Gesin vier 10 jaar oue wonderwerk wat seun red

Nuwan in die hospitaal ná die fratsongeluk. (Foto: verskaf)

Liezell Nel sal nooit die dag vergeet toe sy die lewelose lyfie van haar jongste seun, Nuwan, uit ʼn swembad moes red nie.

Dit was 18 Januarie 2014, en vandag, 10 jaar nadat Nuwan by die dood omgedraai het, is hy ʼn opgewekte seun wat hom nie laat afskrik van ʼn uitdaging nie.

“Alles het daardie dag in ons guns getel,” herroep Liezell die voorval. Nuwan sit langs sy ma, drink ʼn melkskommel en luister aandagtig na sy ma se oorvertelling van ʼn gebeurtenis wat sy lewe onherroeplik kon verander het.

“Nuwan het op 17 Januarie twee geword, en ons het sy verjaarsdagpartytjie die 18de gehou. Ná die partytjie, toe die meeste mense reeds huis toe is, het Nuwan en sy nefie, wat ook twee jaar oud was, met hul fietse rondom die swembad gery.

“Hulle het nie meer hul vlerkies aangehad nie, omdat hulle klaar geswem het, en nie gemaklik met die vlerkies kon fietsry nie. My twee ouer kinders en hul ouer nefie het nog geswem, so die net was ook nog nie terug op die swembad nie.”

Liezell wonder vandag nog of dit dalk die rede was waarom hulle nie gehoor het toe Nuwan in die swembad val nie. Sy onthou hoe sy in ʼn stadium omgedraai het, en die fietsie in die water sien dryf het, maar nie dadelik besef het dat dit Nuwan se fiets is nie.

Nietemin het sy nader gestap om die fiets uit die water te haal, toe Nuwan se nefie sê: “Fietsie … Nuwan.” Liezell onthou dat sy nie eens tyd gehad het om koud te word met die besef dat haar kind in die water geval het nie, sy het onmiddellik in die swembad gespring om Nuwan te red.

“Hy het ʼn blou swembroek aangehad, so dit was ook nie maklik om hom vinnig raak te sien nie,” onthou sy.

Nuwan se lyfie was leweloos, hy het nie meer asemgehaal nie en sy gesiggie was grys en lippe blou. Liezell se man, Francois, en haar sussie het dadelik begin om kardiopulmonêre resussitasie (CPR) toe te pas. Dit op sigself beskou die Nel-gesin as ʼn wonderwerk, aangesien Francois maar ʼn maand vantevore ʼn werksverpligte lewensreddingskursus bygewoon het.

Liezell was nog sopnat toe hulle met Nuwan in die motor spring om Unitas-hospitaal toe te jaag.

“Daar was geen rooi verkeersligte nie, almal het pad gegee en daar waar ons wel moes stilhou, was daar groot genoeg gapings dat ons kon jaag. Alles het in ons guns getel om Nuwan so gou moontlik by die hospitaal te kry.”

Klein Nuwan voor die voorval. (Foto: verskaf)

Nuwan het intussen weer begin asemhaal, en aangekom by die hospitaal, het die gesin hulle dadelik ongevalle toe gehaas. Tydens die ongevalle-ondersoek het Nuwan begin om sy bewussyn te herwin, en die dokters was verstom oor sy wonderbaarlike herstel.

“Hy was nog baie koud, die dokters het nie eens nodig gehad om ʼn foelie-kombers oor hom te sit nie.” Hoe kouer die lyf bly ná só ʼn voorval, hoe minder suurstof het hy nodig, verduidelik sy. Omdat Nuwan se lyf reeds so koud was, was dit nie nodig om sy liggaamstemperatuur verder af te bring of hom op suurstof te plaas nie.

Nuwan is oorgeplaas na die intensiewesorgeenheid, en het kort voor lank begin vra vir die opblaas-padda wat hy vir sy verjaarsdag gekry het. Hoewel mens sy herstel duidelik kon sien, was dit vir Liezell en Francois ongelooflik moeilik om hul seuntjie by die hospitaal te los daardie aand.

“Hy het koliek gehad as baba, en was baie ouer-vas. Hy was ook nie ʼn vriendelike baba nie,” onthou sy. Daardie aand het Liezell nie ʼn oog toegemaak nie. Dit was skaars vyfuur die volgende oggend, en sy en Francois was terug in die motor op pad hospitaal toe.

“Ek wou hom nie alleen laat wakker word nie.”

Liezell se bekommernis was egter verniet; Nuwan het alte vrolik lê en televisie kyk toe hulle daar aankom. Hy het selfs begin vra of hy weer kan gaan swem, en ʼn hele paar keer gesê: “Onder water swem, Pappa.”

Nuwan se suurstofvlakke is deur die dag dopgehou, en teen die middag kon hy ontslaan word. Hy was baie geheg aan sy oupa, vertel Liezell, en toe sy oupa vra: “En boeta, waar was jy?” het Nuwan bloot geantwoord: “Amper dood.”

Liezell glo vandag dat hul gesin daardie dag ʼn bonatuurlike en lewensveranderende ingryping beleef het. Nuwan was ná die voorval  ʼn baie vriendelike kind, wat in groot teenstelling was met die peuter wat Liezell en Francois geken het. Hy was ook nooit daarna bang vir water nie, en het trouens daarna net nog meer begin swem.

Sy het in die afgelope tien jaar baie gedink aan daardie dag, en oor hoe hulle die voorval sou kon voorkom. Tog, ná elke keer dat die amper-verdrinking in haar kop soos ʼn storm gewoed het, het sy besef wat die eintlike antwoord op al haar vrae is: ʼn ongeluk gebeur vinniger as wat mens besef, en ook met enigiemand, maak nie saak hoe waterveilig jy probeer wees nie.

(Foto: verskaf)

Die ouerpaar getuig vandag gereeld oor hul wonderwerkseun, en hoe hy langs Jesus onder ʼn boom gesit het voordat hy weer sy bewussyn herwin het.

Twee jaar ná Nuwan se ongeluk het sy oupa gesterf. Die einste oupa aan wie hy so geheg was.

“Hy het bly sê dat hy weer vir sy oupa gaan kuier. Ons het hom heeltyd herinner dat hy nie kan nie, en dat sy oupa weg is. Nuwan vertel toe dat hy kan onthou hoe hy langs Jesus onder ʼn boom gesit het, net hy en Jesus. Ná hy klaar gekuier het, het Jesus hom teruggestuur.”

Dit is ʼn dag wat die Nel-gesin nooit gaan vergeet nie, maar wat bowenal vir hulle uitstaan, is hoe die Here se hand oor hulle gerus het daardie dag. Hoe elke motor voor hulle pad gemaak het, elke verkeerslig groen geword het.

“Aan God al die eer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanya ·

Wat ‘n absolute wonderlike storie, wat in ‘n oogwink so bitter sleg kon uitdraai, maar nie het nie! Alle seen aan ons Vader… want dit is beslis bo-natuurlik en ‘n wonderwerk!

Anna84 ·

So ‘n mooi storie. Ek is self ‘n mamma met ‘n uiterste vrees dat my kinders iets oorkom, hetsy verdrinking, of enigiets anders. Soms moet jy jouself herinner om te vertrou op jou geloof.

NelNel ·

Die genade wat die familie beleef, is elke dag opnuut ‘n bevestiging van die wonderwerk. Genade onbeskryflik groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.