Gratis Uber-ritte vir onderwysers wat inenting wil ontvang

Argieffoto

Uber Suid-Afrika stel van Woensdag 100 000 gratis ritte beskikbaar aan skoolpersoneel wat inentings teen Covid-19 wil kry.

Die aanlyn taxidiens het in Maart vanjaar reeds onderneem om miljoene ritte aan onderwysers reg oor die wêreld te verskaf, na en van inentingsentrums, om die heropening van skole te ondersteun.

Uber bied die projek in vennootskap met die VN se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) aan om onderwysers en gemeenskappe te beskerm.

Frans Hiemstra, hoofbestuurder van Uber Afrika suid van die Sahara, het Sondag aan eNCA gesê Suid-Afrika is as ʼn belangrike land in dié projek geoormerk.

Uber SA het ʼn skakel en koopkodes aan die departement van basiese onderwys verskaf sodat hulle die personeel kan help verifieer wat die ritte moet ontvang.

“Ons sal die getal gratis ritte selfs verder verhoog as dit sal verseker dat alle onderwyspersoneel ingeënt word en skole oopgehou word,” het hy gesê.

Hiemstra het verder verduidelik die kodes sal gebruik kan word vir ʼn rit van ʼn maksimum van R150 na, en dan ook weer vir R150 van ʼn inentingsentrum. “Ons vermoed dit behoort die koste van ʼn rit te dek aangesien die sentrums so goed versprei is.”

Die onderwys- en gesondheidsdepartement beoog om onderwysers, skoonmakers en ander ondersteuningspersoneel by skole, ʼn totaal van 582 000 werknemers in dié sektor, teen Donderdag 8 Julie klaar in te ent.

Die onderwyspersoneel is as noodsaaklike werkers in die tweede fase van Suid-Afrika se inentingsprogram gekategoriseer en kom nou in aanmerking vir die Johnson & Johnson-entstof.

Hiemstra het bygevoeg dat Uber glo onderwysers is die ruggraat van ʼn gemeenskap.

“ʼn Tekort aan vervoer kan nie die rede wees waarom iemand nie die entstof kry nie. Dit is waarom ons graag saam met die departemente van gesondheid en basiese onderwys werk en die krag van Uber se platform gebruik om onderwysers by die entstof uit te kry. As ons almal saamwerk kan ons die pandemie stuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werner ·

Dis nie verniet nie Uber is n baie duur manier om te Reis Jan publiek betaal daarvoor plaas dat hulle ons oumensies vervoer hulle het dit baie Meer nodig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.