Ma (50) se trekkerrit om dogter se toutrekdroom te bewaarheid

Corné Els (50) gaan nagenoeg 1 600 km per trekker aflê. (Foto: Verskaf)

Kom wind, kom weer … niks sal dié ma keer om etlike kilometers per trekker af te lê sodat haar dogter later vanjaar in Switserland aan die wêreldkampioenskap vir toutrek kan deelneem nie.

Corné Els (50) vertel aan Maroela Media dat sy op 19 Junie uit Krugersdorp vertrek en dan binne 18 dae nagenoeg 1 600 km tot in Robertson in die Wes-Kaap wil aflê. Dit is in ʼn poging om geld vir haar 16-jarige dogter, Marconette, se deelname aan die toutrekkampioenskap in te samel.

“Ek en my man probeer om by ons kinders die ingesteldheid te kweek dat jy moet werk vir wat jy wil hê. Hierdie trekkerrit is ʼn sprekende voorbeeld daarvan.

“Natuurlik dink my man en kinders dat ek effens gek is om so iets aan te pak, maar ek wil dit graag vir my dogter doen. Sy is ʼn go getter wat hard werk en ons is ongelooflik trots op haar.”

Marconette is gekeur om Suid-Afrika in die senior afdeling van die kampioenskap te gaan verteenwoordig. Sy is egter self vir heelwat uitgawes verantwoordelik en daarom het Corné aan moontlikhede begin dink oor hoe om die geld bymekaar te maak.

Marconette Els (16) is gekeur om Suid-Afrika in die senior afdeling van die wêreldkampioenskap vir toutrek te gaan verteenwoordig. (Foto: Verskaf)

Corné, ʼn ma van drie spruite, besit haar eie onderneming. Haar lewe en lewensbeskouing het ingrypend verander nadat sy in 2012 met borskanker gediagnoseer is.

“Daardie hele reis waardeur ons is, het vir my ʼn ander perspektief op die lewe en ons kinders gegee. Ek was in daardie stadium baie bang dat ek nie my kinders gaan sien grootword nie.”

Die gesin woon in Strand, maar hulle besit ook ʼn stuk grond in die Wieg van die Mensdom-omgewing. Dit is waar Corné aan die idee vir ʼn trekkerrit gekom het.

“Daar is baie voorbereidings wat getref moet word. Ons is reeds met instandhoudingswerk aan die trekker besig, die roete is so te sê gefinaliseer, en ek het klaar ʼn ondersteuningsvoertuig wat saam met my gaan ry.

Met dié trekker gaan Corné Els nagenoeg 1 600 km aflê om haar dogter se toutrekdroom te bewaarheid. (Foto: Verskaf)

“My doel met hierdie inisiatief is om vertroue in die samelewing te herstel en hoop te skep. Baie mense wonder of dit gedoen kan word, maar by my is daar geen twyfel nie. Ek is vasbeslote om hierdie rit suksesvol te voltooi.”

Haar gesin sal ʼn deel van die reis saam met haar aflê, en sy is ook opgewonde oor die mense wat sy op haar roete gaan ontmoet. Haar roete sluit in: Krugersdorp, Ventersdorp, Hartbeesfontein, Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Hartswater, Jan Kempdorp, Kimberley, Jacobsdal, Hopetown, Britstown, Vosburg, Carnarvon, Williston, Calvinia, Touwsrivier, Montagu en Robertson.

As ʼn slotgedagte voeg Corné by dat Titus 3:15 deurgaans vir haar ʼn bron van motivering is: “Almal wat hier by my is, stuur vir jou groete. Gee ons groete aan ons vriende in die geloof. Die genade sal by julle almal wees!”

Om ʼn bydrae tot die trekkerrit te maak deur ʼn kilometer te borg, kan jy ʼn e-pos aan Corné Els stuur na [email protected] of haar skakel by 078 802 7911.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.