Leerders blink uit in virtuele debatskompetisie

Virseker_student_rekenaar_pixabay.jp

Argieffoto (Foto: Pixabay)

AfriForum bied die afgelope ses jaar ʼn uiters suksesvolle onvoorbereide nasionale debatskompetisie onder die vaandel van Dink of Sink aan. Dié kompetisie kon vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer weens die Covid-19-inperkings slegs virtueel plaasvind.

Dit het egter nie die deelnemers se entoesiasme gedemp nie en ʼn ryk oes van 64 inskrywings, wat pas klaar beoordeel is, is ontvang (nege meer as in 2020). Die wenners se pryse word deur AfriForum en Akademia geborg.

Hoërskoolleerders kon aan die virtuele kompetisie in spanne van drie elk deelneem. Omdat die doel van die kompetisie is om belangstelling in aktuele sake te bevorder en deelnemers te leer om op hulle voete te argumenteer, het onderwerpe soos gebruiklik oor onlangse nuusgebeure en brandpunte gehandel.

Die onderwerpe is telkens spesifiek vir elke span geskep sodra hulle inskrywings aanlyn ingestuur is. Spanne moes hulle debatvoering dan opneem en binne ʼn vasgestelde tyd afhandel, waarna dit aanlyn ingedien moes word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is dit verblydend om te sien dat die leerders, onderwysers en afrigters ten spyte van uitdagende omstandighede met soveel geesdrif deelgeneem het.

“Dikwels moes opnames van debatte uitgestel word omdat iemand siek was, moes isoleer, of selfs ʼn geliefde aan die dood afgestaan het. Nogtans het die spanne deurgedruk en debatte van hoogstaande gehalte ingeskryf.

“Ons opregte dank gaan aan elke deelnemer, onderwyser en afrigter wat moeite gedoen het om ten spyte van die moeilike omstandighede Afrikaanse debattering en die kompetisie lewend te hou.”

Daniël Eloff, een van die kompetisie se beoordelaars, meen dit is bemoedigend om te sien hoe skoledebat van krag tot krag gaan, ten spyte van die uitdagende omstandighede van die afgelope twee jaar.

“Skoledebat is so gesond en mededingend soos altyd en berei ʼn wonderlike generasie van jong leiers vir ons land se toekoms voor.”

Akademia se projekkoördineer van die skolemark, Leah van Heerden, sê dat dié instelling jaarliks by Dink of Sink betrokke is om voornemende studente wat graag die kuns van debatvoering wil bemeester, te ondersteun.

Van Heerden sê verder dat Akademia graag die Afrikaanse gemeenskap ondersteun met opbouende inisiatiewe soos dié waar debatvoering uiteindelik ʼn baie nuttige werksplek- of lewensvaardigheid is om te ontwikkel.

In die junior kategorie is Elanzé Kuhn, Nicol Jordaan en Waldo Haasbroek van Helpmekaar Kollege as die wenners aangewys. Die naaswenners is Helpmekaar Kollege se Nelius van Graan, Karla Prinsloo en Lilian Geecki.

Megan Kruger, Miné Hermann en Megan Jones van Afrikaanse Hoër Meisieskool het die senior kategorie gewen en Afrikaanse Hoër Seunskool se Ruben Joynt, Wian van Rooyen en Jan Wiese van is as die naaswenners aangewys.

Pryse is vanjaar ook toegeken aan die ses beste individuele sprekers in die twee kategorieë. Dit is spanlede wat hulle standpunte besonder goed kon motiveer of oordra, of uitsonderlike keurige Afrikaans ingespan het om dit te doen.

Die beste individuele sprekers in die junior kategorie is Elanzé Kuhn (Helpmekaar Kollege), Karla Loots (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje), Klara Brand (Hoërskool Durbanville), Marelize Meyer (Hugenote Hoërskool), Tanya Pieterse (Hoërskool Nelspruit) en Eileen Vermeulen (Hoërskool DF Malan).

In die senior kategorie het Megan Kruger (Afrikaanse Hoër Meisieskool), Jan Wiese (Afrikaanse Hoër Seunskool), André van Graan (Helpmekaar Kollege), Elsabé Paulsen (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje), Danielle Roux (Durbanville Hoërskool) en Simon Killian (Hoërskool Linden) as die beste sprekers uitgeblink.

AfriForum hoop dat die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie aanstaande jaar weer oudergewoonte sal plaasvind met vier streeksuitdunne en ʼn nasionale eindronde in Pretoria. Die formaat en datums sal aangekondig word sodra daar meer sekerheid hieroor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.