Ma en haar trekker veilig tuis ná rit van duisende kilometers

Corné Els (50) het die afgelope naweek stof in die oë van haar twyfelinge geskop en die byna 1 800 km-rit suksesvol voltooi toe sy Saterdag bewoë by die Babylonstoren-wynplaas in Klapmuts opgedaag het. (Foto: Verskaf)

Baie mense was skepties oor die byna 1 800 km-rit wat Corné Els (50) van Krugersdorp na Robertson op ʼn 68 jaar oue Massey Ferguson-trekker wou aanpak.

Corné het die afgelope naweek egter stof in die oë van haar twyfelinge geskop en die rit suksesvol voltooi toe sy Saterdag bewoë by die Babylonstoren-wynplaas in Klapmuts opgedaag het.

“Ek ervaar nog steeds ʼn gevoel van oorweldiging wanneer ek aan die afgelope twee weke terugdink. Dit was ʼn baie emosionele tog, maar op ʼn positiewe en verrykende manier.

“Dit is werklik net deur God se genade dat ons so iets kon regkry. Behalwe vir sy hand van beskerming wat oor ons was, het ek van die begin tot die einde soveel ondersteuning van familie, vriende en vreemdelinge af ontvang,” vertel Corné aan Maroela Media.

Maroela het vroeër berig dat Corné die rit aangepak het in ʼn poging om geld vir haar 16-jarige dogter, Marconette, in te samel. Marconette wil later vanjaar in Switserland aan die wêreldkampioenskap vir toutrek gaan deelneem.

Dit het Corné 13 dae geneem om die roete van sowat 1 800 km, wat deur vyf provinsies kronkel, te onderneem. Sy moes onderweg aanpassings maak weens swaar reën wat sommige paaie ontoeganklik gemaak het.

Corné Els (50) het die byna 1 800 km-rit van Krugersdorp na Robertson op ʼn 68 jaar oue Massey Ferguson-trekker aangepak. (Foto: Verskaf)

Eintlik is sy effens teleurgesteld dat die rit afgehandel is, omdat daar nou nie meer elke dag ʼn geleentheid is om nuwe mense te ontmoet en die land te verken nie.

Dit is die wildvreemde mense wat elke aand kos en slaapplek aangebied het, die gasvryheid waarmee Suid-Afrikaners hulle op hartlike wyse ontvang het en die stories wat om kombuistafels en rondom ʼn braaivleisvuur gedeel is, wat Corné altyd sal bybly.

“Ek wou graag iets doen om my dogter te ondersteun, en in die proses het ek iets beleef wat jy nie met geld kan koop nie. Dit het werklik opnuut vir my ʼn deel van Suid-Afrikaners se oop hand en warm harte kom wys.”

Hoewel sy nou met groot dankbaarheid en ʼn vol gemoed terugkyk, was Corné aan die begin self onseker en het sy nie heeltemal geweet wat om van die trekker, weersomstandighede en die verloop van gebeure te verwag nie.

Die eerste twee dae was ʼn goeie leerskool om te bepaal hoe vinnig en ver hulle kan ry. “Ek moes ook eers my sit kry en gemaklik raak in die trekker,” voeg sy skertsend by.

Die res van die rit het ʼn groot avontuur geword, en in ʼn oogwink is dit nou verby. “Op geen stadium het die gedagte by my opgekom om moed op te gee nie. Ek het elke dag aangepak met ʼn absolute afwagting en opwinding oor wat die dag inhou.”

Sy vertel laggend dat haar Massey Ferguson ook die rit gemaklik afgehandel het en dat dit voortaan op die Babylonstoren-wynplaas verder sal werskaf. “Die wynplaas het my genader om te hoor of hulle die trekker kan koop, so daar is geen sprake van ʼn spreekwoordelike aftrede nie,” lag Corné.

Dit het Corné Els (50) 13 dae geneem om die roete van sowat 1 800 km, wat deur vyf provinsies kronkel, te onderneem. (Foto: Verskaf)

Hulle het Maandag 19 Junie uit Krugersdorp vertrek en die doel was om R100 per kilometer in te samel sodat Marconette later vanjaar in Switserland aan die wêreldkampioenskap vir toutrek kan deelneem.

Marconette is gekeur om Suid-Afrika in die senior afdeling van die Wêreldkampioenskap, wat op 31 Augustus begin, te gaan verteenwoordig. Sy is egter self vir heelwat uitgawes verantwoordelik en daarom het Corné aan moontlikhede begin dink oor hoe om die geld bymekaar te maak.

Die doel is om R160 000 in te samel, waarvan Corné reeds sowat R100 000 met die trekkerrit bymekaar gemaak het. Indien jy steeds ʼn bydrae wil maak, kan jy ʼn e-pos aan Corné Els stuur na [email protected] of haar skakel by 078 802 7911.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

RS ·

Die trekker handelaar kan mos maar help met die res. Sy het so mooi en baie reklame vir hulle gemaak.

Lillian ·

Ek is seker iewers is daar iemand wat daai laaste paar rand sal borg. Die Massey Ferguson maatskappy dalk self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.