Luister: Broers lewer getuienis oor ‘beste jare in kinderhuis’

Die broers, Dewald en Jaco Green, het in Maroela Media se ateljee gesels oor hulle ervaring in die Louis Botha-kinderhuis in Pretoria.

Twee broers, Dewald en Jaco Green, se lewe het handomkeer verander toe hulle as tieners in die Louis Botha-kinderhuis in Pretoria geplaas is.

Hulle het in ʼn onderhoud met Maroela Media openhartig gesels oor die aanvanklike skok toe hulle eendag deur ʼn maatskaplike werker van die huis af weggeneem is. Dit was weens onstabiele huislike omstandighede wat met alkoholmisbruik gepaardgegaan het.

“Ek dink nie ʼn mens kan vir enigiemand beskryf hoe dit voel wanneer die lewe wat jy ken, skielik van jou af weggeneem word nie. Dit gebeur so vinnig, en jy besef dit nie.

“Al het ons in ʼn huis grootgeword waar dit nie altyd ʼn gesonde omgewing was nie, bly dit jou huis, jou pa en ma en broers. Dit is alles net so van ons af weggevat. Op daardie oomblik was dit baie tragies, en ek onthou dat ons vreeslik gehuil het,” vertel Dewald.

Jaco het dit in baie opsigte dieselfde as Dewald ervaar. “Dit was natuurlik nie lekker aan die begin nie. Dit was ʼn groot aanpassing en dit het lank gevat om tot verhaal te kom. Jy besef daar is omtrent 10 ander ouens in die huiseenheid wat in dieselfde bootjie as jy sit.”

Die aanpassing in ʼn vreemde omgewing was dus enorm, maar algaande het dit huis geword, ʼn plek waar hulle ondersteuning, standvastigheid en sekuriteit ervaar het.

“In die eerste week wat ons daar aangekom het, het ek die heeltyd gewonder hoe ons hierdeur gaan kom, wanneer ons terug huis toe sal kan gaan, en wat my ouers gaan doen om ons uit daardie situasie te red.

“Mettertyd het ek begin besef dit is net nog ʼn huis met broers en ʼn huisma en -pa. Toe ek tot daardie besef kom, het ek geweet dinge gaan oukei wees,” voeg Dewald by.

As hy vandag ʼn boodskap vir kinders en tieners kan gee wat self in ʼn kinderhuis of soortgelyke omstandighede vasgevang voel, is dit om op die uitkyk te wees vir daardie dinge wat hoop gee. “Hou ook vas aan mense wat vir jou ʼn ondersteuningsnetwerk bied.”

Jaco voeg by dat kinders met ʼn doel daar geplaas word. “Jy word nie in ʼn kinderhuis gesit omdat iemand daar buite besig is om jou te straf nie. Die kinderhuis is daar om vir jou ʼn gesonde, stabiele fondasie vir jou kinderjare te gee.

“Jy moet self besluit om die beste daarvan te maak, anders gaan jy dalk later terugkyk en dink aan hoe lank jy in die kinderhuis deurgebring het en hoe slegte tyd dit vir jou was.”

Vandag is Dewald en Jaco ontsettend dankbaar vir die lewenslesse wat hulle in die kinderhuis geleer het, vir persoonlike groei en geleenthede wat hulle help vorm het in die mans wat hulle vandag is.

Dewald is tans ʼn senior binnenshuise argitek by een van die grootste argitekfirmas in Afrika.

Jaco is ʼn onderwysassistent by Laerskool Hennopspark in Centurion, en hy is besig om onderwys deur Unisa te studeer. Te danke aan die kinderhuis, het Jaco ʼn skuba-instrukteur geword en hy hou hom nauurs daarmee besig.

Die broers beskou hulleself as groot familiemanne wat graag die beste lewe vir hulle vrou en kinders wil bied.

“Ek is baie lief vir my werk en hoewel dit ʼn groot deel van my lewe vorm, is ek ʼn familieman. Ek het ʼn wonderlike vrou, Cárene, en ons is tans verwagtend met ons eersteling,” sê Dewald.

Jaco sluit hierby aan wanneer hy sê: “Ek geniet ook my werk ongelooflik baie, en is nes my broer ook ʼn groot familieman. Ek en my vrou, Ché-vonne, het ʼn seuntjie van amper vier, en sy verwag nou ons tweede baba.”

Wanneer ʼn mens so na Dewald en Jaco sit en luister, staan een ding soos ʼn paal bo water uit: Dié broers het die beste uit hulle verlede geneem, elke moontlike geleentheid by die kinderhuis aangegryp, en nou kyk hulle met selfvertroue en dankbaarheid vorentoe.

  • Luister boaan na die volledige onderhoud met Dewald en Jaco Green.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.