Kinderhuis plant bome vir ’n gesonder toekoms

Herman Jacobs, terreinbestuurder van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, en van die kinders en personeel het saam pekanneutbome op Lentedag gplant. (Foto: Verskaf.)

Dinsdagoggend, wat landwyd as Lentedag gevier word, het die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKKN) in Limpopo 20 pekanneutbome geplant as simbool van ʼn nuwe lewe en ʼn nuwe seisoen vir die kinders wat hier woon.

Die plan is om later nog sowat 180 bome met die hulp van Ivan Otto van Limpopo Pecan Growers by die kinderhuis aan te plant.

“Bome is van sleutelbelang vir die mens se voortbestaan. Om bome te plant dra soveel positiewe betekenis wat ons ook graag aan ons kinders wil oordra. Dit bekamp lugbesoedeling, vervaardig suurstof en help om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder. Dit voorkom ook erosie, verskaf skaduwee en help dat water stadiger uit die grond verdamp.

“Net soos grond sekere behoeftes het om ʼn boom gesond te laat groei, het ons kinderhuis ook sekere behoeftes om ons kinders ’n gesonde opvoeding te gee. Ons skenk gesonde lewe en bied hoop vir die toekoms by AKKN,” het Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die kinderhuis, gesê.

Van der Merwe wil lesers nooi om ook deel te wees van die besonderse “geboorte” van nuwe hoop in hierdie kinders se lewe. Die AKK Nylstroom se strategie hiervoor is om by soveel Suid-Afrikaners moontlik ʼn klein maandelikse skenking te kry vir ʼn fonds vir die kinderhuis.

Thabo Moselane en Marlene de Villiers van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom plant saam nog ‘n pekanneutbome. (Foto: Verskaf.)

Die 170 kinders van die AKK Nylstroom het onlangs na hul onderskeie skole begin terugkeer.

“Ons kinders was egter nog glad nie terug by hul biologiese, naweek- of vakansie-ouers sedert die aankondiging van die landwye afsondering op 17 Maart vanjaar tot die aankondiging van vlak 2 nie. Hulle was Desember 2019 laas vir vakansie uit die kinderhuis. Dit het sommige van hulle erg negatief en depressief gelaat hoewel die huisouers en personeel hulle so gemaklik en gelukkig moontlik probeer hou met prettige aktiwiteite,” verduidelik Van der Merwe.

Afgesien van die negatiewe uitwerking op die kinders se persoonlike en emosionele welstand het die kinderhuis ook finansieel onder die Covid-19-maatreëls gely. Die meeste geldskenkers aan die kinderhuis was ongelukkig verplig om hul gereelde bydraes te staak.

Die AKK Nylstroom is ’n niewinsgewende organisasie wat dié kinders versorg wat weens verwaarlosing of mishandeling uit die sorg van hul ouers verwyder is en wetlik in die kinderhuis geplaas is. Die kinderhuis ontvang ʼn staatsubsidie vir die versorging van die kinders, maar die subsidie dek slegs ongeveer 50% van die kinderhuis se algehele begroting.

“Soos wat die grond sekere behoeftes het om die boom mooi te laat groei, het ons kinderhuis ook behoeftes om ons kinders fisiek, emosioneel en geestelik te laat groei.”

SMS die woord FONDS na 39236 (R15 b’s & v’s geld) om ʼn skenking te maak wat ʼn kind sal help. Sangeres Corlea Botha, oud-Springbokkaptein Wynand Claassen, motiveringspreker en ontwerpster Elzaan van der Merwe, asook dr. Riekie Smit, ʼn bekende estetikus, is almal beskermhere en -vroue van die AKK Nylstroom en staan aan die spits van hierdie projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.