Gebed vir my moeder

(Foto: Kenny Krosky/Unsplash)

My ma se eerste alleen-Oujaarsaand het aangebreek, die eerste keer wat sy ʼn nuwe jaar sonder my pa moes betree. Ek het vir die Here gevra hoe sê ek vir my ma: “Gelukkige Nuwejaar” as ek weet sy is alles behalwe gelukkig, as ek weet sy wil nie hierdie nuwe jaar ingaan met die seer nog so rou na my pa se afsterwe skaars ʼn maand tevore nie.

Ek glo vas dat die Heilige Gees oor my was daardie aand toe ek in my binnekamer die oproep gemaak het. Ek onthou nog goed hoe die sjampanjebottels buite geklink het en hoe die vuurwerke in die verte die kamervenster se rame met sagte blitse opgehelder het. Ek onthou ook goed dit was voordat ek self ʼn moeder was.

Om die nuwe jaar in te bid, is nie vir my ʼn vreemde idee nie. Die heimwee van kindwees in die kerk lê steeds sag in my hart se gange; die kerkklokke wat lui soos ons ʼn nuwe jaar betree, hoor ek steeds luid in my verste onthou van kindsbeen in Secunda.

My ma sit ver, maar my hart is by haar. Ek soek haar naam op my foon, my liefdesnaam vir haar: Kielie. Ek lui, en ek vra: “Mamma, gaan lê op Mamma se bed. Ek wil vir Ma die nuwe jaar in bid… Ek wil oor elke gedeelte van Ma se liggaam bid, en soos ek bid, wil ek hê Mamma moet voel hoe die Here aan Mamma raak en dat Hy teenwoordig is in elke hoekie van Ma se bestaan.

Mamma se hare so sag soos die wind… Ek onthou die reuk as kind, die reuk van huis toe kom. Mag die Here elke haar op Ma se kop steeds tel en Mamma so goed bly ken en Ma vir Hom.

Mamma se gedagtes dwaal tans na donker plekke en dan na die liefdevolle herinneringe aan Ma se sielsgenoot. Mag die Here Ma se gedagtes seën en oophou vir Hom om in te werk sodat Ma se gedagtes kan omsit in dade – dade van gee en van roeping, dade van doen vir God.

Ek bid oor Ma se wange wat die eerste keer bloedrooi gebloos het vir Pappa. Mag Ma se onskuld en liefde nooit verdwyn nie. Ek vra vir die Here om vir Ma ʼn sagte soen op Mamma se lippe te gee soos Mamma altyd vir ons gee. Mag Hy die woorde wees wat Ma elke dag spreek, en mag die woorde liefde oor Ma se lippe laat vloei; mag dit digkuns wees vir Ma se Skepper.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Ma se skouers is dié van ʼn vrou wat al ʼn lang pad saam met Jesus stap. Mag Ma se skouers nooit die las van die lewe alleen dra nie, maar mag God Ma se las ligter maak en Ma se juk sag. Mag Ma altyd trots pronk en Ma se bors uitstoot oor ons drie dogters wat die Here vir Ma en Pa geleen het vir hierdie lewe op aarde.

Mag die hart in Ma se bors altyd klop vir Jesus en Ma se medemens. Mag die Here Ma se hart rustig maak, en mag Ma se hart altyd aan Hom behoort.

Ma se arms en hande het ons as kinders in liefde teen Ma se bors toegevou, soos net ʼn moeder s’n kan. As vrou mis ek steeds die oomblikke van klein-wees in my moeder se sagte arms, teen haar sagte bors. Mag Ma se hande eendag woltruitjies hekel vir Ma se kleinkinders. Mag Ma geseënd wees, sonder pyne en kwale soos daar waar ons as ongebore babas binne-in Ma gerus het, en mag ons ook eendag ons eie kinders dra en grootmaak soos Ma het.

Mag Ma se knieë altyd op die matjie langs Ma se bed bly. Soos in Dalmweg, Landman, Sablestraat, en nou in Swellendam. Mag Ma se knieë steeds die een gedeelte van Ma se liggaam bly wat Ma se hele liggaam aan God oorgee in gebed. Mag Ma se voete in Jesus se voetspore loop en mag Hy al Ma se paaie gelyk maak.

Laastens, mag Ma se siel rus vind by God en mag Hy altyd heers oor Ma se totale bestaan, mens-wees, mamma-wees, dogter-wees, vriendin-wees en vrou-wees.”

  • René Roux is adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.