Hoe moet kerke op huidige gemeenskapskrisis reageer?

Dr. Wikus Buys.

Die Here is ʼn God van gemeenskap. Dit beteken God self het gemeenskappe geskep en onderhou. Ons lees in Genesis 1:26 dat die Here sê: “Laat Ons mense maak …” God verwys hier na Homself as “Ons”. Verder in die Bybel leer ons dat dit juis dui op God die Vader, Seun en Heilige Gees. God leef in liefde en vrede met Homself. As God van hierdie heilige gemeenskap skep Hy ook. Die Here skep die mens in ʼn heilige gemeenskap met Homself. Verder wys die Bybel ook dat die Here wil hê die volle mensdom moet in ʼn liefdevolle gemeenskap met mekaar saamleef.

Hierdie twee kante van die saak het baie betekenis vir ons kerke vandag:

  • die feit dat God self ʼn heilige gemeenskap vorm; en
  • die feit dat God wil hê die mensdom moet ook leef as ʼn gemeenskap wat aan Hom toegewy is.

Dit is God se wil as Skepper dat ons met Hom en ander mense gemeenskap moet hê. Die mens se sondeverraad verbreek hierdie verband en verskeur die gemeenskap. Gemeenskap met God word slegs herstel en in stand gehou deur die Heilige Gees en geloof in Jesus Christus. Dit leer die kern van die evangelie van Jesus Christus ons. Herstelde gemeenskap met die Here lei ook tot herstel van die mensdom se gemeenskapslewe.

Stukkende gemeenskappe

Verskeurde en stukkende gemeenskappe is nie God se wil as Skepper en Verlosser nie. Binne die Afrikaanse gemeenskap het ons hierdie verbreking en verbrokkeling nie vrygespring nie. In die Afrikaanse gemeenskap is daar tans groot uitdagings. Dit is nie net die gevolge van Covid-19 wat gemeenskappe negatief raak nie, maar ook die stortvloed slegte nuus, byvoorbeeld die aanhoudende oopvlek van grootskaalse korrupsie, die elektrisiteitskrisis wat tot beurtkrag lei, die sosiale onrus en ekonomiese druk; dit alles eis ʼn groot tol op die gemeenskap.

Leef wat ons glo

Hoe moet kerke in hierdie tyd op hierdie gemeenskapskrisis reageer? Hulle moet leef wat hulle glo: gemeenskap met God herstel gemeenskap tussen mense. Die eensydige klem wat kerke tans in hul prediking en pastoraat amper uitsluitlik op enkelinge laat val, gee aanleiding daartoe dat gemeenskappe – juis as gemeenskappe –deur die kerke verwaarloos word. Dit behoort dringend en drasties reggestel te word.

Lig die gemeenskap in

Die kerk leef in gemeenskap met God. God is juis die Skepper van gemeenskapslewe, daarom behoort kerke ook aandag te gee aan hoe die gemeenskapslewe in praktyk behoort te lyk. Christus is die lig van die volke (Jesaja 51:4). Die heerlike bevryding en hoop wat die evangelie bring, is juis ook bedoel vir al die volke. So begin die Heilige Gees dan ook in Handelinge 2 as Hy die nuwe mensdom rig en die groot dade van God aanleer om juis gemeenskappe ook aan te raak. Herstelde gemeenskappe wat die hoop van Christus se opstanding prakties uitlewe in die energieke krag van die Heilige Gees – dit is waarin die Afrikaanse kerke tans die leiding moet neem.

Helpende Kerke Kongres

Solidariteit Helpende Hand bied eersdaags sy Helpende Kerke Kongres aan. Die tema vir vanjaar se kongres is “Gemeenskappe in geloof”. Die doel van die kongres is om te fokus op gemeenskapsontwikkeling in samewerking met die plaaslike kerke.

Die kongres vind op 23 Februarie van 08:00 tot 15:00 by Leriba Lodge in Centurion plaas. Toegang is R350 per persoon vir belangstellendes wat die kongres wil bywoon, en die bedrag sluit ʼn ligte ontbyt en middagete in. Indien meer as vier kaartjies deur dieselfde instansie op een slag aangekoop word, sal die koste slegs R300 per persoon beloop. Belangstellendes kan ook regstreeks aanlyn na die kongres kyk teen slegs R50. Besoek gerus www.helpendekerke.co.za vir meer inligting.

  • Wikus Buys is predikant van die Gereformeerde Gemeente Innesdal en uitvoerende direkteur van Begrond wat ten doel het om Christelike uitgangspunte in en vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder. Hy spesialiseer in gemeenskapsdenke vanuit ʼn Christelik-filosofiese benadering en is een van die sprekers by die Helpende Kerke Kongres.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dit sal interessant wees om na die sensus die blanke Afr. sprekende se persentasie van die totale bevolking te bepaal. Die tekens van die Afrikaner se demografiese agteruitgang is orals te sien. Om in lewensvatbare gemeenskappe met gesamentlike waardes en doelwitte te groepeer is inderdaad al oplossing.

Fluisterwind ·

Plaasmoorde, droogtes en verarming deur uitbuiting van hemel hoë belastings en geen dienslewering, is wat gemeenskappe uitmekaar skeur en in totale moedeloosheid laat. Die kerk behoort teen die tyd duidelik te sien dat Suid-Afrika se staat ‘n vyand van God is, en dus ‘n vyand van gelowiges is. Christus as Hoof van die kerk sal in sy doel slaag om al God se vyande te vernietig, en dan sy Koningskap by sy wederkoms terug te gee aan die Vader. Gelowiges gaan nou onderskei word van die res, en sal moet vas staan wanneer ons vervolg word. Die kerk is ‘n strydende kerk solank die wederkoms nog nie plaas gevind het nie. Die kerk behoort sy lidmate in te oefen hoe om in hierdie stryd alles in te werp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.