Los die stadsgedruis en kom word ’n stadsboer

(Foto verskaf deur Berchtesgaden)

Ongeveer 200 km van Pretoria af, net ʼn entjie buite Vaalwater in die hartjie van die Waterberge, is daar ʼn besonderse bosveldjuweel: die Berchtesgaden Game Ranch & Lifestyle Farm.

Die span agter Berchtesgaden het drie jaar gelede besluit om met ʼn veldskool te begin. Die idee is gebore uit hul liefde vir die natuur, die opbou en behou van moeder aarde en die voortbou en bewaring van ons fauna en flora. Vanjaar word die alombekende Jong Stadsboer Veldskool vir die vierde keer op dié pragtige stuk grond aangebied.

Die veldskool beteken jongmense kry die kans om vir sewe dae uit die stad weg te breek, weg van die gedruis van voertuie, vragmotors en vliegtuie en die gejaag na wind. Hulle kan rus kom vind in die bosveldstilte, grondpaaie, donker nagte en hakkiesdraad. Berchtesgaden verwelkom graag weer voornemende jong boere (daar is slegs 30 plekke) om tydens die skoolvakansie in Maart 30 te kom deel in die pret van ʼn ware stadsboer wees. Kom neem deel aan die bedrywighede op dié werkende wilds- en boerplaas.

Berchtesgaden Game Ranch is die tuiste waar kinders hulle wild- en natuurkennis en alles wat daarmee gepaardgaan kan uitbrei en laat gedy. Berchtesgaden Lewenstyl Boerplaas leer jou kind  oor tradisionele boerdery met vee en gewasse. Het jou kind al ʼn blikbeker warm melk reguit vanuit Trixie se spene gedrink, of warm beesmis opgetel en tussen hulle vingers gedruk tot dit uitpeul? Nou is die kinders se kans!

Die Jong Stadsboer Veldskool vind vanaf 26 Maart tot 1 April plaas. Alle leerders van gr. 8 tot gr. 10 is welkom om in te skryf, maar onthou dat daar net plek is vir 30 leerders. So, skryf vandag nog in om teleurstelling te voorkom.

Die program het ten doel om die jeug aan boer-en wildsplaasaktiwiteite bloot te stel. Hulle word geleer om die aktiwiteite te bestuur asof dit hulle eie grond is. Alles gaan ook nie net oor boerdery nie, daar word ook aandag gegee aan sterrekuns, ʼn nagwaak waartydens daar in ʼn bos geslaap word, vuurmaak sonder vuurhoutjies (anders is daar nie koffie nie!), swem en vlotbou, en vele meer. Die kinders sal elke aand uitgeput wees. Na ʼn dag se harde werk op hetsy die boerplaas tussen melkbeeste, skape, hoenders, varke en boerbokke, óf die wildsplaas, keer die leerders terug na die saligheid van die lodge. Hier sal hulle die bosveld se bekroonde stiltes en naglewe ervaar asook aan maaltye smul (want ʼn boer moet eet!).

Akkreditasie? Moenie daaroor bekommerd wees nie. ʼn Bekwame leierspan berei die breë kurrikulum voor en dit word gereeld bygewerk. Die kinders ontvang praktiese kennis wat hulle kan saamneem en by die huis uitleef (as hulle wil teruggaan!), al is dit net in die agterplaas tot tyd en wyl.

As jou kind dus oorborrel van energie, ʼn passie vir die natuur en ʼn liefde vir boerdery in die breë het, en mal is oor die buitelewe en avontuur, sal hierdie week jou kind soos ʼn handskoen pas.

Daar is min geleenthede daar buite om ons kinders terug in die natuur te kry en die werklike plaaslewe eerstehands te ervaar. Hierdie bied hulle die geleentheid en verryk jou kind se kennis oor die lewe buite die stad.

Vir meer inligting of enige navrae oor die veldskool stuur ʼn e-pos aan [email protected] of stuur ʼn Whatsapp aan 083 250 7989.

Kyk ʼn kort video van Berchtesagden Game Ranch hier.

Loer in op Berchtesgaden se webblad asook die Facebook-bladsye van die wildsplaas en leefstylboerplaas waar jy jou tyd gaan spandeer. As jy op datum wil bly wat by ons aangaan, laaik die bladsye.

As jy wil inskryf, doen dit hier.

(Grafika verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.