Maatskaplike werkers as #hoopdraers gekroon

Izanda Ferreira van Pretoria is as #Hoopdraer aangewys (Foto: verskaf)

Nege maatskaplike werkers het Internasionale Maatskaplikewerkdag behoorlik gevier toe hulle as #Hoopdraers deur Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde en Helpende Hand bekroon is.

“Die doel is om erkenning te gee aan maatskaplike werkers wat ʼn onblusbare passie vir hul werk het en ondanks moeilike omstandighede die fakkel van hoop in hul gemeenskappe bly dra,” het Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgildes, gesê.

Die publiek kon sedert Februarie maatskaplike werkers van hul omgewing op Helpende Hand se webwerf benoem. Die wenners is tydens Helpende Hand se jaarlikse Wil-om-te-help-werkswinkels landwyd aangekondig.

Dié werkwinkels behels heerlike bederfoggende en netwerkgeleenthede. Hier kon die maatskaplike werkers hul kennis en vaardighede opskerp en uitbrei.

Die wenners van 2022 se #Hoopdraer-toekennings het indrukwekkende prestasies op hul kerfstokke.

Maatskaplike werkers van die Oos-Kaap, Gauteng, die Wes-Kaap, die Noord-Kaap, die Vrystaat, Mpumalanga en die Suid-Kaap het in die kollig gekom en hul harde werk en toewyding in hulle gemeenskappe is gevier.

Solidariteit Helpende Hand meen die groep wenners dien as bakens van hoop in hul gemeenskappe en hul hande staan vir niks verkeerd nie.

Andri Smith is as #Hoopdraer in die Oos-Kaap aangewys. Sy werk al vir 35 jaar as maatskaplike werker en het haar oor straatkinders ontferm. Sy het ook vinnig aan die werk gespring tydens die grendeltydperk met ʼn sopkombuis en skuiling vir die weerloses wat hulself op straat bevind het.

Izanda Ferreira se werk by die President Kruger Kinderhuis in Pretoria is vereer, en sy word deur die kinders as ʼn ystervrou beskryf.

Marlene Walkden van die Oos-Rand en Marcel van Dyk van die Wes-Kaap se harte klop warm vir die versorging van bejaardes. Walkden is by die Suikerbos-aftreeoord werksaam waar sy na 500 bejaardes omsien. Van Dyk het ʼn holistiese benadering om na weerlose bejaardes op straat om te sien.

Dr. Estie Groenewald het ‘n eretoekenning ontvang (foto: verskaf)

Dr. Estie Groenewald van die Vrystaat en dr. Hannie Schoeman van die Suid-Kaap het eretoekennings ontvang.

Groenewald het haar loopbaan in 1971 begin en het in 1992 ʼn meestersgraad en in 1996 ʼn doktorsgraad in maatskaplikewerksupervisie en ‑bestuur verwerf.

Sy het in haar loopbaan meer as 4 000 maatskaplike werkers opgelei.

Schoeman het ʼn eretoekenning ontvang vir haar buitengewone bydrae tot die maatskaplike beroep, spesifiek in die veld van spelterapie.

Sy is in die VSA en Kanada opgelei en is die stigter van die Sentrum vir Spelterapie en Opleiding waar sy die afgelope 30 jaar by die opleiding van spelterapeute in Suid-Afrika betrokke is.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling, is beïndruk met die eerste ontvangers van die toekennings.

“Maatskaplike werkers is belangrik want hulle tree op as veranderingsagente in die gemeenskap. Hulle tree op as beïnvloeders en fasiliteerders tussen die gemeenskap en netwerkdienste, en as dit moet, tree hulle op as vegters vir menseregte. Hulle is die beskermhere van die samelewing se hart en verdien om raakgesien te word,” het Hermann gesê.

  • Vir meer inligting oor Solidariteit se beroepsgildes, besoek die

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.