Hoe maak mens ’n blou aandete?

Die droom van die perfekte pannekoeke vir aandete is toe nooit heeltemal bewaarheid nie. (Foto: RitaE/Pixabay)

Deur Annami Simon

My dogter in Sandbaai bel my verlede Dinsdagaand. Sy groet nie met haar gewone groet nie, sê net: “What a day!” en sug diep, baie diep. Ek weet nie of ek bekommerd of nuuskierig moet wees nie. Ek hoop nie haar stapelgek hond het weer sement geëet nie. Dalk het Mary-Ann* weer van haar fiets geval en kry nie haar voet tussen die speke uit nie of miskien het Mieke* se klavierjuffrou weer met haar geraas? Moet my kind weer in die stad gaan werk? Of… ek wil nie eens daaraan dink nie, maar sê nou haar man het Covid? Die moontlikhede van potensiële rampe laat my verstand tuimel.

“Hou gou aan,” sê ek, skakel die stoofplaat af, skink vinnig ’n glasie koeligheid en gaan sit plat op die voorstoep se rand, wynglas byderhand.

“Vertel?” sê ek en hou asem op vir wat gaan kom.

“Vandag was mos pancake day,” begin sy, “en ek het toe mooi vooruit besluit op savoury mince pancakes.”

“Dit klink lekker,” sê ek verlig.

“Ja, maar luister eers!” Sy klink ongeduldig. “Ek moes laat werk en sit die mince toe solank in die slow cooker. En pannekoekdeeg maak mos vinnig aan. Maar teen die tyd dat ek uit my studeerkamer kom, is dit klaar halfses en ek weet ek moet roer om my honger mense kos te gee.”

My kind se stem voorspel nie ’n gelukkige einde nie. Ek vat ’n slukkie wyn, kyk hoe ’n vliegtuig bokant Durbanville deur die aandlug gly.

“En toe?”

“Nee, toe ek mos in die kombuis kom, is die slow cooker yskoud. Mary-Ann het vir haar ’n shake gemaak met die Nutribullet en nie weer die slow cooker ingeplug nie.”

“Jy moenie jou taal so meng nie, my kind…”

“Mammáá! Ons het vir 13 jaar in Londen gebly! Wil Ma nou die storie hoor of wil Ma lesgee?” Ek weet ek maak my kind die josie in.

“Ekskuus, vertel verder, dit klink na ’n ramp,” probeer ek paai.

Sy klik haar tong voordat sy verder praat. “Anyway, ek skep toe die halfgaar mince in ’n gewone kastrol en sit dit op die stoofplaat. Die slow cooker se bak kom in die opwasbak en ek begin solank die pannekoekdeeg aanmaak. Met bruinmeel, dis mos gesonder. Fout. Die deeg werk nie in pan 1 nie en dié beland saam met die slow cooker-bak in die opwasbak. Toe gebruik ek pan 2, daarna pan 3… Intussen brand die vleis in die pot en ek skep dié in pan 4 en gooi die aangebrande kastrol ook in die opwasbak wat teen dié tyd te klein geword het.”

Ek hoor hoe werk sy haar op. Ek rol my oë, sug ’n slag of twee simpatiek saam en vat nog ’n sluk wyn.

“Toe soek ek pan 4 om die bruin deeg vir oulaas te probeer. Natuurlik kry ek hom nie, want pan 4 is mos nou vol mince.”

“Oh, no!” My poging tot taalversoening. “Wat maak jy toe met…”

Sy rammel dwars bo-oor my vraag. Nee, toe bars my liewe man mos by die voordeur in en soek die plug vir die karavaan. Perfect timing.” Dié slag is haar sug langer en ek weet ek moet nou my mond hou. “Ma weet mos, toe moet ek eers Wendy-huis toe om te loop soek, want die girls het ewe skielik onthou hulle het huiswerk om te doen. Ek sukkel en kap my bene teen als in die halfdonker Wendy, maar kry uiteindelik die flippen plug. Toe ek weer in die kombuis kom, is ek so boos dat ek die hele bak pannekoekdeeg in die toilet smyt en wegspoel.

“Ai, my kind…”

(Foto: Verskaf)

“O ja, en intussen het Mary-Ann se goudvissie onderstebo begin swem totdat Mieke vir haar gesê het hy’s dood en moet ook in die toilet weggespoel word. Vir dié waterbegrafnis het Mary-Ann nie kans gesien nie en Mieke bied toe aan. Nie lank daarna nie kom sy huilend terug en sê die vissie wil nie flush nie. Pappa moes toe maar gaan help. So ek weet nie of Bubbles dalk nou met ’n degie rondom in die hemel aangekom het nie.”

Vir die eerste keer hoor ek lag in haar stem.

“En die aandete?” vra ek versigtig, netnou is sy van vooraf ontsteld.

“Nee, ek ry toe maar Checkers toe vir pannekoekdeeg. Al wat hulle het, is blou of pienk deeg en die girl belowe my dis nie gegeur nie, net gekleur. Nou ja, toe eet ons maar kerrie-mince en blou pannekoek vir begrafnisete.

*skuilname

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansie ·

Lekker lag ek nou. Dis mos die regte manier om die week mee af te skop. Baie dankie, Annami.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.