Jongmense help bou aan Voortrekkermonument

Ernst van Biljon (13), Welmari Ostler (11) en Lee-Anne Kotze (13) het hul eie sakgeld gebruik om sement te koop wat hul aan die VTM geskenk het.

Drie jongmense van Pretoria het hierdie week hul hande diep in hul eie sakke gesteek met een doel voor oë: die opbou en uitbou van die Voortrekkermonument (VTM).

Ernst van Biljon (13), Welmari Ostler (11) en Lee-Anne Kotze (13) van Laerskool Wonderboom-Suid het vandeesweek besluit om hul eie swaarverdiende sakgeld te vat, hardewarewinkel toe te gaan en sakke vol sement te koop om aan die VTM te skenk.

Dié drie het 150 kg sement aan die monument geskenk.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê die VTM is destyds steen vir steen gebou met die hulp van die gemeenskap en kerke van oor die hele land wat geldinsamelingsinisiatiewe aangepak het. “Vandag is die VTM weer afhanklik van die gemeenskap vir ons voortbestaan en die groep jongmense se voorbeeld het die spreekwoordelike sirkel voltooi toe hulle die eerste stene begin lê het vir die pad wat ons die toekoms gaan indra.”

“Toe ons op die VTM se sosiale media sien dat hulle op soek is na skenkings, het ons dadelik besluit ons wil graag help,” het ’n opgewonde Lee-Anne vertel.

“Ek en my gesin kom vreeslik baie na die Voortrekkermonument toe, so ek het nie twee keer gedink om betrokke te raak nie, want dis vir ons belangrik – nie net vir ons geskiedenis nie, maar ook vir ons persoonlik. Die Voortrekkermonument het al vir jare ’n groot plek in ons harte,” het sy uitgebrei.

“Dit is ons monument.”

Vir Ernst was dit ook belangrik om betrokke te raak, want hy glo dat dit hul plig is om te help bou aan ’n toekoms vir die VTM.

“Dit is belangrik om iets terug te gee, veral aan een van ons land se grootste historiese bakens. Ek is baie bly ek het gehelp,” het hy vertel.

Welmari, die jongste van die groep kinders, het op haar beurt gesê sy wil graag eendag weet sy het help bou aan die Voortrekkermonument en daarom was hierdie skenking vir haar so spesiaal.

“Ons voorouers het hierdie monument vir ons gebou en nou moet ons ook help bou aan ’n toekoms vir die monument. Ons kan eendag vir ons kleinkinders sê ons het gehelp.”

Dr. Langner het self ’n draai kom maak om elk van die jongmense persoonlik te bedank vir hul skenking.

“Ek is baie beïndruk met julle,” het hy trots aan hulle gesê.

Langner het afgesluit en gesê dié jongmense is ’n ware voorbeeld vir nie net hul maats nie, maar vir alle Suid-Afrikaners.

“Ek is regtig trots om julle te kon ontmoet en te sien dat daar jongmense is wat sélf inspring om hul kulturele erfenis te beskerm.”

Ernst, Welmari en Lee-Anne wil baie graag hul vriende uitdaag om hul voorbeeld te volg, hul moue op te rol en hul deel te doen om die monument te help voortbestaan.

Hierdie drie jongmense is waarlik erfenisbouers en dié skenking is ’n duidelike uitdaging vir die res van die gemeenskap om ’n nuwe hoofstuk in die VTM se geskiedenis te skryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.