Help om gesinne en troeteldiere bymekaar te hou

(Foto: Unsplash)

Ons troeteldiere is deesdae soos ʼn lid van die gesin; hulle vermaak ons met hulle eienaardige manewales en is geselskap wanneer ons alleen op die rusbank sit – hulle is altyd daar vir ons.

Ons as eienaars het weer die verantwoordelikheid om hulle te voed, te oorlaai met liefde en om na hulle om te sien na die beste van ons vermoëns.

Met die verhoogde lewenskoste raak hierdie eenvoudige opdrag om ons troeteldier te versorg egter al hoe meer uitdagend. Al meer troeteldiereienaars oorweeg dit onwillig om hul troeteldiere na ʼn diereskuiling te neem omdat hulle dit eenvoudig net nie meer kan bekostig om na hul hond of kat om te sien nie.

“By Bob Martin glo ons dat die beste plek vir ʼn troeteldier by ʼn liefdevolle gesin is. Hulle hoort bymekaar, so kom ons help om dit so te hou,” sê Su-Lise Tessendorf-Louw, bemarkingsbestuurder by Bob Martin.

Dié hondekosvervaardiger het met Beeno, Husky en Pamper saamgespan om te sorg dat troeteldiere en hul gesinne bymekaar bly. Met die projek wil hulle vir ʼn hele jaar troeteldierkos en -versorging aan waardige begunstigdes verskaf.

“Dit is beslis nie iets lekker om oor na te dink nie, maar in sommige gevalle is dit die beste vir albei partye om jou troeteldier aan ’n skuiling te oorhandig, veral wanneer jy nie meer behoorlik vir jou diere kan sorg nie,” sê Tessendorf-Louw.

Talle skuilings is reeds oorweldig en volgens die State of Pet Homelessness Index is 650 000 katte en honde uit die 4,1 miljoen hawelose troeteldiere in die land in diereskuilings woonagtig.

“Om jou troeteldier gesond, versorg en goed gevoed te hou, kan ’n duur storie wees, veral vir mense wat sukkel om net daagliks te oorleef. Ons doel met hierdie inisiatief is om stemlose diere ʼn stem te gee en te help waar daar ’n behoefte is. Ons doen ’n beroep op die publiek om daardie stories aan te stuur van troeteldiereienaars wat slegs ʼn hupstoot kort om te verseker dat hul troeteldiere aan hulle sy bly,” sê Tessendorf-Louw.

Die “Help them feed them”-projek sal kos en gratis troeteldierversekering van ʼn gesin of individuele troeteldiereienaar se viervoetige vriend vir ʼn jaar betaal.

Besoek die www.helpthemfeedthem.co.za om ʼn potensiële begunstigde te nomineer of besoek www.bobmartin.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.