Kimoné mik hoër met fonds vir bakkie, studie

Kimoné se onderneming heet “Oom Peet se Dienste”. (Foto: Verskaf)

Sowat ʼn jaar gelede het die 17-jarige Kimoné van der Merwe haar eie bakkie – ene oom Peet se 1973 Volkswagen-bakkie – aangeskaf en sommer in ʼn japtrap ook haar eie onderneming op die been gebring wat haar sou help om dié ryding af te betaal.

“Oom Peet was aanvanklik huiwerig om die bakkie aan my te verkoop, want hy het dit gebruik om sy tuinvullis mee weg te ry. Ek en my pa het met hom onderhandel en hy het ingestem om die bakkie aan my te verkoop, mits ek ook sy tuinvullis 12 maande lank wegry,” het Kimoné destyds aan Maroela Media vertel.

Haar onderneming heet “Oom Peet se Dienste” en dit was haar pa se idee dat hulle ander mense in die omgewing se tuinvullis ook verwyder om ʼn ekstra inkomste te verdien.

Kimoné, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Zwartkop in Centurion, sê nou dat haar onderneming nog volstoom aan die gang is, al is haar aandag in hierdie stadium meer by haar skoolwerk.

Wanneer sy nie self agter die stuurwiel kan inspring om vullis weg te ry of hout af te lewer nie, is haar broer en sy vriende darem daar om uit te help.

“ʼn Mens kan maar sê dat my broer die bestuurder van my besigheid is. Hy en sy vriende wat bakkies het help om ‘Oom Peet se Dienste’ aan die gang te hou terwyl ek leer vir die eksamen,” verduidelik Kimoné.

Toe haar pa onlangs ʼn aanbod kry om in Calvinia te gaan werk, het Kimoné ingestem om die bakkie vir hom te leen. Sy vertel dat dit ʼn uitdaging vir die onderneming was, maar dat dit vir ʼn goeie doel was.

“My pa was en is nog altyd daar vir my. Hy is altyd bereid om my te help om my onrealistiese doelwitte en drome na te jaag. Toe die geleentheid hom voorgedoen het om my pa se droom te bewaarheid, het ek besluit om my bakkie vir hom te leen totdat hy terug op sy voete is.”

Te danke aan Kimoné se dinamiese geaardheid het hierdie situasie haar nie ondergekry nie. Inteendeel, sy het planne beraam en toe ʼn Back-a-Buddy-fonds gestig met die doel om geld vir ʼn nuwe ryding in te samel.

Pa Nico en haar geliefde bakkie is intussen weer veilig terug by die huis, maar in plaas daarvan om die fonds te sluit het Kimoné besluit om die geld vir iets anders aan te wend.

“Noudat die bakkie weer beskikbaar is, het ek besluit om voort te gaan met die geldinsameling. Daar is baie herstelwerk aan die bakkie, die remme moet vervang word en die wielsporing is ook uit.

“Enigiemand wat vir my geld wil skenk om die bakkie te herstel en te restoureer, is welkom. Daarmee kan ek die bakkie regmaak en aanhou om met ‘Oom Peet se Dienste’ ʼn verskil in die gemeenskap te maak,” sê sy.

Kimoné van der Merwe by haar 1973 Volkswagen-bakkie. (Foto: Verskaf)

Dan is daar ook studiedrome wat hierdeur bewaarheid kan word. Kimoné sê sy wou nou nog altyd ʼn onderwyser geword het, omdat sy voel dit is waarvoor sy geroep is.

“Ek is opgewonde oor die moontlikheid om verder te studeer. Dit is vir my ʼn groot motivering om aan te hou werk, want ek het ʼn passie vir kinders en sal graag eendag ʼn onderwyser wil wees.”

Kimoné se droom is veel groter as haar vrees vir die uitdagings wat voor haar lê.

“Die grootste les wat ek geleer het, nie net in my onderneming nie maar met ander dinge in die lewe ook, is dat enigiets moontlik is as jy God aan jou sy het. Dit het my nog die heeltyd gemotiveer om aan te gaan.”

Enigiemand wat tot die herstelwerk van Kimoné se bakkie, of moontlike verdere studie, wil bydrae kan dié blad vir meer inligting besoek.

Besoek ook die Facebook-blad Oom Peet se Dienste of stuur vir Kimoné ʼn Whatsapp by 061 627 5374 om haar onderneming te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Gaan studeer onderwys by AROS. Dan kan jy nog werk in die week. Ek dink klasse is net Vrydae en Saterdae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.