Grootste onderwysbeurs in SA bekendgestel

studeer-student-boeke-lees

Foto: Pixabay/Pexels.com

Een van die grootste onderwysbeurse vir opleiding in die private hoër onderwys is Dinsdag in Pretoria bekendgestel.

Die Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds se Prestige Onderwysbeurs sluit ʼn vier jaar volbetaalde onderwysbeurs by Aros, asook vier jaar se praktiese assistentwerk by een van Pretoria se toplaerskole in. Die beurs beloop ʼn ongelooflike bedrag van R342 000 oor die volgende vier jaar.

Volgens dr. Morné Diedericks, akademiese hoof van Aros, is hierdie beurs juis daarop gemik om die onderwysberoep en studies in onderwys weer prominent onder skoolverlaters se aandag te bring.

“Die toekoms van ons land se kinders lê in die hande van ons onderwysers, en daarom is dit van kardinale belang dat ons goed opgeleide Christen-onderwysers ontwikkel,” het Diedericks gesê.

Om in aanmerking te kom vir hierdie beurs, moet voornemende studente aan ʼn paar kriteria voldoen:

  1. ʼn Gemiddeld van 70% behaal (beide die graad 11- en rekordeksamenpunte van 2018-matriek) word in ag geneem. Vir mense wat reeds uit matriek is, tot en met die ouderdom van 21, word daar gekyk na finale matriekpunte.
  2. Deelname op skool en daarna aan sport, kultuur en ander aktiwiteite.
  3. Leiersposisies wat in verskeie omstandighede beklee is.
  4. ʼn Geskrewe motivering van ongeveer 300 woorde waarin die voornemende kandidaat verduidelik waarom hy/sy onderwys by Aros wil studeer.

Aros se gemengde onderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studies en praktiese onderwyservaring deur hul vier jaar kan kombineer.

Studente het óf op ʼn Vrydag óf op ʼn Saterdag klas by Aros se kampus in Waverley, Pretoria, en kan dus deur die week as assistent by die skole werk.

Aansoek vir die beurs sluit op 29 Oktober 2018. Voornemende studente kan aansoek om die beurs doen deur Aros se webblad te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

My dogter moes maar deur Unisa leer en moes maar skool gee as n assistent en ook nasorgklasse gee. Sy is 9jaar terug begin met R500 n maand. Maar sy wou geleerdheid gehad het en het op die end haar Honeurs ook behaal. En sy is een van die beste onderwyseresse wat ek nog gesien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.