Luister: Dié mense gaan spring vir liefdadigheid

Monique en Dillon Lerm, die organiseerders van die #Jumping4Petals-projek. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

’n Hele paar flukse (en fikse) mense durf eersdaags die trampolien aan om 10 km ten bate van liefdadigheid te spring.

Die #Jumping4Petals-projek vind op 22 en 23 April vanjaar in trampolien-ateljees landwyd plaas en beoog om soveel moontlik sanitêre produkte vir vroue in nood in te samel.

“Ons het hierdie projek drie jaar terug begin met een ateljee en 30 mense. Daardie jaar kon ons 27 pakkies insamel,” vertel Dillon Lerm, een van die organiseerders van die projek.

Hierdie jaar is daar reeds 23 trampolien-ateljees en meer as 300 springers wat aan die geleentheid gaan deelneem. Dillon beoog boonop om 35 000 sanitêre pakkies vanjaar in te samel, iets wat hy as ʼn reusehoeveelheid, dog doenbaar, beskryf.

Ateljees gaan onder meer vanuit Stellenbosch, Somerset-Wes, Alberton, Sinoville, Parkrand, Akasia, Delville, Fairland, Benoni, Lambton, Sasolburg, Dalview, Brakpan, Gqeberha, Edenvale, New Castle, Pietermaritzburg, Boksburg, Bultfontein, Centurion, Kempton Park en Bryanston by die geleentheid inskakel.

Die springers gaan elkeen 10 km op klein trampoliens ten bate van die jong meisies en vroue in hul omgewings aandurf.

Diegene wat sou wou, kan springers en die kilometers wat hulle spring borg. Dié fondse sal dan gebruik word om sanitêre produkte aan te skaf wat aan huise van veilige bewaring vir vroue geskenk sal word. Die onderskeie gemeenskappe waarin die springgeleenthede plaasvind, sal baat by wat ingesamel word daartydens.

“Almal geniet dit en dit is boonop goed vir jou gesondheid! Jy kan dit selfs in ʼn groep doen, as jy sou wou,” vertel Dillon oor dié sportsoort wat die afgelope paar jaar behoorlik vlamgevat het onder atlete en ander sportliefhebbers.

“Die oefening werk nogal deur jou hele lyf. Daar is lekker musiek wat speel, dit voel amper asof jy in ʼn akrobatiese klas is,” vertel Monique Lerm.

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Dillon en Monique Lerm, organiseerders van die #Jumping4Petals-projek.
  • Om uit te vind hoe jy ʼn springer kan borg, bydrae kan lewer of betrokke kan raak, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anneke ·

Ek voel skielik baie dom en supid, hoe meet ‘n mens km as ‘n mens spring?

pamela ·

Ek spring self op die klein spring matter, jy vat maar die average steps wat jy spring. Wanneer ek draf, is +- 1000 – 1200 steps 1 kilometer. DIs maar hoe ek dit meet. Maar goeie vraag, sal like om te weet hoe hulle dit gaan meet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.