Luister: Vrou se bekeringsreis van heksery tot geloof

Natasha Nagel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Wat begin het as ʼn “onskuldige speletjie” om met oorlede geliefdes te kommunikeer, het gelei tot gevaarlike en donker bedrywighede waaruit Natasha Nagel vir langer as tien jaar nie kon ontsnap nie.

Die 35-jarige het egter ná ʼn skrikwekkende ervaring, en danksy die ingryping van haar geliefdes, haar lewe omgekeer en uit die kloue van haar geestelike demone ontsnap.

Nou deel sy haar traumatiese en intense bekeringsreis met ander in die hoop om diegene wat ʼn teiken daarvoor kan wees teen soortgelyke gevare te waarsku.

“Só iets gebeur nie net oornag nie, dit is ʼn geleidelike proses wat jou sonder waarskuwing kan insluk en laat voel of jy nooit daaruit sal kan ontsnap nie,” vertel sy in ʼn podsending-onderhoud met Maroela Media.

Nagel in donkerder tye. (Foto: Verskaf)

Die Tzaneen-boorling is weens ʼn ernstige motorfietsongeluk in gr. 11 reeds uit die skool en het by haar familie se sakeonderneming aangesluit.

“Ek het gevolglik ʼn lewe van algehele leemte en gebrokenheid gelei – vasgevang in erge depressie, angstigheid en verslawing. Ek wou net êrens inpas en het myself in aanlyn kletskamers in hierdie ‘fantasie’ van heksery ingeleef.”

Nagel brei ook in dié onderhoud uit oor die uitwerking wat verskeie traumatiese gebeure uit haar kinderjare, asook haar gebroke verhouding met haar pa, op haar betrokkenheid by die okkulte gehad het.

“Ek het in ʼn Christelike maar uiters disfunksionele huis grootgeword. Wanneer my pa sy Sondagpak aangetrek het, was hy ʼn heilige man, maar agter toe deure was dit ʼn heeltemal ander storie. Ek is ook geleer dat God kwaai en ver van ons almal af was.”

Sy vertel ook verder in dié openhartige gesprek waarom sy aanvanklik huiwerig was om haar boodskap en geestelike reis met ander te deel.

“Ek was bang dat mense my sal oordeel en verwerp, maar ek deel nou my boodskap om die Here te dien; hoe mense kies om dit te ontvang is buite my beheer.”

Nagel is vandag gelukkig getroud en werk saam met haar man, Juan Nagel (33), by haar familieonderneming in Tzaneen.

Natasha Nagel en haar man, Juan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy vertel dat haar man egter voor hul ontmoeting ook sy eie geestelike struikelblokke, onder meer alkoholverslawing, moes oorkom. Die egpaar pak nou hul bekeringsreis verder saam aan en praat by kampe, kerke en rehabilitasiesentrums oor die hele land heen om hul stories te deel.

Nagel kon ook haar verhouding met haar pa herstel voor sy dood in 2016.

“Dit is ongelooflik watter rol vergifnis in ʼn mens se lewe speel. Om mense wat my voorheen te na gekom het, te vergewe en vry te spreek het ʼn groot uitwerking op my eie vryheid en bekering gehad.”

Haar toekomsdroom is om saam met haar man voltyds in die bediening te gaan.

“Dit klink dalk vir party mense na ʼn cliché, maar dit is absoluut my hartsbegeerte om God se werk te doen en om mense te sien bevry word. Ek voel dit is nou my roeping.”

Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Dankie vir die Waarheid. Natasha baie sterkte en seen vir jou bediening. Die stryd is aan!

De Villiers ·

Ek is baie bevoorreg!

God het my nog voor die grondlegging van die aarde uitverkies om Sy kind te wees en niks sal dit ooit kan verander nie.

Al sou ek ‘n speletjie speel om met oorlede geliefdes te kommunikeer, sal Hy my nie laat verlore gaan nie.

Geen demoon, bose gees of bo natuurlike mag of krag sal ooit enige hou vas op my lewe kan kry nie, want Jesus se bloed beskerm my altyd, 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 365 dae ‘n jaar tot in eweigheid!

My God is Almagtig en Hy het nog voor die grondlegging van die aarde aan alle demone, bose geeste en of bo natuurlike magte verklaar dat ek Sy kind is, en dat hulle geen gesag oor my OOIT sal he nie! Nooit in ewigheid sal hulle my van Hom of kan vat nie!

Niks hiervan is deur my eie toedoen of enige keuse wat ek gemaak het erens in my lewe nie, geen dag of datum waar ek tot bekering gekom het nie, ALLES is net genande wat God aan my geskenk het sonder dat ek een druppel daarvan verdien!

Prys die Here!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.