Haweloses kry warm stort, feesmaal

Die Afrikaanse Toekomstrust is ʼn niewinsgewende organisasie en een van die rolspelers wat in Oktober die StreetShower-projek en Eleos bygestaan het om na die gemeenskap uit te reik. (Foto: Verskaf)

Trots, hoop, onafhanklikheid, selfwaardigheid en opleiding is van die grootste geskenke wat jy vir enige iemand kan gee, meen Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van Afrikaanse Toekomstrust (ATT).

“As jy hieroor gaan sit en dink, is dit die kern wat ouers graag aan hulle kinders wil oordra. Almal is nie in die bevoorregte posisie om in liefdevolle huise met ʼn ondersteuningstelsel groot te word nie. Dit is híér waar ATT inkom en ʼn verskil maak,” sê sy.

ATT is ʼn niewinsgewende organisasie en een van die rolspelers wat vroeër vandeesmaand die StreetShower-projek en Eleos bygestaan het om na die gemeenskap uit te reik. Nagenoeg 150 hawelose persone van die Daspoort-omgewing het ʼn warm stort, ʼn nuwe stel klere en skoene, ʼn feesmaal en geestelike ondersteuning gekry wat aan hul lewe weer koers en betekenis kan gee.

Nagenoeg 150 hawelose persone van die Daspoort-omgewing het op 19 Oktober ʼn warm stort, ʼn nuwe stel klere en skoene, ʼn feesmaal en geestelike ondersteuning gekry. (Foto: Verskaf)

Clariza Botha, bemarkingsbestuurder van Eleos, sê daar was met hierdie geleentheid net een doel voor oë en dit was om barmhartigheid teenoor ons medemens te wys en die Hemelse Vader te eer.

Die voorbidding wat gedoen is en veldwerk wat die projek vooruit gegaan het, was volgens Botha iets ongeloofliks om te ervaar. Persone is onder brûe en voor winkels, waar hul saans slaap, opgesoek en per uitnodiging na die dag genooi.

“Enigiemand kon dus nie net opdaag nie; hulle is per hand gekies en was daardie dag ʼn eregas by die geleentheid. Aan die opgehelderde gesigte toe hulle daar wegstap, kon jy sien dat hul belangrik gevoel het.”

Botha sê verder dat vrywilligers van heinde en ver gekom het om die Here se hande en voete te wees en mense te dien. Die StreetShower-projek, wat bykans elke tweede maand plaasvind, word ook na ander dele van die land uitgerol en die volgende een sal na verwagting in die Tuinroete plaasvind.

Vrywilligers van heinde en ver gekom om die Here se hande en voete te wees en mense te dien. (Foto: Verskaf)

“Hierdie aksie het mense se harte aangeraak en nuwe deure oopgemaak. Dit het gewys hoe om haweloses se nood te identifiseer en werklik te verlig. Ek wil graag ʼn beroep op lede van die publiek doen om by hul gemeenskap betrokke te raak. Die wonderlike fondasie vir verandering is gelê en ons kort helpers wat bereid is om deur opvolgwerk ʼn pad met hierdie mense te stap,” sê Botha.

ATT poog met sy projekte om sosio-maatskaplike probleme op plaaslike bodem aan te pak. Dié niewinsgewende organisasie span kragte saam met ander welwillendheidsorganisasies om minderbevoorregte individue en gemeenskappe se realiteit te verander deur op armoedeverligting, opleiding, opvoeding en die herstel van mense se menswaardigheid en onafhanklikheid te fokus.

Indien jy by een van hierdie projekte of aksies betrokke wil raak deur jou tyd af te staan of ʼn donasie te maak, kan jy ʼn e-pos stuur na Andrew Doyle van StreetShower ([email protected]), Clariza Botha van Eleos ([email protected]) of Dinah Bronkhorst van die Afrikaanse Toekomstrust ([email protected]).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie goeie gebaar bou so voort en help om ons hawelose mense uit hulle omstandighede te help en op ‘n beter pad te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.