Gerda Theron se reis terug na kuns

Kuns is Gerda Theron se terapie. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

In haar wildste drome het Gerda Theron nie gedink haar lewe sou soveel ompaaie neem voordat sy weer die verfkwas sou optel nie. Haar verhaal is weereens een wat getuig van die mag daarvan om positief te wees.

Gerda vertel dat in een van haar heel eerste rapporte haar juffrou genoem het dat sy ʼn baie kunstige kind is. “Dit was nog altyd vir my heerlik. Dit neem my na ʼn ander wêreld. Soms is ek so passievol en ander kere wil ek die skilderdoek stukkend steek as ek iets nie regkry nie, maar voor ek nou my passie kon uitleef het die lewe my baie geleer.”

Gerda het Jacques, die liefde van haar lewe, op die ouderdom van 16 ontmoet en hulle het geweet dat hulle hul lewens met mekaar gaan deel. Hulle was saam in Stellenberg op skool en Gerda het twee kunsvakke gehad. Hulle albei was ook mal oor sport. Ná skool is Jacques Stellenbosch toe om as wynmaker te studeer en Gerda is na die destydse Kaapse Tegnikon om modeontwerp te studeer. Na hul studies het Jacques in Rawsonville begin werk en Gerda het steeds by haar ouers gewoon omdat sy by die PEP-winkelgroep se hoofkantoor in die gehaltebeheerafdeling begin werk het.

Gerda in die hospitaal na ‘n vergroeisel so groot soos ‘n lemoen uit haar brein verwyder is. (Foto verskaf)

“Ons is kort daarna getroud en wou nie lank wag om met ʼn gesin te begin nie. Ons albei was mal oor kinders, maar dit is hier waar dinge begin moeilik raak het. Ons het drie miskrame gehad. Daarna het verskeie vrugbaarheidstoetse en -behandelings gevolg. Daarna, het alles net te veel geraak en het ons besluit dat ons liewer ʼn kindjie wou aanneem.”

So het die aannemingsproses begin.

Tussendeur alles, het Gerda ʼn aankoper geword by PEP, en baie gereis. Hulle het eendag gaan draf en daarna die oproep gekry wat hul lewens vir altyd sou verander.

“Procare het geskakel om te laat weet dat hulle die perfekte babatjie vir ons het, maar dit was ʼn tweeling. My hart klop nog steeds vinnig as ek daaraan dink. As ʼn mens aansoek doen moet jy ʼn profiel van jouself saamstel en daarin het ek gesê dat ek self een van ʼn tweeling is. Ons moes ʼn maand vir hulle wag, maar dit het soos ʼn ewigheid gevoel. Die dag wat hulle aan ons oorhandig is, was onwerklik. Ons kon nie glo dié babatjies is nou ons s’n nie.”

Drie maande na die aanneming, het Gerda uitgevind sy is swanger. Hulle het eers gewag om te kyk wat gebeur, maar die swangerskap het floreer.

“Op 21 Junie 2013 was ons ʼn gesin van vyf met drie seuntjies, 13 maande uit mekaar. Beide ondervindings was fantasties en ons voel baie bevoorreg dat ons beide kon beleef.”

Gerda dink dat daar talle vroue is wat met onvrugbaarheid worstel en te skaam is om daaroor te praat of net op moedverloor se vlakte sit.

Sy glo die enigste medisyne vir die probleem is om met iemand daaroor te praat – al is dit ʼn vriendin of selfs net ʼn kennis wat deur dieselfde as jy gaan.

Baie verhoudings word deur onvrugbaarheid gekelder.

“Ons lewens was lekker besig met die drie seuntjies. Ek het my werk vreeslik geniet. Ons het Wellington toe getrek ʼn jaar na ons troue, so die ryery Parow toe was vir my makliker. Ek het ook ʼn bietjie kuns gedoen as stokperdjie voordat ek kinders gehad het, maar toe ek drie seuntjies op doeke het, was daar geen tyd vir kuns en ʼn voltydse werk nie.”

Gerda vertel dat hulle baie Londen toe gereis het vir werk. Dit was tydens een van hierdie reise wat sy vir die eerste keer geluide begin hoor het. Sy het eers gedink dat dit van buite die hotelkamer kom, maar nadat sy opgestaan het om badkamer toe te gaan het sy besef dat die geluid haar agtervolg het en in haar oor was. Dit was die eerste teken dat iets verkeerd was. Sy het die geluide daarna gereeld gehoor en ongeveer ʼn maand later het sy duiselig begin voel.

“Ek is na al die dokters toe wat ek ken. Dit het ʼn jaar geneem vir die kardioloog om te bevestig dat dit neurologies is en so gou as moontlik by die neuroloog moes uitkom. Ek het hom gaan sien en ʼn MRI is geskeduleer vir drie dae later. Ek het nog die oggend werk toe gegaan en gedink ek gaan dit kanselleer omdat ek so baie het om te doen en ná ʼn jaar kon hulle nog nie die probleem opspoor nie. Gelukkig het ek gegaan.”

ʼn Uur na die MRI het die dokter geskakel omdat daar bevind is dat daar ʼn groeisel in haar brein is en dat al die inligting reeds aan die neurochirurg deurgegee is.

“Al wat ek van daardie foonoproep onthou, is dat die groeisel so groot soos ʼn lemoen is en dadelik verwyder moes word.” Die groeisel was nie kwaadaardig nie, maar omdat dit op die breinstam sit, was die dokter baie verbaas dat Gerda nog in staat was om normaal te funksioneer.

Gerda en haar gesin. (Foto verskaf)

Die operasie het ʼn maand later plaasgevind. “Ek ken nie iemand wat so iets deurgemaak het nie en het geen idee gehad waaroor dit alles gaan nie, maar toe ek wakker word, kon ek nie praat nie.”

Soos wat Gerda haar bewussyn herwin het, het sy besef haar regterkant is heeltemal verlam.

“My regteroog aan die kant van my kop waar hulle gesny het, was ook toe.

“Ek het eers gedink dit is net swelling, maar elke keer as hulle na die oog kom kyk het, was die uitdrukking op die mense se gesigte die van teleurstelling. Ek kon ook nie sluk nie.”

Sy onthou hoe die dokter voor die operasie gesê het hulle stuur pasiënte vir rehabilitasie indien dit nodig is. Gerda het nog gedink dit sal nie nodig wees nie want sy sal heeltemal reg wees.

“Ek is wel baie dankbaar dat ek wakker geword het en was steeds positief dat ek dit sal maak. Ek was vir tien dae in die hospitaal waarvan party dae beter was as ander. Daarna is ek na ʼn rehabilitasiesentrum gestuur in die Paarl waar ek vir vyf weke gebly het.”

Hier leer hulle jou weer kruip, dan stadig loop. Gerda prys die fantastiese werk wat hulle doen. Haar regterhand was heeltemal verlam en sy moes weer leer om dit te gebruik. “Tot vandag toe is my regterkant baie swakker as my linkerhand, maar jy moet leer om daarmee te werk – nie net fisies nie maar ook op ʼn emosionele manier. My hart gaan uit na mense wat deur dieselfde gaan en nie rehabilitasie kry nie. Daarsonder sou ek nie wees waar ek vandag is nie.”

Nadat sy ontslaan is, het haar ma by hulle kom woon om seker te maak dat Gerda weer reg kon funksioneer.

“Ek het steeds vir rehabilitasie gegaan en aanhou glo en positief bly. My bestuursvernuf moes ook eers weer goedgekeur word en ek kry my ma eintlik jammer, want sy is die een wat my moes neem vir bestuurslesse. Ek het soveel respek vir my ouers. Hulle was ʼn groot ondersteuning vir my. My ma is eers weer huis toe, toe ek self kon bestuur. My hele familie het my die heeltyd bygestaan en gehelp. My skoonfamilie en my eie twee sussies het my ook emosioneel baie ondersteun. Sonder my familie, sou die hele proses beslis moeiliker gewees het.”

Gerda sukkel vandag nog om te skryf. Haar oog het wel begin oopgaan, maar sy het aanvanklik dubbelvisie gehad. Van haar oogsenuwee is onomkeerbaar beskadig. Aan die begin het sy eers ʼn oogklappie gedra en nou dra sy ʼn bril waarvan die een lens van geblaasde glas is.

(Foto verskaf)

Skielik het Gerda weer meer tyd vir haarself gehad. “Ek het begin stap omdat dit vir my tot vandag toe moeilik is om my liggaam te aanvaar. Dit was ook die ideale tyd om weer te begin teken, alhoewel ek nie veel hoop gehad het nie, want dis vir my moeilik om te skryf.

“Tot my verbasing lyk dit toe heel mooi. Ek het ʼn paar ou skilderdoeke in die motorhuis gemaak en begin skilder. Ek kon nie glo hoe mooi dit was nie en boonop het dit binne vyf minute verkoop. Ek was in die sewende hemel.”

Van daardie dag af het dit nooit opgehou nie. Gerda doen dit spesifiek omdat dit goed is vir haar siel, en as sy iemand anders daarmee gelukkig kan maak nog te beter. “Ek glo dat elkeen van ons wat deur moeilike tye gaan boontoe kan streef. Jy hoef nie ʼn spesifieke talent te hê nie, al is dit net om met iemand te praat wat deur dieselfde gaan.”

Gerda skilder met akrielverf op skilderdoek of op haar eie gemaakte blokke, soms saam met pastel. Houtskool is ook ʼn gunsteling. Sy is mal oor aalwyne, proteas en Afrika-diere. Dit is ook vir haar heerlik om te eksperimenteer.

“Ek doen vingerverf en verf self my meubels. My kuns is my passie en ek raak verlore as ek eers begin. Kuns is my terapie, en deel van my herstel. Daar is niemand wat vir my meer beteken het deur dit alles as my man nie. Hy het alleen na die seuntjies gekyk, wat toe onderskeidelik ses en sewe jaar oud was. Sy liefde is oneindig.”

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.