Gemeenskap, Helena Hettema help om vir kinders ʼn tuiste te skep

(Foto: verskaf)

Die Gracia-kinderhuis in die noorde van Pretoria is nie bloot ’n dak oor hul 53 inwoners se koppe nie, dit is ’n huis propvol liefde, ondersteuning en omgee. Dié huis kry nie ʼn sent befondsing van die staat nie, en dis daarom dat die gemeenskap ingespring en help reël het aan ʼn kabaretvertoning deur Helena Hettema om fondse vir dié besonderse plek in te samel (koop jou kaartjie hier).

“Ons kinders word deur die hof hier geplaas,” het Anna-Marie Laubscher, hoof van bemarking en fondsinsameling van die kinderhuis, aan Maroela Media gesê.

“Kinders wat hier geplaas word, is weggeneem weens die omstandighede van hul ouerhuise. Die redes wissel van finansiële omstandighede, verwaarlosing tot mishandeling.”

Meisies en seuns tussen 5 en 18 jaar oud word by die Gracia-kinderhuis gehuisves. Daar is twee persele waarop die kinders bly, met meisies en seuns wat afsonderlik bly. Alhoewel daar tans 53 kinders by die kinderhuis gehuisves word, is daar plek vir meer as 80.

Stapelbeddens, elkeen netjies opgemaak in die mooiste pienk, blou of rooi, vul die kamers van dié kinderhuis. Elkeen versier met ’n pop, beer of karretjie.

Teen die kaste is skoolfoto’s en -sertifikate, en tydskrifuitknipsels van die huisbewoners se gunstelingrugbyspelers of popsterre geplak. Foto-plakmure van vriende en vriendinne is in die tienerkamers te sien, ’n skatkis vol herinneringe.

Kinders het ook toegang tot rekenaaropvoeding en ekstra leesklasse op die perseel.

Die kinders is by ’n paar verskillende skole in die noorde van Pretoria ingeskryf, met van hulle wat ook in skole vir kinders met spesiale behoeftes is.

“Ons het kinders wat by die skool presteer en uitblinkers in akademie en op die sportvelde is,” vertel Anna-Marie.

“Ons het kinders wat leiers in hul laerskole en hoërskole word, en ons is besonders trots op hulle.”

Daar is agt vroue wat in die huis as “mamma’s” bekendstaan. Dié vroue sorg elkeen vir ’n groepie kinders, maak seker dat huiswerk gedoen word, hou toesig tydens badtyd en versorg die kinders soos hul eie.

Finansiële nood en emosionele struikelblokke is iets waarmee die bestuur en werknemers van die kinderhuis goed vertroud is.

“Ons kry geen befondsing van die staat af nie, en ons is afhanklik van die publiek en vriende se skenkings.
“Alle dag tot dag uitgawes word ingevorder deur projekte wat ons hardloop, deur die publiek, vriende en familie wat ons ondersteun.”

Tog, met die hulp van die gemeenskap, hou hulle nie net kop bo water nie, hulle skep ’n huis wat skoon, netjies en vol liefde vir die kinders is.

“Die Here het ons geseën met die geleentheid om die kinders te help. Om die fondament se krake met liefde, omgee, respek en dissipline te vul. Ons kinders is ons toekoms, hulle moet al ons versorging, aandag en liefde kry.”

So kan jy help

Kabaretsangeres, Helena Hettema, tree op Saterdag 25 Februarie om 19:00 by die NG Magalieskruin-gemeente ten bate van Gracia-kinderhuis en die kerk op.

Kaartjies kan teen R100 elk hier aangeskaf word.

Vir meer inligting oor die Gracia-kinderhuis, besoek hulle webwerf of Facebook-bladsy, of stuur ’n e-pos na [email protected] of [email protected]. Om telefonies met die kinderhuis in kontak te kom, skakel 012 546 6681/4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.