Kyk: Vroue fliek in hul pajamas!

(Foto: Maroela Media/Mariska Nanni)

1780 vrouens van regoor Suid-Afrika het Donderdag vir die eerste keer sedert die pandemie die Finesse Voelgoed Fliekaand bygewoon, en dit in hul pajamas! Verskeie uitgesoekte Ster-Kinekor teaters is beskikbaar gestel vir hierdie geleentheid.

Dit was ʼn aand wat enige vrou weer soos ʼn tiener sou laat voel het. Die teaters was vol vrolike gesigte wat saam lag vir die beeldskone Julia Roberts en aantreklike George Clooney in die splineternuwe romantiese komedie, Ticket to Paradise.

Venessa Schoeman, redakteur van Finesse Voelgoed Media, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hulle elke jaar ʼn fliekaand hou vir hul gehoor, maar dat die pandemie dit die vorige twee jaar onmoontlik gemaak het.

“Dit is maar net regtig vir die vroue om bietjie weg te kom en te ontvlug van hulle gewone roetine,” sê Schoeman. “Ons is daarop gerig om vroue te laat goed voel oor hulself en hul verhoudings. Die fliekaand is ‘n geleentheid vir vroue om pret te hê en iets saam met hulle vriendinne te doen wat vir hulle lekker is.”

Skoene is vir pantoffels verruil en dames het met hul teddiebere – en krullers in die hare – voor die groot skerms gaan plak. “Daar was groepe vroue wat dieselfde nagklere aangetrek het, wat baie oulik was. Almal was so kreatief, iets van elke kleur en geur” sê Schoeman.

Bekendes soos Andriette Norman, Wilma van der Bijl, Sue Pyler en Rika Nieuwoudt het saam kom fliek en ja, ook in hul pajamas. Vrouens wat die geleentheid bygewoon het kon sien hoe lyk Venessa Schoeman en medewerkers soos Gretha Wiid, Karen Basson, Minette Visser en Rhona Erasmus in hul nagklere.

“Ons het baie goeie terugvoer gekry van die vroue, almal het dit baie geniet. Dit verskaf groot genot om in jou nagklere te gaan fliek. Almal in die winkelsentrum kyk jou aan en jy voel eintlik ‘n bietjie uit plek uit, maar dit is deel van die ervaring en pret van die aand,” sê Schoeman.

(Foto: Maroela Media/Mariska Nanni)

Dit was egter nie alles net vir pret nie, maar vir ʼn goeie doel ook. Finesse Voelgoed Media het vanjaar besluit om 10% van die inkomste wat tydens die aand gegenereer word aan Helpende Hand se borskanker projek, ‘Boesemvriendinne’, te skenk. Hierdie projek is gestig om vroue te help wat nie silikoonprosteses of borsreskonstruksie kan bekostig nie.

“Almal wat ons fliekaand bygewoon het, het outomaties 10% aan die Boesemvriendinne projek geskenk,” vertel Schoeman trots.

Behalwe vir die fliek, is elke vrou ook bederf met ʼn geskenkpak wat ʼn Finesse Voelgoed-tydskrif, ʼn geskenkboek, springmielies, afslagbewyse en vele meer ingesluit het.

“Ek glo die fliekaand was ʼn reuse sukses en dat ons in ons doel geslaag het, en ek vertrou dat volgende jaar se fliekaand van krag tot krag sal gaan.”

Dié fliekaand is moontlik gemaak deur PharmaForce in samewerking met Maroela Media as mediavennoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

My vrou sal nooit so-iets kan doen nie: sy mag aangekla word van openbare onsedelikheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.