Kathleenstraat 20 se herinnering aan gister

Die huis soos dit vandag lyk. (Foto: Dalene de Vente)

Ek is té sentimenteel. Veral as dit kom by dinge soos oupas en oumas. Ek kan my aan ouma se stories van gister verluister. Soms word die seer van die Tweede Wêreldoorlog lewendig hier voor my as ek vir Ouma luister. Sy en my oupa het in die 1960’s nuut begin in Suid-Afrika. Met ʼn paar draaie rondom die Kaap en Suidwes vind hulle uiteindelik ʼn tuiste in Bellville.

Verlede Desember staan ek voor Oupa en Ouma se huis in Bellville. Wel, dit was hulle huis vir 45 jaar lank, maar ek het nooit afskeid geneem toe ouma uitgetrek het nie.

Die eerste dag wat ek al in die Kaap is, vat my vriendin my na Kathleenstraat 20. Sy bly in die kar sit en los my alleen.

Ek klim uit. Die tuin lyk anders. My oupa se trotse tuin is vaal en verwaarloos, maar die huis lyk nog presies dieselfde.

My hart ruk toe ek dit sien: die krakies in die oprylaan is nog daar. Die egte Kaapse vensters is nog daar. Die deur is nog dieselfde en daar waar my oupa en ouma se naambordjie gehang het, is ʼn leë kol teen die muur.

Ek maak my oë toe. Dit is asof hulle enige oomblik by die deur kan uitstap en koffie aanbied, soos altyd as ons soggens halfsewe, na ʼn lang nag op die N1 vanaf Pretoria, uiteindelik daar aangekom het.

Ek wil aan die deur klop, maar niemand is tuis nie. Tog weet ek dat dit nie dieselfde is nie. Daar hang nie meer raserige horlosies teen die muur nie, die banke is nie meer in die sitkamer nie. Die ronde tafeltjie staan nou in my sussie se huis en die agtertuin lyk seker nog meer verwaarloos as die voortuin. Oupa se rekenaarkamer vol skerms en miniatuur-treintjies is nou nét ʼn gedagte.

Dalk ruik dit nog dieselfde? Sigarette. Koffie.

Ek kry trane in my oë toe ek onthou hoe ek en my nefies gekyk het wie kan die meeste rondtes om die huis hardloop. Ek onthou Kersfeesgeskenke in die sitkamer. In die strate van Bellville rondhardloop saam my broer en sussie. Ek onthou hoe ons modderbroodjies gebak het. Daar was twee poedels en ek was vrek bang vir die goed. Ek dink aan die keer toe Oupa kom kuier het en ʼn verlepte plant uit sy tas gehaal het. “Hierdie plant gaan weer lewendig word in die somer,” het Oupa gesê. “So, moenie dit weggooi as dit dood is nie.” Vandag hang daar nog van daardie plante in ʼn boom in ons tuin in Pretoria. Elke somer begin hulle weer “lewe” met die mooiste pienk en pers blomme.

Ek kyk nog vir een laaste keer na die huis. Probeer dit in my geheue ingraveer. Dan klim ek in die kar en ons ry weg.

Oupa is dood. Al lankal. Ouma bly nou in ʼn pragtige oord. Daar bly ʼn vreemde man in Kathleenstraat 20, maar die herinneringe leef in my hart.

Ek moet tog onthou om uit te vind wat ʼn mens die plant noem, want ek het myself belowe ek sal altyd daarvan in my tuin hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Wow….pragtig.
Ek het ook so n huis De Wetstraat 70 in Worcester. My ouerhuis waar my ouers amper vir meer as 50 jaar gebly het.

Liza M Roux ·

Ek het so baie herinneringe aan daai huis! Te veel om op te noem!

Mooi geskryf! Ek dink dalk het almal so ‘n plek wat eens was…

OneWheel ·

Dalene, in ‘n sekerer sin is dit ook wel ‘n reisstorie – miskien meer ‘n interne reis.

Nommer 7 ·

My kindertyd huis in die sestigs was Die Randstraat 309, Menlopark. Wonder wie bly nou daar. My pa se voelhokke en my duiwehok bestaan seker lank al nie meer nie.

Ronel ·

Genade hoe verlang ek nou – en as ek so baie verlang, dan droom ek in die nag van ons huis en my oupa-hulle se huis. Mooi drome, mooi herinneringe – iets wat ons nooit sal vergeet nie. Soms wens ek mens kan net een keer weer teruggaan en weer ‘n Kersfees daar beleef, met al die familie saam, almal wat in die sitkamer sit en kuier na die tyd, nadat sekeres van ons die skottelgoed gewas het en opgeruim het, (wat altyd gebeur het), die laggery oor die snaakste goed – ai, dis so lekker om daaraan te dink maar tog maak dit ook seer!!!! Kosbaar!

Piet ·

Ek was die ander dag in Bearstraat, Kuruman. Vyftig jaar na ons getrek het. Wat ‘n gemors!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.