Hope plaaslike talent by wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste

Dr. Ellen Roux, direkteur van SACOPA, saam met die president van WCOPA, Gwen Wilson. (Foto verskaf)

Deur Riaan Grobler

Die wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste (WCOPA) word beskou as die Olimpiese Spele vir dansers, sangers, akteurs, modelle en instrumentaliste. Hier ding kunstenaars uit 28 lande mee op ʼn internasionale verhoog om brons-, silwer-, en goue medaljes en die hoop om as algehele kampioen in hulle afdeling gekroon te word.

Suid-Afrika het ʼn span van 80 lede wat die land met trots in Hollywood by die 28ste WCOPA verteenwoordig. Deelnemers se ouderdomme wissel tussen 10 en 40 jaar oud. Wat die kompetisie nog meer spesiaal maak, is dat die beoordelaars almal bedryfspesialiste is en self in Hollywood werksaam is. In 2017 is die jong Stefan Bezuidenhout van Suid-Afrika deur ʼn musiekvervaardiger, Manny Mijares, raakgesien en hy en sy gesin het intussen na Los Angeles verhuis waar hy ʼn internasionale musiekkontrak geteken het. Stefan is tans op ʼn musiekkonserttoer in die VSA.

Die plaaslike span kry ook voor die kompetisie natuurlik tyd om Los Angeles en Hollywood te verken met besoeke aan The Walk Of Fame, Beverly Hills, Disneyland en selfs Universal Studios.

Dr. Ellen Roux is die afgelope 25 jaar die organiseerder van die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste, SACOPA, wat elke September in Rustenburg in Noordwes gehou word. Volgens Roux het die kompetisie in Suid-Afrika gegroei van 375 deelnemers in 1998 tot oor die 3 000 deelnemers per jaar in 2021. Dit is vir Roux ʼn persoonlike passie om ʼn platform vir opkomende kunstenaars te skep en hulle so te help om hul drome te bewaarheid.

“Ek sê elke jaar dit is die laaste jaar wat ek die kampioenskap aanbied, maar wanneer ek die deelnemers se opgewondenheid en talente op die verhoog sien, dan besluit ek om aan te gaan en weer terug te gaan Los Angeles toe met ʼn span,” vertel Roux. Sy het ook hierdie jaar die toekenning gekry vir die land met die tweede meeste deelnemers.

Span Suid-Afrika 2022. (Foto verskaf)

Die deelnemers kry ook voor die kompetisie die geleentheid om werkwinkels, ook bekend as bootcamps, by te woon. Hierdie werkwinkels word aangebied deur die Hollywood-spesialiste wat ook as beoordelaars tydens die kompetisie optree. Tydens hierdie werkwinkels kry die deelnemers eerstehandse inligting oor wat agter die skerms in Hollywood plaasvind. Daar word ook advies gegee oor hoe deelnemers hul loopbane kan laat groei en waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.

Die eerste dag van die kompetisie het Maandag afgeskop en tot Dinsdag geduur. Tydens hierdie optredes bepaal die beoordelaars die brons-, silwer-, en goue medaljes en besluit ook wie na die semi-finale ronde deurgaan wat oor Donderdag en Vrydag strek. Met die semi-finale optredes word die finaliste vir die finale geleentheid, wat Saterdagaand plaasvind, bepaal.

Die finale gala-aand beloof om ʼn glans geleentheid te wees en uiteraard sal die kompetisie baie straf wees. Dit is tydens hierdie geleentheid waar die kampioen in elke kategorie aangewys word. Die junior en senior algehele wêreldkampioen word ook op hierdie aand aangekondig.

Span Suid-Afrika het besonderse gees, om van hope talent nie eers te praat nie. In die vorige jare het honderde deelnemers weggestap met goue medaljes en die vooruitsig dat dit weer hierdie jaar die geval kan wees, word nie uitgesluit nie.

Riaan Grobler en kameraman Leon Barnardt saam met die Kholwa Brothers van KwaZulu-Natal. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santjie van Soendal ·

Baie dankie Rian vir publisiteit oor hierdie spog-produk van Suid-Afrikaanse talent wat internasionaal meeding en vir geen ander land se talent terugstaan nie. Hierdie geleentheid kos die arme ouers bitter baie geld uit hulle eie sakke, maar het tóg opvoedkundige waarde in vele opsigte. Mens leer jou eie land, herkoms en mense baie meer waardeer. Net twee jammertes: dit is byna tot totaal onbekostigbaar vir talentvolle kinders wat nie ryk ouers het nie. Die $ is nie vriendelik teenoor die R nie, en verslaggewing wat ons nuusblaaie bereik, is jammerlik totaal onderverteenwoordig. Dit is groot kampioenskaps-“event” wat baie meer mediablootstelling plaaslik verdien. Die VSA skep jaarliks van ons room daar af en ploeg dan met ons mooi vet kallers as deel van die VSA-spanne met groot finansiële inspuiting en die res kom maar net terug, terwyl ons land se mense skaars hiervan hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.