Jong sakeman bak, brou dat biesies bewe

Hannes en Chrizanne Erlank. (Foto: Honger Hansie/Facebook)

Daar is min plekke waar Hannes Erlank, beter bekend as die ywerige jong bruintjie-entrepreneur Honger Hansie, so tuis voel soos op ʼn perd se rug.

Dié 11-jarige sakeman het in Oktober 2023 begin bak en brou dat die biesies bewe om genoeg geld in te samel om aan ʼn nasionale perdrykompetisie te kan deelneem. Dit is vir sy ma, Chrizanne Erlank, ʼn riem onder die hart om te sien hoe haar seun nie net agter op die perd se rug floreer nie, maar ook in die kombuis. Dit is immers waar Hannes en sy ma van hul mooiste herinneringe nóg gemaak het.

“Ek en hy is al van kleins af saam in die kombuis,” vertel Chrizanne trots. “Hy wou net altyd betrokke wees. Dit is so lekker om te weet dat hy so ywerig is om te werk en dit reeds so goed kan doen.”

Hannes is ʼn gr. 5-leerling van Laerskool Tygerpoort en hoewel hy ʼn opgewekte jong seun is wat nie vir ʼn bietjie harde werk skrik nie, bied skoolgaan ʼn unieke stel uitdagings weens sy disleksie. Dit is juis waarom hy aanvanklik begin perdry het.

“Perdry is waar hy sy voete gevind het. Dit is waar hy kan ontlaai en net homself kan wees,” vertel Chrizanne aan Maroela Media. “Hoe hy blom wanneer hy op die perd is, is ongelooflik. Dit is ʼn gevoel wat ek nie kan beskryf nie.”

Hannes was nog altyd lief vir perde. (Foto: Honger Hansie/Facebook)

Dit was by sy ma wat Hannes sy liefde vir perdry gekry het.

“Mamma het ná skool op ʼn perdeplaas in Amerika gaan werk. Ek hou baie van diere en veral perde,” vertel klein Hannes. Toe sy ma op ʼn dag vir hom vra of dit iets is wat hy sou wou doen, het hy nie twee keer gedink nie.

Tot dusver was dit een van die beste besluite wat die Erlank-gesin kon neem.

“Toe ons besef dat hy eintlik kwalifiseer om aan die nasionale kompetisie deel te neem, en dat ons nie genoeg geld het om hom te stuur nie, het hy dit met soveel grace en nederigheid hanteer,” onthou Chrizanne.

Chrizanne het net daar besluit dit sal nie weer gebeur nie. Hannes het by sy ouma gekuier toe sy ʼn plan bedink het om bruintjies te begin bak om geld in te samel sodat hy aan elke kompetisie waarvoor hy kwalifiseer, kan deelneem.

Hoe dié bruintjie-onderneming egter in die laaste paar maande gegroei het, was ver bo die Chrizanne of Hannes se stoutste verwagting. Trouens, hulle het reeds in Desember verlede jaar genoeg geld ingesamel om die perdrykompetisie te kan befonds.

“Dit is absoluut net die Here wat vir ons deure oopgemaak het. Ons het die bruintjies by die skool se snoepie begin verkoop.

“Dit is ongelooflik hoe die Here se goedheid is – dit kom beslis nie van ons af nie. Ek het nie geweet hoe ons genoeg geld gaan maak met die brownies nie, maar ons was stomgeslaan met hoeveel geld ons uiteindelik kon insamel.”

Hannes en sy ma bak elke dag drie tot vyf baksels sjokoladebruintjies, wat sowat 54 tot 90 bruintjies lewer. Hannes doen die meeste van die bakwerk, en sy ma help net nou en dan met takies soos die eiers breek, die oond hanteer en die verpakking van elke bruintjie.

Wat Chrizanne veral verstom oor haar seun, is sy oop hart en hande vir mense in nood.

“Wanneer ons iemand sien wat sukkel, wil Hannes net altyd weet of Honger Hansie nie kan help nie. Sy hartjie is op so mooi plek.”

Hannes het vroeër vanjaar sy oomblik in die kollig gesteel toe hy en sy ma ʼn brief en baksel bruintjies by GROOTfm se oggendomroepers, Charonike Nel en Ruben Delmage, gaan aflaai het. As’t ware was dié oomblik in die kollig eintlik glad nie wat die gesin in gedagte gehad het nie, inteendeel was dit eintlik net ʼn gebaar van dankbetuiging.

“Dit was vir ons so vreemd toe hulle ons bel om op hul program te gesels. Ons is nie eintlik mense wat in die kollig is nie,” vertel Chrizanne aan Maroela Media.

“Ons het nie die brief gestuur met die idee dat so iets gaan gebeur nie. Dit was bloot om dankie te sê vir wat hulle in ons lewens doen. Hulle kan dalk dink dat iets wat hulle doen klein of nietig is, maar ek dink nie hulle besef watter groot invloed hulle het op mense nie.”

  • Vir meer inligting oor Honger Hansie besoek hierdie Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ek kan ·

Dis nou regtig ‘n kind om op trots te wees. Spring weg en DOEN iets, in plaas daarvan om, soos wat die mode deesdae is, ‘n skarefinansieringsblad te stig en net van mense te verwag om by te dra.

africangrey ·

Ag hoe wonderlik!!!
Ek is baie trots op jou!!
Aanhouer wen weereens!!!

Miena ·

Aitsa!! Dis mos nou n voel-goed-storie.
Staan opsy Cheff’s Reuben Riffel en Herman Lensing – julle het kompetisie en dinge in die kombuis gaan warm raak blykbaar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.