Kunstenares wys haar eko-omgee met natuurlike rots

Hannelie besig om haar kunswerk te konseptualiseer. Een van haar uitdagings was om haar rotskuns in harmonie met die ruwe suidpunt te laat saamsmelt, en terselfdertyd ‘n boodskap van natuurbewaring oor te dra. (Foto verskaf)

Deur Pierre Massyn

Haar liefde vir die planeet en die natuur vind uitdrukking in haar kuns. Die geleerdes noem dit eko-wetenskap, maar Hannelie Coetzee roep haar kunsvorm, ekokuns.

“Dit is eintlik ʼn kombinasie van wetenskap en kuns,” vertel Hannelie, wie se jongste kunswerk onlangs op Afrika se suidelikste punt, in L’Agulhas, bekendgestel is.

In samehang met Parkeraad en ʼn borgskap van Agence Francaise de Développement, wat €15 000 (sowat R300 000) vir die projek bewillig het, het Hannelie besluit op ʼn tema wat sal inskakel by ʼn aktuele vraagstuk van ons tyd, soos aardverwarming.

“Die ikoniese suidpunt van Afrika was die aangewese plek om vergestalting aan my kuns te gee. Dis boonop die ontmoetingspunt van die Indiese en Atlantiese Oseaan, net soos die kuns en wetenskap nou in dié werk ontmoet.”

Haar missie was om iets konkreets maar tog simbolies te skep, wat berus op die tema. Sy het besluit op ʼn mitologiese seewese en met haar kunstenaarsoog het sy in die rotse by die bouterrein langs die historiese Kaap Agulhas se vuurtoring moontlikhede gesien.

“Ek het die rotse laat herwin, na die suidpunt laat vervoer en my kunswerk het begin vorm aanneem.”

Hannelie se eko-rotskuns op Afrika se suidpunt. (Foto verskaf)

Natuurlik sou plastiek en ander kunsmatige materiaal hoegenaamd nie ingepas het by die bykans heilige atmosfeer van die suidelikste punt nie, daarom was klip die ideale medium voer Hannelie aan.

“Dit het my groot bevrediging gegee om rotsklip, wat andersins moontlik verlore sou gaan, te omskep in iets wat nie alleen vir my skeppend is nie, maar terselfdertyd ʼn boodskap uitdra: respekteer die natuur!”

Die bord neffens die rotskuns dui aan dat Hannelie se seewese die Kleiner Gevlekte Kaapse Skepsel is. Dit is natuurlik ʼn fiktiewe wese, maar dit dra nogtans ʼn universele betekenis.

“Die realiteite is dat die aarde verwarm, die seevlakke styg en wesens wat die planeet met ons deel bedreig en uitgewis word.”

Sy staan tussen oeroue rotse waarop ligene nog groei – ʼn organisme wat slegs voorkom waar die lug skoon en onbesoedeld is.

Met haar kuns stuur Hannelie ʼn sterk boodskap van bewusmaking uit. Die onderliggende beginsel in daardie boodskap is, laat ons die aarde red voor dit te laat is.

ʼn Treffende boodskap as ʼn mens dink daar is in die Overbergstreek, net bo die suidelike punt, maar net 4% van natuurlike Renosterveld oor.

Hannelie is oorspronklik van Harrismith, “maar die Dopper-gemeenskap was vir my net te konserwatief”, en sy het uitgewyk Johannesburg toe waar sy op haar kuns kon konsentreer. “Ek is eintlik ʼn eko-feminis,” vertel sy ondeund. Na sy die platteland se stof van haar skoene afgeskud het, het sy ʼn MSc-graad aan Wits verwerf.

Hannelie Coetzee (regs) hier in die geselskap van dr. Wendy Folen (SANParke) en Audrey Rojkoff van die borge Agence Francaise de Développement wat 15 000 Euros, oftewel nagenoeg R300 000 vir die projek bewillig het.(Foto verskaf)

Die onthulling is voorafgegaan deur ʼn werkswinkel vir ʼn plaaslike beweging, wat hoofsaaklik op die jeug gemik is, die Eko-veldwagters. Daar was ook ʼn “stille protes” oor die vergrype wat die mens deurlopend teen die natuur pleeg. Verskeie hooggeplaastes, soos die wyksraadslid van se suidelikste munisipale wyk in die Kaap Agulhas munisipaliteit dr. Andries Eksteen, en die wyksraadslid belas met toerisme Karin Donald, het die geleentheid bygewoon.

“Ons is verheug om hierdie treffende beeld op die suidpunt van Afrika te onthul. Die projek getuig van die mag van samewerking tussen verskillende organisasies en individue met ʼn gedeelde visie vir ʼn beter wêreld. Hier aan die suidpunt van Afrika is die Agulhas Nasionale Park vandag ʼn terrein van reuse-betekenis vir klimaatsverandering. Ons hoop hierdie beeld inspireer mense van alle ouderdomme om die skoonheid van die natuur te waardeer en om saam te werk om dit vir toekomstige geslagte te waardeer,” het dr. Wendy Folen, SANParke se wetenskaplike vir klimaatsverandering, by die geleentheid gesê.

Audrey Rojkoff, streeksdirekteur: Suider-Afrika van Agence Francaise de Développement, het die klem laat val op haar organisasie se rol in natuurbewaring, veral onder die jeug.

  • Pierre Massyn is die medestigter van die Suidpunt Omgewings-Alliansie en die Suiderstrand Aksiegroep.

Pierre Massyn by Dhiraj Nariandas, die nuwe parkhoof van die Agulhas Nasionale Park. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.