Foto’s: Sanger van ‘Brannewynlippe’ verloof

Wikus Botma vra ja-woord (Foto: Select Musiek)

Presies 500 dae nadat Wikus Botma se paaie met Michaela Mallett sʼn gekruis het, het die sanger van die partytjietreffer Brannewynlippe, die jawoord gevra.

’n Kameraspan, ʼn helikopterrit en groot geheimhouding was deel van die okkasie.

“Ek het haar laat dink dat ons ’n vriend van my moet help om ’n promosievideo te skiet vir avontuurpakkette per helikopter vir paartjies. Dit is waar die video- en fotograaf inkom en sy het daarvoor geval.

“Ons het op ’n helikopterrit gegaan en toe ons afklim en in die hanger instap, het sy die hele setup gesien.

“Dit is hier waar ek toe die groot vraag gevra het,” het Botma vertel.

Albei het die goeie nuus en pragfoto’s op hul sosialemediaprofiele gedeel.

Die twee het tydens die inperkingstyd ontmoet toe Botma begin melkterte verkoop het om die beursie bietjie voller te maak.

Mallett het hom verras met haar yslike bestelling van 30 melkterte, wat sy eintlik net gekoop het omdat sy van Botma se musiek gehou het.

Dit is egter duidelik dat sy aan die einde van die dag van méér as net die kunstenaar se musiek gehou het.

Die sanger spits hom op sy musiekloopbaan toe en Mallett is toegewy aan haar loopbaan as veranderingsafrigter. Volgens die verliefde verloofdes komplementeer hul leefstyle mekaar goed.

“Ek het baie meer begin kyk na my gesondheid en fiksheid en ek kry dit darem al reg om Michaela meer van Afrikaanse musiek te laat hou. Ons ondersteun mekaar baie goed.”

Die twee hoop om op ʼn eiland soos Zanzibar of Mauritius te trou.

Kyk die verlowingsvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.