Kinders se briefies vir Kersvader laat onnies lag en bloos

Kinders van Pikkie Park Educare in Welgelegen, Wes-Kaap, het hulle wense vir Kersfees neergepen.

Chris Edwards, eienaar van dié dagsorgsentrum, het die briewe met sy selfoon afgeneem en aan Maroela Media gestuur.

Van die items wat die kinders graag onder hul Kersboom wil hê, sluit in ʼn “nerf-blaster”, “twintig kaartjies na Engeland” en ʼn fiets met al die “eksesseres”.

Hoewel dit eers volgende jaar ʼn skrikkeljaar is, het ʼn flambojante bloeisel nie op haar laat wag nie en vir Kersvader presies gesê hoe sy oor hom voel: “Ek hou baie van jou, kan ek asseblief ʼn rowbow-kar kry.”

Nog een van die kinders het gesorg vir behoorlike vermaak en het al die onderwysers laat skaterlag met haar brief. “Here is a joke why didint the skelleten go to the ball because he had no body to go with.”

Edwards sê die brief het ook glo die plaaslike raadslid laat “verstik soos sy lag”.

ʼn Seuntjie wat duidelik duur smaak het, skryf hy soek graag ʼn “Mazooratie” en ʼn “Alexander Carmichael”-speelgoedmotor vir Kersfees. Hy het ook die motor presies onderaan die brief vir Kersvader geskets.

Een kind speel met Kersvader se emosie terwyl sy skryf: “Liewe Kersvader, vir die Kersfees wens ek dat ek alles kan kry, maar ek weet dat ek nie alles sal kry wat ek wil hê nie, maar as ek iets sou kry, wil ek ʼn VR-headset en ʼn selfoon hê. Ek wens regtig dat ek die twee dinge kan kry.”

In swartvetkryt wens ʼn seuntjie hoflik vir Kersvader ʼn geseënde Kersfees toe – alles in hoofletters – en begin dán eers vra vir die goed wat hy graag onder die boom wil hê. Dit sluit in ʼn krieketkolf en ʼn Lego-stel.

Iets wat glad nie verbaas nie is dat Apple-produkte ʼn klomp keer op die wenslysies kop uitgesteek het. Nog ʼn seuntjie meen hy was baie soet die jaar en wil daarom graag ʼn iPad hê.

ʼn Kleuter se ma was glo “lekker rooi in die gesig” ná haar dogter gevra het dat sy hopelik volgende jaar nie meer polonie op haar toebroodjies sal kry nie, maar eerder “kaas en koeked ham”.

Edwards sê dit is vir hom altyd interessant om te sien dat sommige kinders steeds vir dinge soos ʼn troeteldier vra terwyl die meeste vir elektroniese toestelle vra.

“Dit is hartverwarmend om te sien dat sommige kinders nog grootgemaak word om ander se behoeftes eerste te plaas.

“Een meisie in die klas het vertel hoe hulle al hul gebruikte speelgoed aan ʼn organisasie geskenk het, terwyl drie ander elkeen ʼn geskenk vir ʼn anonieme kind ingepak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.