“Kinderfees” vier kinders, van Genadendal tot Elim

Kinderfees in Goedverwacht. Foto: Verskaf

Min mense in Suid-Afrika weet van Kinderfees – ʼn fees wat op plekke met poëtiese name soos Genadendal, Elim, Pella en Sondagskloof gevier word. Dié fees, wat vanjaar op 20 Augustus gevier is, is nie een of ander kommersiële gedoente nie. Dit het  ʼn ryk en mooi geskiedenis wat uit die 1700’s dateer.

Susanna Kühnel is in 1716 in Morawië in die Tsjeggiese Republiek gebore. Ná die Dertigjarige Oorlog het die Kühnel-gesin saam met ander vlugtelinge na Duitsland gevlug. ʼn Duitse edelman en toegewyde Christen, Nicholaus von Zinzendorf, het die vlugtelinge toestemming gegee om hulle op sy plaas te vestig. Hier, aan die voet van die Hutberg, het ʼn klein, Godvresende gemeenskap ontwikkel wat later begin bekend staan het as Hernnhut, wat “onder God se beskerming” beteken. Susanna en haar gesin het reg langs die kerk gewoon.

Op 17 Augustus 1727 het die 11-jarige Susanna Kühnel haar lewe vir Christus gegee. Haar getuienis oor haar bekering het ʼn geestelike herlewing tot gevolg gehad onder die kinders in Herrnhut. Sedertdien word Susanna se bekering jaarliks gevier op die Sondag wat die naaste aan die 17de Augustus val, met ʼn fees bekend as Kinderfees.

Die Morawiese Sendingkerk is in Suid-Afrika gevestig toe Georg Schmidt in 1738 die eerste Suid-Afrikaanse sendingstasie in die Wes-Kaap begin het. Schmidt is deur die Morawiese Sendinggenootskap gestuur om die Evangelie aan die Khoi te verkondig. Hy het hom in April 1738 in die Baviaanskloof (soos die dorp eers bekend was) gevestig. In 1806 is die naam na Genadendal verander.

Nadat Schmidt die eerste gemeente gestig het, het dit ’n paar jaar geneem voordat Kinderfees op dié gemeente in Genadendal se kerkkalender aangebring is. Stadig maar seker het die tradisie van Kinderfees na die ander Morawiese sendingstasies versprei: Elim, Spanjaardkloof, Sondagskloof, Mamre Pella, Morawian Hill en Eldoradopark, om ʼn paar te noem.

Kinderfees gaan oor die kind. Die dag begin met ’n basuin-orkes wat voor die kerk liedere speel. Daarna volg ’n erediens wat deur ouers en kinders saam bygewoon word. Elke kind is netjies en spoggerig uitgevat – dit is immers húl fees.

Dan is dit huis toe vir bolletjies en koeldrank. Ná ete is daar ʼn spesiale diens vir die kinders, met sy eie liturgie. Hierna gaan groepies kinders by verskeie huise in die dorp sing, en as beloning kry hulle mosbolletjies, lekkers en tee.

Die viering van Kinderfees in stede en op sendingstasies verskil redelik baie. Op sendingstasies is die gemeenskap ten nouste betrokke. Die skool, wat ’n Morawiese Sendingskool is, rig sy koor af om ook in die kerk te sing. Die Donderdag en Vrydag voor Kinderfees vaar die kinders die veld in om fynbos te gaan pluk waarmee die kerk dan versier word. Die versiering is deel van die heuglikheid en word deur kind en onderwyser gedoen. Die kerk pronk behoorlik van die mooiste veldblomme.

Die middag-erediens is baie spesiaal: die liturgie word deur die kinders gevolg, en net hulle, die predikant en hul ouers kan die diens bywoon.

In stede is die Morawiese Kerk se reikwydte beperk. Gemeentes het nie dieselfde luukse as die sendingstasies nie. Daarom gebeur dit klokslag dat stedelinge na sendingstasies uitwyk om die gebeurtenis te gedenk.

Kinderfees, Oesdankfees, die Pase en Kersfees is van die groot Christelike feeste wat die Morawiese Kerk jaarliks gedenk.

Oud-president Nelson Mandela het in Oktober 1995 die volgende gesê: “Een van Genadendal se tradisies wat vir my baie besonders is, is die jaarlikse Kinderfees; wanneer al julle kinders die berg opklim om wilde blomme te pluk waarmee julle dan die kerk versier. Ek dink die simboliek van hierdie eeue oue tradisie is baie belangrik in die nuwe Suid-Afrika. Ons moet instellings soos die kerk en waardes van respek vir alle mense, wat oor eeue heen in ons gelowe oorgedra is, vir die toekoms behou.”

Dit som Kinderfees op – die samesyn en respek vir mekaar.

Morawiese Sendingkerk se Kinderfees, Graad R-klas. Foto: Verskaf

Die digter Ronnie Belcher het Kinderfees ook in ’n gedig besing…

Genadendal

’n Dowwe plaatjie: Welkom te Genaal
sê ons is nog familie; want dis hier
dat ons met Kinderfees en Broedermaal
genadiglik ʼn samesyn kan vier
wat eie is; in elke voorhuis hang
ons testament in ʼn vergulde raam:
’n blanke oupa met soldaterang,
kind op die skoot, trots met sy bruin vrou saam.

Onder die soet van bliekombalk en riet
het ons deur jare vasgevleg geraak
met stringe ui en brandvloer op palmiet
aan ’n verlede wat ons trotser maak
oor voorgeslagte wat ons ken, maar weet
ons wit neefs het hul lankal reeds vergeet.

Uit : Ringe in ʼn geelhoutboom, Perskor, 1982

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae