Maatskaplike werkers word vereer

(Foto: Andrew Moca/ Unsplash)

Mense word aangemoedig om die maatskaplike werkers in hul lewe te benoem om die kans te staan om ’n indrukwekkende #Hoopdraer-toekenning in die sak te steek.

Maatskaplike werkers se harde werk is binnekort in die kollig deur dié toekennings wat deur Helpende Hand en Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde van stapel gestuur is.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgildes, het verduidelik dat die toekennings beoog om erkenning te gee aan maatskaplike werkers wat ’n onblusbare passie vir hul werk het en ondanks moeilike omstandighede die fakkel van hoop in hul gemeenskappe bly dra.

“Maatskaplike werkers is steunpilare en hoopskeppers in ons gemeenskappe. Hulle moet mense deur die swaarste en donkerste tye bystaan. Ten spyte van baie mense se wanpersepsies van wat maatskaplike werkers doen, voer hulle hierdie roepingstaak van hulle met deernis en passie uit, want hulle is gebore om ’n verskil te maak. Hulle kry selde die erkenning wat hulle verdien.”

Solidariteit Helpende Hand wil vanjaar ʼn reeks werkwinkels landwyd aanbied.

Die “Wil om te help-werkwinkels” sal gepaard gaan met ʼn #Hoopdraer wat in elke streek aangewys sal word.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling, beskryf die werkwinkel as ’n bederf-oggend vir maatskaplike werkers terwyl hulle terselfdertyd die geleentheid gaan kry om te netwerk, asook hulle kennis en vaardighede uit te brei.

Besoek Helpendehand.co.za/wilomtehelp vir meer inligting oor die werkwinkels of om ’n maatskaplike werker vir die #Hoopdraer-toekennings te benoem. Maatskaplike werkers kan tot 1 Maart 2022 benoem word. Benoemings is gratis, die getal inskrywings en benoemings per persoon is onbeperk. Benoemdes moet by die Raad van Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP) geregistreer wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.