‘Hoop’ die rede waarom vrou SA te voet deurkruis

Die dapper vroue wat die lang pad Kaap Agulhas toe te voet aangepak het. (Foto: Cape2Care/Facebook)

“Ek kan vir jou sê dat stap lekker is, en hoe mooi die uitsig is, maar wat binne jou gebeur en dit wat jy geestelik ervaar, verander jou eintlik heeltemal.”

Só sê Michelle van Biljon, ʼn maatskaplike werker aan’t stuur van die Cape2Care-staptogprojek, wat in 2022 deur die niewinsgerigte organisasie, Dynamic Women for Children, van stapel gestuur is. Dié organisasie sien daagliks na sowat 50 minderbevoorregte kinders van die Kameeldrif-Oos en Kameelfontein-omgewing noordoos van Pretoria om en het sedert die eerste staptog van krag tot krag gegaan.

Ses dinamiese vroue het reeds in Januarie vanjaar in Vereeniging weggespring, en drie weke later in Kaap Agulhas geëindig. Nes die vorige twee jaar, het die staproete weer verskil om ʼn nuwe uitdaging aan die vroue te bied.

Die eerste tog van sy soort het in 2022 plaasgevind en tussen Pretoria en Kaapstad geskied, terwyl die tweede een van Vereeniging tot Hartenbos gestrek het. Die jongste staptog was die verste een nog, en het oor ʼn allemintige 1 545 km gestrek.

Hoewel die drie weke se stap maar lank was, kyk Michelle en haar medestappers met liefdevolle herinnering terug na hul ervaring.

“Die woord wat hierdie jaar vir my werklik uitstaan, is hoop,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ons mikpunt was natuurlik om geld vir ons kinders in te samel, maar dit is eintlik ʼn druppel in die emmer in vergelyking met wat ons ervaar het. Dit gaan vir ons oor die groter prentjie – om hoop oor die hele Suid-Afrika heen te skep.”

Sedert die organisasie se eerste staptog kon hulle aansienlike veranderinge aan hul geriewe in Kameeldrif-Oos aanbring. Dié veranderinge sluit onder meer in ʼn groter stoep waar die kinders kan eet en huiswerk doen, ʼn nuwe kinderbiblioteek, die opknapping van die opsigter se kwartiere en die begin van koshuisgeriewe waaroor die organisasie al jare droom.

“Ons het nie soveel ingesamel soos wat ons graag wou nie, maar ons kinders is gelukkig en het alles wat hulle nodig het.”

Die vroue skrik nie vir ʼn uitdaging nie, en is reeds besig om volgende jaar se staptog te beplan.

“Wanneer jy stap, en jy is op die regte plek, roer jou hart.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stefan ·

Sterkte, ek ‘hoop’ julle het ‘n man wat saamloop vir veiligheid want boewe gaan hierdie as ‘n geleentheid sien op ‘n maklike teiken.

Sê maar net ·

Verwarm my hart. Baie geluk. Dit wil gedoen word. Julle wys moed en deursettingsvermoë. God se seën op jul werk toegebid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.