is dit deesdae selde moontlik om op ʼn veilige plek in die buitelug saam te kuier. Terselfdertyd verlang mense terug na die nostalgie van die inryteater. Ons wil met die Buitebioskoop die virtuele Maroela Media-gemeenskap die geleentheid gee om net pret te hê en saam te kuier.”

ʼn Groot hoogtepunt van die dag was Maroela-toekennings wat aan die rolprentikone, Sallas de Jager en Regardt van den Bergh, oorhandig is.

Benne Fourie en Stiaan Smith (Foto: Maroela Media)

Bennie Fourie, Stiaan Smith en Corné van Rooyen (Foto: Maroela Media)

Lombaard het gesê die Maroela-span besef die sterk taal wat van tyd tot tyd in die tweede fliek, Sy klink soos lente, gebruik is, kon dalk ongemak skep, veral vir gesinne wat jonger kinders saamgebring het. “Ons vra om verskoning indien enigiemand aanstoot geneem het,” het sy verduidelik. “Ons wil egter ook noem dat dit belangrik is om die relevansie van dié taalgebruik binne die konteks van die storie te sien.”

Lombaard sê besoekers kan solank hul tande slyp vir die derde Buitebioskoop in 2017.

“Ons sal beslis volgende jaar weer dié geleentheid aanbied. Ons kry ook gereeld versoeke om ʼn fliekpiekniek in ander dorpe ook te hou. Dit is egter ʼn duur storie, wat nie uitvoerbaar is as ons nie borge soos attooh! aan boord het om die kostes te help dek nie. Indien ʼn geleentheid oor ons pad kom om ʼn buitebioskoop in ʼn ander dorp aan te bied en ons kan ʼn borg kry om dit te help realiseer, doen ons dit beslis,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dirk de Jongh ·

Dit was heerlik, ons sien uit na volgende jaar. Dankie Maroela Media en Attooh

Adri ·

Dit lyk nou regtig baie lekker en gesellig. Baie dankie vir dit wat julle vir Afrikaans doen

Jean ·

Klink wonderlik, al die lekker dinge het mense opgegee, wonder hoekom die goed stuk vir stuk verdwyn het, so bly dit is weer aan die gang, hoekom nie iets wat werk weer laat herleef nie?

George ·

Ons het ons piekniekkombse gevat en mandjie Ons was vroeg daar net na 3 en lekker naby voor gesit met ons komberse maar net voor dat die fliek begin kom sit skielik mense wat laat kom hulle stoele reg voor ons neer en gee nie die hel om of ons of ons kinders kan sien nie. Ons kinders moes toe ‘n ander plek soek om te gaan sit en fliek kyk. As jy kamp stoele vat kan jy maar net sowel gaan sit in die gewone fliek.

Landi Slatter ·

Dagsê George

Dankie vir jou terugvoer. Ons stuur dit deur aan die persone wat by die reëlings betrokke is om dit volgende jaar te oorweeg.

Ons hoop julle het lekker verder gefliek!

Groetnis
Landi nms Maroela Media

George ·

H Landi
Ja dit was regtig waar verder super lekker gewees ons almal het dit erg geniet. Ons het ‘n paar keer geloop en alles net so gelos waar ons gesit het en niemand het iets gevat nie en dit kry ‘n mens nie meer in vandag se lewe nie. Ons kon ook die kinders los en laat speel soos hulle lus het so veilig was die hele storie. Baie baie dankie vir ‘n lekker middag en aand.

Santjie stoof ·

Nou toe nou… hierdie een is n nuutjie (vir my) nie geweet nie, maar volgende keer sal ek seker maak ek is daar. Was dit op Maroela aangekondig of dalk Radio Pta.
Sal my oor op die grond hou.
Afrikaners is Plesierig Kreatief

Mons ·

Dit was ongelooflik lekker gewees. So dankbaar dat die weer saam gespeel het, alhoewel dit regtig baie koud begin raak het hier na Heidi. Gaan dit defnitief volgende jaar weer bywoon.

Elanie ·

Net jammer dat Klink soos lente glad nie ‘n goeie film was nie. Die gevloek was werklik nie vir enige goeie mens se ore bedoel nie en GLAD nie kinder vriendelik nie. My tiener dogter was so ontsteld oor die taal en suggestiewe opmerkings. Jammer as ek my geld kon terug vra sou ek. Hierdie keer het Maroela my teleurgestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.