Kleinrivierstrandmeer: Dít gee my hoop

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Die welbekende Grottostrand op Hermanus het gewemel van mens en hond. CEM-, CY-, CA- en ook ʼn paar GP-nommerplate het in die laatmiddagson weerkaats. Sover jy kon sien het mense opgewonde op die strand aangestap gekom vir die onverwagte gebeurtenis. Kindertjies het uitbundig rondgehardloop en selfs die honde wat ingelaai en op die stand losgelaat is se sterte het heen en weer geswiep van lekkerkry. Die energie het in die laatmiddagson vibreer. Hier en daar is strandstoele uitgesit vir die okkasie, want ʼn okkasie wás dit. Dis nie aldag dat die Kleinrivierstrandmeer deurbreek see toe nie. Dit het in der waarheid vyf jaar laas gebeur.

Die mense drom saam om die Kleinrivier-strandmeer te sien uitmond in die see by Hermanus. (Foto: Lizma van Zyl.)

Dit klink dalk nie na iets opspraakwekkend nie en het definitief nie die nuushooftrekke gehaal nie, maar vir Hermanus en omgewing se mense en diegene wat gelukkig genoeg is om ʼn strandhuis in die “Walvishoofstad” te hê, is dit spesiaal. Selfone het oortyd gewerk soos die riemtelegraaf deur die dorp getrek het om die “deurbreek” wyd en syd te versprei. Selfs die “admin” van buurtwag WhatsApp-groepe wat normaalweg streng is oor inhoud het maar oë weggedraai (en self in hulle motors gespring). Die mense het gehoor en hulle het gekom – in hordes – en selfoonkameras het gekliek soos min – nie net vir die bruisende water nie maar ook vir familie-selfies. Sorge is vir eers vergeet.

Vir wetenskaplikes is die deurbreek belangrik omdat die Kleinrivierstrandmeer (ook bekend as “Kleinriviersvlei”) ʼn veeldoelige ekologies-sensitiewe stelsel is en van tyd tot tyd moet uitspoel. Dit was in ʼn stadium ʼn jaarlikse gebeurtenis, maar die droogte het ook hier sy tol geëis. Die deurbreek kan slegs gebeur wanneer die strandmeer na gereelde en baie swaar reën so vol raak dat die water deur die sand tot in die see in beur. Dis ʼn stadige proses en begin met ʼn straaltjie water wat dan oor ʼn dag of drie in ʼn borrelende massa verander.

Die strandmeer soos dit gelyk het voor dit na die see deurgebreek het. (Foto: Lizma van Zyl.)

Ek vertel die storie want die gebeure was vir my vir ʼn ander rede spesiaal. Ek het my verwonder aan mense se verwondering! Dat soveel asems te midde van geweldig baie lyding en uitdagings nog in ekstase kan raak oor iets soos ʼn strandmeer wat deurbreek. Dít gee my hoop en so ʼn bietjie gemoedsrus. Hierdie virus gaan ons almal op verskillende vlakke nog tot die uiterste beproef, maar sal ons nie op ons knieë dwing nie – dalk net om te bid.

Wat hierdie gebeurtenis oor twee sonsondergange op ʼn spierwit strand wat verder strek as wat die oog kan sien nog meer betekenisvol maak, is dat ek dit kon deel met ʼn kosbare vriend wat die aanpassing op ʼn nuwe dorp soveel sagter maak.

En ek dink aan daardie wonderlike woorde van Albert Einstein: Wie ook al ontneem is van die kapasiteit vir verwondering; wie ook al onaangeraak bly; wie ook al nie die diep siddering van ʼn siel in verwondering ken of kan begryp nie – kan net sowel dood wees want hy het sy oë reeds vir die wêreld gesluit.

En ek praat dan ook met myself as ek sê: kom ons tel ons koppe op en begin nie net hoor nie, maar ook luister; nie net kyk nie, maar ook sien!

Êrens is daar ʼn strandmeer wat deurbreek.

‘n Lugfoto van die strandmeer nadat dit an die see deurgebreek het. (Foto: Curtis JI Bailey.)

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie ·

En niemand het ‘n video van die geleentheid om met Maroela te deel nie?

Santie Gildenhuys ·

My liewe kollegas
Ek is nou so verward soos net ‘n Suid-Afrikaner in lockdown kan wees.
Ek wonder of iemand my kwelvrae kan antwoord…
1) Hoe swem ‘n mens sonder om nat te word? ????‍♂️
2) Hoe braai ‘n mens sonder vuur? ????
3) En hoe beplan jy iets as als heeltyd verander? ????
Maar sekerlik die grootste skoolhou paradoks ooit:
ALLE SKOLE IS GESLUIT TOT 24 AUGUSTUS, BEHALWE VIR DIE GR. 12’S WAT OP 3 AUG. BEGIN EN DIE GR. 7’S WAT OP 10 AUG. BEGIN. ????
Nou vra ek u: wie sluit oop, wie deaktiveer die alarm, wie saniteer, wie edukeer (geforseerde rym)? Wie gee leiding aan die paar verwarde leerlinge en hulle vakonderwysers wat opdaag? En wie maak ‘n plan as sommiges nie opdaag nie?
Onwillekeurig kom die mantra uit ANIMAL FARM van George Orwell by my op: ALL animals are equal, but some are more equal than others… ????
ALL schools are closed, except those for gr 12 and 7…????
Ai jai jai, mense.
Ns. Laat asb. ‘n antwoord by die toe drankwinkel op die hoek. O gatta, amper vergeet ek…ek bly mos i

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.