Kunstenaar vertel van beroep van liefde

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Chanelle Correia, ʼn kunstenaar van Kaapstad, is bekend vir haar sielvolle kuns en unieke familie-portrette. Inteendeel, hulle hele familie is kunssinnig en een kyk na haar werke bevestig ʼn lewenslange liefde vir kuns.

Chanelle is gebore in Kaapstad, en sy sê die kunstigheid kom van haar ma se kant van die familie af, maar daar is ook kuns en musiek aan haar pa se kant. Boonop is al vier haar suster se beroepe ook in ʼn kunstige veld.

“In graad 8 het ek die vakprys vir kuns verwerf, waarna ek toe opgehou het met kuns. Ek was oortuig daarvan dat daar nie ʼn toekoms in die kunsrigting was nie. Ná matriek het ek ʼn brugjaar geneem en by firmas beland waar ek die boekhou-afdeling baie geniet het.” Sy het besluit dat sy graag ʼn rekenmeester wou word. Ná die geboorte van haar eerste dogter, Mila, het sy besluit dat sy liefs ʼn beroep wou volg waar sy meer tyd tuis kon spandeer. Op 27-jarige ouderdom het sy besluit om haar werk prys te gee en voltyds te begin skilder. “Ek het toe vir die heel eerste keer ʼn verfkwas in my hand vasgehou, en het oor tyd vir myself tegnieke aangeleer. Aan die begin van my loopbaan het ek by heelwat galerye uitgestal en het ook ʼn klein kunsgalery besit. Ek het dit verkoop ná die geboorte van my tweede dogter, Katya.”

Alhoewel haar kunsberoep aanvanklik begin het as ʼn keuse om meer tyd saam met haar dogter te spandeer, het dit oor die jare verander in ʼn beroep van liefde. “Dit is ʼn passie, ʼn liefde en wie ek geword het. Ek staan elke oggend op met opwinding om te ontdek wat ek volgende gaan skep.” Sy vertel dat as kunstenaar spandeer ʼn mens daagliks ure alleen met jou eie gedagtes, en in hierdie tye het sy tot die besef gekom dat stil word wysheid oplewer. “Die wysheid dat ʼn mens moet bid, maar ook dat ʼn mens moet stil word om te kan hoor. Ná jy vra in gebed, moet jy God ʼn beurt gee om te praat deur self stil te word om Sy leiding te kan hoor. Die wysheid dat ons nie alleen is nie, daar is liefde om ons en in ons. Daar is tye waar jy bid en dan moet jy tyd maak om te luister. Jy moet die wêreld om jou stilmaak sodat jy God se stem kan hoor.” Dit is hierdie boodskappe wat sy oordra in haar kunswerke. Dit is in haar tye van afsondering en stilte wat haar kreatiwiteit ontwikkel en nuwe reekse geskep word.

“My inspirasie kom van emosies en van alles om my wat mooi is. Ek word geïnspireer deur baie kunstenaars en enige vorm van kuns. My skilderye word geïnspireer deur ʼn biblioteek van inspirasie, foto’s en visuele flitsbeelde (snapshots) wat ek maak en dan omskep in my eie.”

Chanelle se vroeë werk het meer gefokus op dekoratiewe skilderye, maar dit het verander na skilderye waarmee sy ʼn boodskap van hoop wil oordra. “Dit is vir my belangrik dat die kyker iets wegneem wanneer hulle na my werke kyk. ʼn Kalmte, hoop, liefde en die wete dat ons nie alleen is nie. As kunstenaar is my doel dat my kunswerke ʼn herinnering sal wees van alle positiewe emosies en veral van hoop. ʼn Herinnering aan die mooi wat binne ons almal leef.”

Ons leef in tye waar mense swaarkry, en al wat nodig is, is ʼn bietjie hoop om weer moed te hê om verder te stap. Chanelle was van kleins af baie sensitief en het baie empatie vir mense. Sy glo dit is hierdie eienskap wat haar help om emosies op haar skilderdoek vas te vang. “Wanneer ek skilder beplan ek rofweg wat ek graag wil skep, maar die meeste van die kreatiewe besluite gebeur soos wat ek werk. Wanneer ek skilder word ek stil, ʼn mens beweeg amper in meditasie en dan vloei die kreatiwiteit deur my. Wanneer ek deur ʼn moeilike of uitdagende tyd gaan kan ek nie skilder nie, daar is ʼn blok. My kreatiwiteit vloei slegs wanneer ek kan stil raak, sonder die kommer of geraas van die wêreld. Ek is net ʼn instrument, die persoon wat die verfkwas vashou terwyl kreatiwiteit, God en emosie deur my vloei en omskep word in my skilderye.”

Chanelle is nie baie lief vir die kollig nie, sy verkies om in isolasie te werk. Dit is juis vir hierdie rede dat sy nie uitstallings doen of haarself te veel blootstel nie. Sy besef wel dat sy tog ʼn bietjie van haarself moet deel sodat haar volgelinge haar storie kan leer ken. Behalwe skilder het sy ook vir vier jaar kunsklasse vir kinders aangebied, ʼn galery besit, inkleurboeke geïllustreer vir Struik Christian Media en ʼn reeks kreatiewe boeke self gepubliseer.

Die afgelope tien jaar is Chanelle ʼn enkelouer en haar kinders is haar grootste dryfkrag. “Dit is vir my belangrik om vir hulle te leer dat ʼn vrou op haar eie voete kan staan, dat harde werk beloon word en dat jy jou passie moet en kan uitleef. Ek is spiritueel en glo dat God my gebruik om ander te help deur my kuns; om diegene wat dit sien net vir ʼn oomblik weg te voer in my storie van liefde en hoop en om hulle te herinner van die mooi wat binne hul leef. Die mooi wat jy sien in my werk, of dit hoop, liefde, empatie, sagtheid is, is wat binne jou leef.”

Chanelle se werke is tans te koop op sosiale media soos Facebook en sy doen ook kuns op aanvraag. Besoek gerus haar Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.