God se vrede het van my ’n oorwinnaar gemaak

Desiree Kleynhans het Maroela Media gesels oor haar haar borskanker en die paadjie wat sy saam met God gestap het. (Foto: Verskaf.)

Desiree Kleynhans sê haar kankerstorie is nie enigsins erger of anders as ander se kankerstories nie. “Trouens, as ek terugdink aan myne dan besef ek dat ek eintlik so verskriklik gelukkig was, in dié opsig dat my behandeling die kanker in sy spore kon stuit sodat dit nie verder versprei het nie.” Haar merkwaardige verhaal wat sy gedagboek het met positiewe inskrywings op Facebook het Yolanda Wessels geïnspireer om haar verhaal met Maroela Media se lesers te deel.

Desiree het op 15 Junie 2018 gehoor dat sy Fase 3-borskanker (HER2-positief) het.

Sy vertel dit was ’n baie groot skok. Sy was 53 jaar oud, baie gesond in alle opsigte en het skaars ’n verkoue in die wintermaande opgedoen.

“Ek en my man was Meimaand op ’n heerlike bootreis en tydens dié vakansie het ek ’n knop in my bors gevoel. Natuurlik wou ek dit ignoreer, afmaak as maar net ’n skadelose knoppie. Hierdie skadelose knoppie het gou-gou baie groter geword en my bors was groot en seer.”

Met hul terugkoms van die bootvakansie, het Desiree se man, Herman, daarop aangedring dat sy dadelik ’n dokter moes gaan spreek.

“Ek het dit met ’n week of wat uitgestel, want dit is mos niks ernstig nie en dit sal vanself verdwyn. Nou ja, nodeloos om te sê, dit was toe nie skadeloos nie.”

Desire vertel dat die oomblik toe die dokter haar meegedeel het dat sy kanker het, het sy onmiddellik vir haarself gesê dat hierdie pad wat vir haar voorlê, nie verniet gestap gaan word nie. Hierdie pad gaan haar na nuwe hoogtes lei, hierdie pad gaan sy positief benader.

“Ek wou aan die einde van die pad terugkyk en weet dit was die moeite werd, dit het ek hieruit geleer en dit kan ek gebruik om ander weer positief te beïnvloed.”

Desiree het haar paadjie met borskanker op Facebook gedagboek. (Foto: Verskaf.)

Vier weke ná haar diagnose het Desiree ’n mastektomie ondergaan. Drie weke later het sy begin met chemoterapie waar sy agt sessies chemo gekry het, drie weke uitmekaar.

“Dit was dus vyf maande van chemo, daarna dertig sessies bestraling, elke dag vir vyf minute. Daarna het ’n jaar lange immuunterapie gevolg in die vorm van inspuitings, drie weke uitmekaar. Omdat my kanker nie hormoonsensitief was nie en ek dus nie op hormoonbehandeling sou reageer nie, is daar besluit om Herceptin-inspuitings te gebruik.

Sy vertel dat dit moeilik is om iets spesifiek uit te sonder, net een iets wat sy geleer het, want daar was eintlik so baie.

“’n Mens kyk anders na die lewe, jy kyk met ’n sagter oog na jou medemens. Maar ek dink tog as ek een iets moet uitsonder, dan sal dit wees dat dit nie die storm is wat ons vernietig nie, maar liewer vir die vrees daarvoor. Ek moet erken, ek het hierdie chemo-pad gevrees. Ek het nie geweet wat vir my voorlê nie, hoe erg ek die newe-effekte gaan ervaar nie. Ek het gevrees vir die dag dat ek my lang hare gaan verloor en hoe bevrydend was dit eintlik toe ek hulle wel ná sewentien dae van chemo verloor!”

Haar grootste vrees tydens hierdie beproewende tyd was egter dat die kanker weer sou terugkom en sy weer deur alles moes gaan.

“Ek het sleg geslaap in die nag…. al hierdie vrese het bly spook by my. Die ‘wat as’-vrese. Daardie vrese wat jy vir jouself in jou kop bymekaarmaak en wat nooit realiseer nie.”

In een so ’n slapelose nag, het sy weer eens vir die Here gevra dat sy 100% gesond moet wees ná al die behandelings. Sy het Hom gevra om vir haar ’n teken te gee dat sy gesond is.

“Ewe skielik het Hy vir my in ’n visioen gewys waar ek op ’n groen heuwel staan. My hare is kort uitgegroei en ek staan met my arms oorwinnend omhoog. Dit het my gemoedsrus gegee – ek is gesond en ek was vir ’n lang ruk rustig hieroor.

Ná ’n paar maande het Desiree weer begin luister na die duiwel en sy het begin wonder, gaan die kanker nie weer terugkom nie? Sy het weer elke dag by die Here gesmeek om weer vir haar te wys dat sy gesond is.

Desiree sê God hoor altyd jou stem al antwoord Hy nie onmiddellik jou gebede nie. (Foto: Verskaf.)

Iewers in September 2019 het daar ’n besoekende pastoor by hul kerk kom besoek aflê. Desiree en pastoor John Wasserman ken mekaar van geen kant af nie en dit was die eerste keer dat sy hom gesien of van hom gehoor het. Voor die diens begin het, het hy gevra of daar ’n vrou in die kerk is met die naam Desiree, sy sal kort donkergrys hare hê.

“Ek het dadelik my hand opgesteek. Pastoor Wasserman het vertel dat hy die Vrydagoggend, op die vliegtuig op pad na L’Agulhas, ’n baie duidelike boodskap van die Here gekry het. Die Here het vir hom gesê dat hy in L’Agulhas vir Desiree moet gaan bid en aan haar moet vertel dat sy gesond is en dat sy nog haar kleinkinders gaan sien grootword. Dit was my algehele keerpunt.”

Desiree het nog nooit weer ná daardie aand vir een, enkele oomblik getwyfel nie en het geweet dat haar kanker nie weer sou terugkeer nie.

“Dit was so ’n duidelike boodskap, direk van die Here af, waarvoor kon ek meer vra? So baie pyn waardeur ons gaan, is werklik net ons gedagtes, ons eie vrese. Wat ek definitief geleer het, is dat God altyd jou stem hoor, soms antwoord Hy net nie onmiddellik jou gebede nie.”

Desiree het die Here gevra om eerstens die knop in haar bors te laat verdwyn en toe dit nie gebeur het nie, gevra dat Hy haar die pad van chemo moes spaar. Dit het nie gebeur nie, maar Hy het iets wonderliks aan haar gegee.

“Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy verander dus nie altyd jou omstandighede nie, maar Hy skenk jou sy vrede om in daardie omstandighede te kan oorwin. Sou Hy my hierdie pad gespaar het, sou ek nie geestelik so kon groei nie, sou ek nie ’n getuienis gehad het nie, sou ek niemand kon inspireer en bemoedig nie.”

Desiree was in Februarie vanjaar vir ’n opvolgafspraak en sy is kankervry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

pragtige getuienis, ek is n man wat prostaat kanker gehad het, en ek weet na 7 jaar wat se beproewing wat sy deurgemaak het, ek is nou kanker vry en dankbaar aan God vir alles, Sy Genade is Groot

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.