Hoe beskerm jy die kwesbares?

Christia Potgieter, ‘n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Dienste-afdeling. (Foto: Verskaf)

Weet jy wat om te doen as jy vermoed kinders, bejaardes of persone met gestremdhede word verwaarloos of mishandel?

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers kry die afgelope tyd dikwels navrae uit die gemeenskap oor die proses van maatskaplike aanmeldings van mishandeling en verwaarlosing van kinders, bejaardes, en persone met gestremdhede.

“Weens die groeiende vraag na duidelike aanmeldingsriglyne en ondersteuning vir besorgde gemeenskapslede, het Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Dienste-afdeling vanjaar ’n openbare opname op sosiale media gedoen,” sê Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Dienste-afdeling.

“Hoewel die meerderheid van die deelnemers getoon het dat hulle bewus is van hul plig om aanmeldings te maak, het die helfte aangedui dat hulle onseker is oor waar hulle dit behoort aan te meld. Die meeste deelnemers is bereid om sake aan te meld en deel die siening dat die gemeenskap betrokke moet raak. Die helfte het egter aangedui dat hulle meer inligting oor die aanmeldingsproses benodig.”

Potgieter sê daarom het Solidariteit Helpende Hand sy Wil om te Help-veldtog van stapel gestuur om bewusmaking te skep wat die gemeenskap se aandag fokus op die belangrike rol van die sorg en beskerming van kwesbare groepe. Hierdie veldtog het ten doel om gemeenskapsbetrokkenheid aan te moedig en begrip vir individue se verantwoordelikheid in die gemeenskap te bevorder.

“Ons gaan gemeenskapslede toerus met kennis oor hoe om by te dra tot die beskerming van kwesbare groepe. Dit sluit onder andere die korrekte stappe tydens die maatskaplike aanmeldingsproses in. Ons is toegewyd aan die bemagtiging van die gemeenskap met inligting en begeleiding en wil ’n positiewe impak op die gemeenskap maak met hierdie veldtog. Saam kan ons ’n verskil maak aan die beskerming van kwesbare gemeenskapslede.”

In aansluiting by die veldtog gaan Solidariteit Helpende Hand ook in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerke eer betoon aan toegewyde maatskaplike werkers met hul jaarlikse Hoopdraer-toekennings.

Die publiek word aangemoedig om die veldtog op Solidariteit Helpende Hand se Facebook-blad getiteld Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging, Instagram, en webwerf by www.helpendehand.co.za te volg vir meer inligting en hoe om betrokke te raak.

*Internasionale Maatskaplikewerkersdag word wêreldwyd elke derde Dinsdag van Maart gevier en Maartmaand word opsygesit om die bydrae van maatskaplike werkers tot die welstand van individue, gesinne en gemeenskappe reg oor die wêreld te erken en uit te lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.