Help om 280 boere se kinders op skool te hou

‘n Kleinskaalse boer kniel by ʼn waterpan in die Noord-Kaap. (Argieffoto: AP Photo/Denis Farrell)

Die niewinsgewende organisasie Beginet het Maandag met ʼn projek begin om skoolgeld vir 280 kinders in die Noord-Kaap in te samel.

ʼn Uitmergelende droogte wat nou al nege jaar lank duur het die finansiële ondergang van baie boere en landbougemeenskappe in dié provinsie beteken. Volgens ds. Deon van der Berg, stigter van Beginet, het die nood nou veel groter geword as om net die plaashekke oop te hou.

“Hierdie droogte het nou die vermoë van liefdevolle ouers weggeneem om gehalte-onderwys aan hul kinders te voorsien. Hoewel die noordelike gebied van die Noord-Kaap wel reën ontvang het, gaan die suide van die provinsie nog gebuk onder droogte.”

Van der Berg benadruk ook dat die boere en hul gemeenskappe meer as een goeie reënseisoen gaan nodig hê om weer op die been te kom.

“Dit is waarom ons by Beginet die Skoolfondsprojek van stapel gestuur het. Die uitdaging is om R4,9 miljoen in te samel sodat ons 280 kinders in hierdie provinsie se skoolgeld kan borg.

“Ons wil hiermee ʼn verskil maak en die hoop vir ʼn beter toekoms lewend hou deur die ouers te ondersteun met hul kinders se opvoeding.”

Van der Berg sê die skoolgeld sal ook verseker dat waardevolle onderwysers vir skole in die Noord-Kaap behoue bly en die vaardige skoolstelsel ondersteun.

Beginet sal met die projek verseker dat die kinders se skoolgeld elke kwartaal direk aan die skool oorbetaal word, of gebruik word om ʼn leerplan vir tuisonderrig aan te koop. Geld uit die projek word nie aan die ouers betaal nie en die direksie van Beginet sal sorg dat hulp verleen word aan diegene wat dit die nodigste het.

“Kom ons maak nou ons harte en hande oop vir gemeenskappe wat voorheen gewoond was om self skenkings vir mense in nood te maak.”

Beginet nooi alle Suid-Afrikaners, kerke, gemeenskappe en organisasies om met die organisasie hande te vat om ʼn daadwerklike verskil in die lewe van die kinders van die Noord-Kaap te maak. Besoek Beginet se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die Skoolfondsprojek.

  • Deon van der Berg, stigter van Beginet, het Maroela Media meer vertel van die uitdaging om R4,9 miljoen se skoolgeld in te samel om boere van die droogtegeteisterde Noord-Kaap te help om hul kinders vir die volgende jaar op skool te hou. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Kyk hier na video van Beginet se Skoolfonds-projek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Ek het gisteraand laat na RSG gelê en luister hoe daar onderhoud gevoer word met n Ds Fanie van die Paarl wat by die boere gemeenskap betrokke is. Dit gaan nie net oor skoolgeld nie maar ook om net uit te reik na die mense. Iemand wat dalk n strandhuis het om n gesin te bederf daarmee op n naweek. Of om iets lekker saam te neem as jy deur een van hierdie dorpe ry. Kry vooraf by die plaaslike gemeente name en adresse van mense en bederf hulle. Bid vir hulle, stuur bederfbare pakkies, Enigiets om net hierdie mense se gemoed bietjie te lig. Ek was regtig naby in trane terwyl ek na die program geluister het. Jy kon in Ds Fanie se stem ook hoor hoe bewoë hy raak as hy van sy ervaring met hierdie mense praat. Soos hy vertel ouers wil by hom weet hoe kan hulle vir hul kinders moed inpraat as hulself nie eens moed het nie. Kinders begin voel hul is n oorlas en uigawes vir hul ouers. Is dit die moeite werd om nog te lewe. Wat moet nie deur so n kind se gedagtes gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.