Jakarandas blom vir borskanker

(Foto: Laurika van der Linde / Launique Photography)

Elke jaar hierdie tyd wanneer ek in die strate van Pretoria ry en die jakarandabome sien blom, weet ek dit is tyd om gebreide borsprostese uit te deel. In Oktober-maand omhels die Boesemvriendinne-projek van Solidariteit Helpende Hand vroue wat gediagnoseer is met borskanker soos wat die jakarandabome se pers kombers die strate van Pretoria omvou. Oktober is immers nie net die maand waarin ons jakarandas blom nie, dit is ook Borskankerbewusmakingsmaand.

Borskanker is ’n diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie, en daar is nie veel wat enigiemand van buite kan doen om die nuus te versag nie. Baie mastektomie-pasiënte wat dit kan bekostig, kry terselfdertyd ’n borsrekonstruksie, maar vir baie vroue is dit ’n finansiële droom wat onbereikbaar bly. Dit is hier waar Solidariteit Helpende Hand met die idee vorendag gekom het om hul jaarlikse breiprojek te wy aan die maak van sagte borsprostese vir behoeftige vroue.

Terwyl ek by die verkeerslig sit en staar na die pers blommetjies, kan ek nie anders as om ʼn gevoel van dankbaarheid te ervaar vir ons gemeenskap wat saamgestaan het reg oor Suid-Afrika wat al meer as 4 000 gebreide borsprostese aan vroue uitgedeel het nie. Net daar en dan onderneem ek toe sommer by myself dat ek ook sal leer brei en volgende jaar ook saam sal brei. Ek het geen idee waar om eers te begin nie, maar gelukkig bestaan elke breipakket uit die brei- of hekelpatroon, wol, en vullingsmateriaal om een prostese te maak.

Hierdie pakkette is beskikbaar teen R60 en word versprei onder vrywilligers wat bereid is om hul brei- of hekeltalent vir ʼn goeie doel in te span. Dit is ’n projek wat die gemeenskap saambring in ’n gees van teruggee en samesyn. Kontantbydraes word met ope arms ontvang en word gebruik om nog breipakkette te voorsien aan ons gemeenskap wat dan saam brei.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Hierdie jakarandabome moet langs mekaar staan en hulle moet baie wees anders kan hulle nie ʼn jakarandastad skep nie, net so moet ons ook langs mekaar staan in massas om ʼn gesonde gemeenskap te skep. Iets wat mooi is, iets wat volhoubaar is en iets wat aanhou groei en geluk verskaf. Wanneer ons saamstaan, kan ons ongelooflike hoogtes bereik.

Die Boesemvriendinne poog om weer hierdie jaar op 31 Oktober 2 700 gebreide borsprostese aan Kansa te oorhandig.

Die Boesemvriendinne-projek is ’n bewys van die waarheid dat alhoewel borskanker ’n skrikwekkende uitdaging is, daar ’n gemeenskap is wat saamstaan om ondersteuning en waardigheid aan diegene wat dit die meeste nodig het, te bied.

Die Boesemvriendinne-projek is nie net ʼn gebaar van liefde en omgee nie, dit het ʼn netwerk geword van ware vriendinne wat saam staan in Christus om ʼn verskil te maak in ander vroue se lewe, deur bloot net te brei.

Dames, laat ons dan ons breinaalde optel, die kamervenster oopmaak, die son inlaat en terwyl ons na die jakarandas staar, LAAT ONS BREI.

Besoek gerus www.boesemvreindinne.co.za om betrokke te raak. Jy kan kontant skenk sodat iemand anders ʼn breipakket kan ontvang of jy kan jou breinaald opsteek om saam te brei.

  • René Roux is ‘n adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.