Man klim Tafelberg 365 keer uit vir liefdadigheid

Andrew Patterson het dieselfde foto 365 keer geneem om te wys dat hy bo-op Tafelberg was. (Foto: Verskaf)

Andrew Patterson het dieselfde foto 365 keer geneem om te wys dat hy bo-op Tafelberg was. (Foto: Verskaf)

Andrew Patterson, ʼn 39-jarige man van Seepunt, Kaapstad, het een middag nadat hy by sy heeltydse werk afgelê is, met die idee opgekom om in 2018 elke dag van die jaar Tafelberg uit te klim in ʼn poging om geld in te samel vir minderbevoorregtes.

Dié geld gaan aan drie verskillende niewinsgewende organisasies: Habitat for Humanity, One Heart for Kids en The Sunflower Fund.

“Ek het baie van die idee gehou omdat ek geweet het dit sou mense se aandag trek omdat dit so ekstreem is. Dit sou ook lig werp op hoe ons as gemeenskap saam ʼn impak op ander se lewens kan maak. Dit het vir my na ʼn beter vooruitsig gelyk as om net hopeloos en oorweldig te voel deur die benarde situasie in ons land.”

Patterson, wat al agt jaar lank bergklim as stokperdjie, het alle weerstoestande trotseer en in son, wind, reën en yskoue temperature elke dag die berg van onder tot bo uitgeklim.

“Ek het elke dag van Tafelbergpad af tot heel bo geklim. Ek het dieselfde foto 365 keer geneem om te wys dat ek elke dag daar bo was,” vertel hy. Volgens Patterson is dit gelykstaande aan 2429 km, 262 km se vertikale klim heel jaar, of om berg Everest 71 keer uit te klim.

Andrew Patterson is 'n ervare bergklimmer. (Foto: Facebook)

Andrew Patterson is ‘n ervare bergklimmer. (Foto: Facebook)

Hy wou graag Suid-Afrikaners inspireer om ʼn verskil te maak en hande te vat met hul medemens en op 31 Desember verlede jaar het hy die laaste stap geneem in dié jaar lange reis wat sowat 964 uur geneem het om te voltooi.

“Dit is moeilik om in ʼn paar woorde te beskryf wat die jaar vir my beteken het. Die hele ondervinding was soveel groter as wat ek ooit sou kon dink. Ek het geleer hoe om na my innerlike stem, intuïsie en gevoel te luister,” sê hy.

Patterson, wat ʼn heeltydse skrywer en motiveringspreker is, is deur die loop van die jaar deur 738 klimmers van Suid-Afrika en die buiteland vergesel, wat hom in sy saak ondersteun het.

“Die mense wat ek ontmoet het, die gesprekke wat ons gehad het op die berg en die entoesiasme waarmee mense die saak ondersteun, was ongelooflik. Dit wys jou net dat ʼn mens nooit ten volle die mag van ʼn idee kan begryp totdat jy dit sien blom nie,” voeg hy by.

“Ek het die hele jaar deurgemaak sonder ʼn besering en het net twee keer ʼn seer keel gehad, gelukkig niks wat stres op my hart geplaas het nie. So ek het geen verskoning gehad om nie te klim nie. Dit was moeilik om aan mense te verduidelik voor en na die tyd, maar ek het geweet ek gaan die ding wat ek begin het voltooi.

“Ek glo vas daarin dat ek dankbaarheid moet betoon vir alles wat ek het, naamlik my gesonde liggaam, bene wat werk en wat sterk genoeg is om elke dag te klim en vyf sintuie wat my in staat stel om die skoonheid van die klim elke dag te ervaar. Ek het dit voor elke klim uitgespreek en glo nie dat dit toevallig is dat ek heel jaar ongedeerd gebly het nie.”

Hoewel hy dit kon volhou om vir 365 dae elke dag te klim, was daar wel dae wat hy uiters uitgeput wakker geword het. “Dan het ek net aan die mense wat baat hieruit gedink en dan het ek opgestaan en na die berg toe gery en geklim soos ek onderneem het.”

Patterson gaan nie vanjaar op sy louere rus nie en beplan om sy aktivisme voort te sit. “Ek gaan vir vier maande in San Francisco in die VSA wees waar ek praatjies by skole gaan lewer en met maatskappye daar gaan gesels. Daar is ʼn groot kultuur van vrygewigheid. Ek beplan om hulle ʼn rede te gee waarom hulle meer Suid-Afrikaners wat in meer uitdagende omstandighede gebore word, moet help. Die afgelope jaar het ʼn fenomenale basis gelê om die momentum te behou om voort te bou in die gees van ubuntu.”

Andrew Patterson. (Foto: Facebook)

Andrew Patterson. (Foto: Facebook)

Altesaam R 359 583,64 is ingesamel deur die 365 Ubuntu Climbs-inisiatief, wat op die skarebefondsingsplatform BackaBuddy van stapel gestuur is, met donasies van 452 donateurs.

Die fondse het reeds gehelp om boeke te lewer aan drie van die Wes-Kaap se armste skole in Stellenbosch, Klapmuts en Kayamandi in samewerking met die One Heart for Kids-organisasie. Saam met Habitat for Humanity is tien gesinne wat in plakkershutte in Baphumelele, Kayelitsha, woon, se huise opgegradeer om vir hulle ʼn droeër, veiliger en warmer tuiste te skep.

Hy het ook gehelp om 30 nuwe skenkers op die register van die Sunflower Fund te voeg. Dié niewinsgewende organisasie spits hom daarop toe om stamselskenkers te werf teen bloedsiektes soos leukemie.

Patterson wil graag Suid-Afrikaners aanmoedig om die inisiatief te ondersteun, al klim hy nie meer nie. “Ek glo sterk daarin dat ons as individue, en nie die regering of groot maatskappye nie, die mag het om saam fenomenale veranderinge te weeg te bring.”

Volg die skakel om Patterson te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

En dit alles omdat hy sy voltydse werk verloor het! Wys mens net dat jou pad vorentoe oop is afhangende wat jy self daaromtrent gaan doen. Sou hy die rit af met die kabelspoor self moes betaal dan kan hy daadwerklik tegemoet gekom word finansieel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.