Jagters doen hulle deel om honger te bestry

Bakkies Botha en Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, tydens ’n onlangse uitdeelaksie in Apiesrivier, noord van Pretoria. (Foto: Verskaf.)

Met 2020 se jagseisoen wat sy laaste doodskoppe gee, kan Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-span terugkyk na die hoogtepunte wat bereik is in die uitdagings wat die nasionale inperkingsregulasies gebied het.

Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag, sê dat #HelpJag teen die einde van Augustus verlede jaar altesaam 23 ton wildsvleis ingesamel het, en dit het gehelp om te sorg dat 8 000 kleuters deur Helpende Hand se #StopHonger- en #Kosblikkie-voedingskema ’n gesonde bord kos by hul skole ontvang het.

“Vanjaar moes ons steeds sorg dat 8 000 kinders elke dag kos kry, maar omdat die skole vir lank gesluit was, moes ons reël dat hulle kos by hul huise kry. Ons moes dus vir hulle én hul gesinne kos voorsien. Nog ’n dilemma was die streng Covid-19-inperkingsmaatreëls wat verhoed het dat jagters grense kon oorsteek om te gaan jag. Tog kon ons met die hulp van 126 jagters sorg om teen die einde van Augustus sowat 26,6 ton wildsvleis in te samel,” sê Riekert.

In die afgelope drie jaar wat #HelpJag bestaan kon dié instansie met die hulp van sy ambassadeurs en Wild & Jag/Game & Hunt ’n totaal van 68,6 ton vleis insamel.

Riekert noem dat een van die hoogtepunte ’n reuseskenking van 30 blesbokke was wat deur AfriForum se Hulpfonds geskenk is.

Adam Tas, Bakkies Botha en Appel is ambassadeurs van Helpende Hand se #HelpJag-projek. (Foto: Verskaf.)

Nog ’n hoogtepunt was toe die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Appel by die oud-Springbok Bakkies Botha en die sanger Adam Tas as ambassadeur aangesluit het.

Kort daarna is die #RandPerKilogram-inisiatief van stapel gestuur. In plaas daarvan om self te gaan jag kan die publiek, selfs dié wat nie jag nie, teen ’n bedrag van so min as R35 ’n kilogram se wildsvleis skenk. Dié inisiatief duur steeds voort.

Riekert sê hoewel die amptelike jagseisoen nou tot ’n einde gekom het, kan jagters wat nog beplan om te gaan jag of as daar plase is wat wil uitdun, #HelpJag kontak.

Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Mmmm waar is die anti’s nou wat met ‘n vorige artikel so gekla het hierdie is net ‘n foefie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.