Hoe gereeld word julle asblikke leeg gemaak?

(Argieffoto)

Deur Charlotte Fourie

So skraps voor ons eerste huweliksherdenking en amper sewe maande swanger met ons eerstelinge, ’n tweeling, het ek en my man by ons eerste huis ingetrek. Dit was alles waaroor ons nog altyd gedroom het.

Die huis was omring met ’n groot erf, ’n blinkblou swembad het vir jou gewink deur die sitkamer, ’n opgaartenk vir die Johannesburg-reënstorms het langs die Wendyhuis vol tuingereedskap gestaan en die houtblokkiesvloere was nuut oorgedoen.

As ek nou terugkyk, sou ek egter nie sê dat ons werklik voorbereid was op al die uitdagings van die huwelik, grootmenswêreld en huiseienaarskap nie. Niemand sê byvoorbeeld vir jou dat jy sélf moet uitvind wanneer die munisipaliteit die asblikke met vullis by jou huis kom verwyder nie.

Die asblikke

Weet jy hoe vrek vinnig kan ’n swart asblik (een van daai groot Pikitups) in een week vol raak? Ons het vroeg een Vrydagoggend, kort nadat ons ingetrek het, wakker geword van die vullistrok se gebrom in die straat. “Ons asblikke!” gil my man soos hy sy pantoffels probeer raak trap.

Dit was ongelukkig toe nou nie so maklik om twee swaar asblikke 10 meter ver in die hardloop te trek nie – en daardie groot trokke ry baie vinniger as wat mens sou raai. My man het nog oorweeg om die asblikke om die blok te trek, maar hierdie idee vinnig onderdruk en die oorvol asblikke maar weer op hulle plek gaan sit.

Ek wil graag ’n goeie verskoning vir die daaropvolgende Vrydag gee, maar ek kan nie. As ons gedink het dat die asblikke na een week baie vol was, is dit niks teenoor hoe vol dit was na twee en toe later drie weke nie. Dankie tog daar was nog nie sakke vol weggooidoeke nie.

Te danke aan ’n herhalende selfoon-alarm, is ons asblikke nou, meer as drie jaar later, elke Vrydag betyds buite. Die stryd is nou meer om dit doer ver om die blok by nommer 7 te gaan haal nadat die trok hulle beetgehad het. Die tweeling is al drie jaar oud en dis ’n hoogtepunt in ons gesin om Vrydae by die hek te staan en vir die groot trok te waai soos hy ons weeklikse afval oplaai en wegneem. Ons oudste skater van opgewondenheid as hy die gerommel van rommel hoor. Asblikke en asblikke vol dinge wat ons nie meer wil hê nie – dít wat nie meer lekker of dalk al vrot was. Onbruikbaar of ongebruik. Vervalle. Oud. Sleg.

Deesdae versuim ons egter al hoe meer om ’n alarm te stel om te onthou om ons ánder asblikke uit te sit. Jy weet, daardie asblikke vol vervalle wrokke; dik en suur skindernuus; ou, onvergete lappe vol haat-gate; gebreekte stukkies uurglas en sakke vol vrot, geneties gemanipuleerde verwagtinge.

Pasop dat hierdie soort asblikke nie te lank in jou agterplaas staan nie. ’n Plaag vlieë wag om jou huis te oorrompel.

Charlotte Fourie. (Foto: Verskaf.)

Die rommel in jou gesin

Dis lekker en opwindend om ’n nuwe huis te bou, in te trek en nes te skrop, maar dis nie noodwendig lekker en opwindend om die huis te onderhou nie: die reënwolke kyk net vir die blinkblou swembad en hy verander van kleur; die groot groen grasperk bly nie vanself groot en groen nie; en die opgaartenk lok gereeld baie muskiete.

Alleen die Woord van God, soos ons dit in die Bybel vind, kan hierdie verrotting in ons huise keer en slegs God se genade kan ons oorvol asblikke verewig wegneem. Wys ons vir ons kinders hoe om slegte gewoontes op te vee en weg te gooi? Maak ons hulle opgewonde om te staan en kyk hoe God ons laste kom haal? Skater ons van opgewondenheid en vreugde as ons sien hoe ons leë en skoon asblikke weer terug ontvang? Of steek ons die vullis onder ’n mat weg sodat ons kinders dit nooit kan sien nie en daardeur ook nooit God se verlossing in ons huise kan sien nie.

Die verantwoordelikheid om ons sonde na God toe te vat, bly egter by ons, maar wees gerus: anders as die onbetroubare munisipaliteit wat sommige Vrydae nie opdaag nie, sal God wel, as ons die asblikke buite sit, dit kom haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.