Markplein beïndruk antiekmark se uitstallers

Die nuwe markplein skep ’n gesellige atmosfeer vir markgangers. (Foto verskaf)

Die Voortrekkermonument se nuwe markplein het Donderdag gasheer gespeel vir 70 uitstallers van die monument se gewilde antiekmark.

Liora Subel stal al 30 jaar lank uit by soortgelyke markte en kon nie uitgepraat raak oor die nuwe mark se tuiste op die Voortrekkermonumentterrein nie.

“Ek gaan sommer vooruit betaal vir die hele jaar se markte. Ek is al drie dekades betrokke by marke en ek weet wanneer iets gaan werk, en die mark gaan werk waar hy nou is. Dit is pragtig met die monument in die agtergrond en almal waarmee ek praat, is baie positief. Ek sien uit na die toekoms van die mark,” het Liora gesê.

Willem Pretorius, nog ’n uitstaller wat ook al jare lank uitstal, is ook beïndruk met die nuwe markplein.

“Ons is gelukkig vandag; die son bak ons nie uit nie. Die hele markkonsep hier by die Voortrekkermonument gee goeie aandag aan die Voortrekkermonument en dit gaan groei, so ons is dankbaar om hier te wees,” het Willem op sy beurt gesê.

Markgangers het ook nie geskroom om hulle beursies uit te haal nie.

“Dit is baie lekker. Ons woon al vir die drie jaar die mark by en dit is lekker hier bo. Ons kon opgaan monument toe en ’n paar foto’s neem en bietjie daar gaan kyk,” sê Charmaign Uys, ʼn besoeker, gesê.

Die volgende familiemark is op 5 en 6 April, en nog ʼn antiekmark vind op 16 Junie plaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.