Kom ontspan by die Pretoria-fees

Net soos in die verlede sal daar weer ‘n verskeidenheid van sangers en musikante by die Pretoria-fees gehoor kan word. (Argieffoto: Maroela Media)

Hierdie jaar se Pretoria-fees beloof om iets vir elke lid van die gesin te bied. As jy dus nog kopkrap oor hoe jy almal gaan besig hou oor die langnaweek, is dit dié fees waar jy wil wees.

Met die intrap slag gaan die Pretoria-fees se protea-tent jou asem behoorlik wegslaan. Daarna gaan jy al met die pad langs jou self kan verwonder aan alles by die skou wat mooi en opwindend is.

Trek jou stapskoene aan en kom loop kuier-kuier saam met jou gesin en vriende deur al die stalletjies tot by die hoofverhoog.

Die buitelug-ekspo van die fees het buiten die pragtigste proteas, ook nog uitstallers wat spesialiseer in landbou, huis- en tuinbenodighede, motors, buitelewe en selfs ʼn kleinhandelskou.

Vir die mense wat nog jonk van gees is, is daar ʼn ferriswiel en mallemeule, met hope vermaak, genoeg heerlike kosstalletjies en ʼn bier- en wyntuin om te verseker daar is heeldag lank iets vir almal om te doen.

Feesgangers geniet die vermaak by ‘n vorige Pretoria-fees. (Foto: Maroela Media)

Een van die hoogtepunte van die Pretoria-fees is natuurlik vier dae van musiek, en van ons land se voorste musikante sal tydens hierdie geleentheid optree. Kunstenaars soos Spoegwolf, Zaan Sonnekus, Appel, Snotkop, Jan Jan Jan, Demi Lee Moore, Bobby van Jaarsveld, Elandré, Sonja Herholdt, Ruhan du Toit en André Schwartz, om maar ʼn paar te noem, is deel van die indrukwekkende verskeidenheid sangers wat enige musiekliefhebber se voete sal laat jeuk.

Daar is vanjaar ʼn tema vir elke dag se musiekprogram:

  • Vrydag 29 Maart − Alte-Lekka Alternatief
  • Saterdag 30 Maart – Alte-Lekka Afrikaans
  • Sondag 31 Maart – Alte-Lekka Opskop
  • Maandag 1 April – Alte-Lekka Nostalgie

“Hierdie is die grootste opelugskou en musiekfees in Pretoria. Kom verken, beleef en haal sommer net weer behoorlik asem by die Legends MX-avontuurplaas op die R515-pad, net oos van Pretoria, van 29 Maart tot 1 April,” het Liza en Ross Welsh, koördineerders van die fees, tydens hul onderhoud in Maroela Media se ateljee gesê.

Veilige parkering is ook gratis vir alle feesgangers. As jy ʼn uitstappie wil maak van die dag, is daar ook daagliks parkeer-en-ry-geleenthede saam met P Bier-busdienste vanaf die Kolonade-, The Grove- en Irene Village-winkelsentrums na die fees.

Die Pretoria-fees vind van 29 Maart tot 1 April by die Legends MX-avontuurplaas, net oos van Pretoria, plaas. Koop jou kaartjie nou aanlyn by www.pretoriafees.co.za of by die hekke tydens die fees. Sien jou daar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.